Egpaar kry saam-saam doktorsgraad

Vernon en Leigh Steyn. Foto: Inecke Photography Team

ʼn Paartjie met ʼn liefde vir insekte wat al sedert hul tweede jaar onafskeidbaar is, het ook nou hul doktorsgrade saam by die April-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Vernon en Leigh Steyn het albei navorsing gedoen oor maniere om spesifieke motpeste te beheer wat vir boere gryshare gee. Vernon het oor die valskodlingmot navorsing gedoen, terwyl Leigh op die Kaapse wingerdblaarmyner gefokus het.

Hul liefdesverhaal strek terug na die winter van 2011 toe albei in hul tweede jaar van die BSc-graad in die Fakulteit Agri-wetenskappe was. Vernon het ʼn paar dae se klasse gemis en was desperaat om uit te vind wat om vir ʼn geskeduleerde toets te leer.

“Ná klas het hierdie onbekende meisie my net spontaan en vriendelik begin help en inligting gegee, en dit was dit!” vertel Vernon. Hy’t nie gras onder sy voete laat groei nie, en hulle het binne ʼn paar weke begin uitgaan. Die paartjie se akademiese loopbaan loop sedertdien saam-saam en hulle is in Mei 2017 getroud.

‘n Valskodlingmot (Thaumatotibia leucotreta)

Vernon vertel dat dit ook danksy Leigh is dat hy ʼn liefde vir insekte ontwikkel het: “Wanneer ons in die veld of selfs net op straat loop, het sy die wonderlike vermoë om die kleinste insek raak te sien en dit dan vir ʼn mens uit te wys.”

Albei beskryf die klasse wat hulle in die vierde jaar van hul kursus by die bekende insekkundige prof. Henk Geertsema gehad het as waterskeidingsoomblikke in hul ontwikkeling as navorsers.

“Ons het behoorlik aan sy lippe gehang, en besef presies hoe interessant en belangrik die wêreld van insekte is,” onthou Leigh.

Albei het daarna hul MSc-studie oor landboupeste aangepak – Vernon oor die Mediterreense vrugtevlieg en Leigh oor die Kaapse wingerdblaarmyner. Dié insek was ook die onderwerp van Leigh se verdere doktorale studie.

Kaapse wingerdblaarmyner (Holocacista capensis)

Op onderskeidelik 28 en 27 is Vernon en Leigh die eerstes uit hul aanvanklike eerstejaarsgroep om hul doktorale studie te voltooi. Albei is sterstudente wat gedurende hul studie verskeie toekennings vir hul akademiese prestasies ontvang het. Leigh het byvoorbeeld verlede jaar tydens die Europese entomologiese kongres in Italië ʼn toekenning ontvang vir haar studente-plakkaat.

Leigh, ʼn nooi Torrance wat in 2009 aan Rhenish Girls’ High School op Stellenbosch gematrikuleer het, is nie net passievol oor die omgewing nie, maar het ook al gevorderde ballet-eksamens geslaag. Benewens insekte hou sy ook van visvang aan die Wildekus, slange en reptiele, diereregte en om indringerplante uit te kap. Sy is al jare lank saam met haar ouers deel van die Friends of Stellenbosch Mountain, ʼn groep wat hulle daarvoor beywer om indringerplante op Stellenboschberg uit te roei.

Deur haar betrokkenheid het Vernon ook deel van die groep geword, en is sedert 2018 die voorsitter daarvan. Hy is oorspronklik van Vereeniging en het in 2008 aan Hoërskool Vereeniging gematrikuleer. Hy het vanjaar vir die Kaapse tak van Insect Science in Tzaneen begin werk as ʼn senior veldwetenskaplike en fokus op die ontwikkeling van omgewingsvriendelike metodes soos paringsontwrigting om verskeie landboupeste te beheer.

  • Hierdie artikel is geskryf en saamgestel deur Engela Duvenage van die korporatiewe afdeling van die Universiteit Stellenbosch.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

liefie ·

Ek het Leigh in 2010 ontmoet en dadelik gesien sy gaan ver vorder in die lewe. Baie geluk Leigh!

Rooikop ·

Wel gedaan. Hulle troetelnaam vír mekaar is seker gogga.

Netso ·

Oulike kommentaar, Rooikop. En geluk aan hierdie pragtige 2 jongmense. Voorspoed met julle navorsing voorentoe.

April th Fool ·

Na al die gemors en geweld is die storie amper onvanpas!
Baie geluk julle twee

Alida ·

Dit wil voorwaar gedoen wees. Baie geluk. Ek wonder altyd waaroor gesels twee mense met dieselfde belangstellings en op watter vlak kommunikeer hulle. Sal grag wil weet.

koos ·

net jammer hulle is wit, so hulle gaan nie werk kry met hulle doktorsgrade nie. Ek het my BA, BA Honneurs AFGEHAAL van my CV af, net om weer ordentlike werk te kry. Toe ek sien ras en kwalifikasies tel teen my, het ek besef ek moet verander waaraan ek wel kan verander. Anders was ek seker nog steeds werkloos.
So let wel, kwalifikasies weglieg help ook om werk te kry; nie net om dit by te lieg nie.

Schalk ·

Skitterend ek is seker julle het jul tyd reg aangewend by die tersiere inrigting wat jul studeer.Veels geluk julle maak ons trots hoop ander mense word gemotiveer dat sukses kom as mens doen wat jy moet doen by leer instansie.Dat hierdie instellings nie daar is om mense te leer dans en vuur te maak nie.Daai twee klasse is vir mense in die bos.Soos bv wanneer ek toer in Boswana.Ek dans saam met julle sëenwense goeie berig Maroela voel sommer goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.