Egpaar met byl aangeval op Noordwes-plaas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Egpaar in hul 50’s is ernstig beseer nadat hulle op hul plaas in die Mabeskraal-omgewing in Noordwes met ʼn byl aangeval is.

Die egpaar, wat versoek het om anoniem te bly uit vrees vir hul veiligheid, word tans in ʼn hospitaal in Pretoria behandel. Die egpaar se 34-jarige seun het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy ouers het albei ernstige wonde aan die kop en gesig opgedoen en sal albei rekonstruktiewe chirurgie benodig.

Volgens die seun het twee verdagtes sy ouers by die huis ingewag toe hulle Vrydag omstreeks 18:00 van die werk af gekom het. Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur ʼn veiligheidshek oop te breek. Die egpaar besit ʼn drankwinkel in die omgewing en woon al die afgelope vier jaar op die plaas.

“Die mans het my pa-hulle erg met ʼn byl aangerand en basies vir dood agterlaat. My ma kon daarin slaag om hulp te gaan soek by mense wat op die plaas werk en hulle het ʼn ambulans gebel,” het die seun gesê. “Sover ons kan agterkom, is daar geld, vuurwapens en ʼn bakkie gesteel.”

Volgens die seun is die bakkie intussen opgespoor, maar geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. “Ons is redelik seker die rede vir die aanval was om my ma-hulle te vermoor, nie om te steel nie. Daarom wil ons nie hê hul name moet bekendgemaak word nie, want as hierdie ouens in die media sien hulle leef nog, kan hulle dalk terugkom.” Die egpaar het nie hul aanvallers geken nie.

Die seun het gesê die familie is tevrede met die polisieondersoek, maar fokus nou op hul ouers se gesondheid. “My pa kan nie eintlik die aanval onthou nie, maar my ma kan dit goed onthou. [Toe ons van die aanval hoor] het ons die ergste verwag. Nou moet my ouers eers net gesond word voor ons besluit oor die toekoms.”

Sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik die aanval bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Griki ·

Hoe ironies. Hulle wil nie die name noem nie, maar stel inligting vry wat die misdadigers definitief sal herken as hulle slagoffers. Dis mos nou sinneloos.

SNEL ·

Baie bly vir julle dat julle ouers nog lewe. Baie sterkte aan julle almal.

mariki steenkamp ·

Is dit swart of wit misdadigers?Die familie in die Wes Kaap,wat met n byl vermoor is,was deur hul seun gekap.Dit pla my dat daar nog niks in die media was nie.

Janine du Plessis ·

Nog ‘n sinnelose aanval op mense deur “mense” wat mekaar nie eens ken nie! Ons is dankbaar dat die egpaar oorleef het, maar bekommerd oor die sersant wat ook nie die aanval kan onthou nie! Hoe gaan die soektog vorder sonder daai geheue?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.