Egpaar met piksteel op Vrystaat-plaas aangeval

Argieffoto

Argieffoto

“Ek het by die kragprop in die badkamer gebuk om te kyk of daar enige krag is, toe ek ʼn beweging uit die hoek van my oog vang. Hy het daar gestaan met ʼn piksteel in sy hand. En toe slaan hy my.”

Só vertel Paul Coetzer (57) van die skrikwekkende aanval op hom en sy vrou Sondag op hul plaas Diephoek in die Glen-omgewing buite Bloemfontein.

Paul en sy vrou, Magda (44), het die middag met die honde gaan stap en die huis agter hulle gesluit. Toe hulle terugkom, is Paul kamer toe om televisie te kyk, maar die kragprop in die kamer wou nie werk nie. “Ons het ʼn klein verwarmertjie in die badkamer en ek het soontoe gestap om te kyk of daar enige krag is.”

Twee aanvallers het hom in die badkamer ingewag. Paul het vertel een van die aanvallers het ʼn balaklawa oor sy gesig gehad en die ander was met ʼn piksteel gewapen. “Die eerste hou het my bokant my regteroor getref en ek het dadelik geval. In die proses het ek die tafeltjie bo-op my omgetrek,” het hy gesê. “Hy het aanhou slaan, maar ek kon darem die meeste van die houe met die tafeltjie keer.”

Paul het vir Magda geskree om uit die huis te kom en die polisie te bel. Die twee aanvallers het in die gang af gehardloop in die kombuis se rigting en Magda het uit die huis gevlug toe sy hulle sien aankom. Een van die aanvallers het haar agternagesit terwyl Paul die tweede een in die opwaskamer vasgekeer het.

“Ek het hom op die grond vasgedruk gekry en hy het vir die ander een in Sotho geskree om hom te kom help. Ek was bang hy slaan my weer met die piksteel en ek het hom laat gaan,” het hy gesê. Toe hy buite kom, was die ander aanvaller besig om Magda op die grond te wurg. Hy het haar ook met ʼn pyp geslaan. Die honde het erg geblaf en van agter na die aanvaller gehap. Toe Paul uit die huis gehardloop kom, het die rowers op die vlug geslaan.

“Hulle het op die ou einde net twee selfone gesteel, maar ek vermoed dat hulle met ʼn sleutel in die huis in gekom het,” het Paul gesê. “Daar was geen tekens van ʼn inbraak nie en ons het die huis beslis agter ons gesluit.” Paul moes steke aan sy kopwonde kry, terwyl Magda erge kneusplekke veral om haar nek opgedoen het.

Volgens Paul is hy en Marga albei erg getraumatiseerd ná die voorval en sal hulle beslis berading ontvang. “Dit was so besig na die aanval met die polisieondersoek en die hospitaal en alles, maar nou dat dit rustig is, vang die trauma ons eers regtig,” het hy gesê.

Sers. Ian Gaobepe, woordvoerder van die polisie, het die aanval aan Maroela Media bevestig en gesê geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

anet ·

Paul en Marga, ek is dankbaar dat julle die aanval oorleef het. Sterkte vorentoe aan julle albei.
Ek verstaan dat ‘n Pitboel wat in die huis saam met jou is, ‘n baie gevaarlike opponent is vir die lafhartige aanvallers. Hulle is nie mans genoeg om een een te kom nie, nee daar moet altyd meer as een wees. Ek wens julle ‘n spoedige herstel toe

ronel ·

So bly julle is veilig en niks erg het gebeur nie..Ek wonder of al hierdie aanvallers en plaas moordenaars besef hulle besig is om kos uit hulle eie monde te vat..

Jakoba ·

As hulle met n sleutel in die huis gekom het, waar en hoe het hulle dit gekry? As julle n huishulp het of gehad het dan het sy mos vir hulle die sleutel gegee . Baie boere gaan weg maar los n sleutel met die huishulp om skoon te maak, n baie baie groot fout.

Dave ·

Tensy dit ‘n Y-sleutel is. Of een van ‘n ander fabrikaat waarvan bloot ‘n reeks gekoop kan word by ‘n hardewarewinkel.

Peet Schabort ·

Sterkte aan julle.
Ek sien dit is Magda of Marga vir haar naam.
Die elektrisiteitsprop en verwarmer in die badkamer is net so gevaarlik.

sarie van heerden ·

Ek lewer nooit rassistiese kommentaar of swak taal nie maar nog altyd word my kommentaar verwerp. So ook sien ek dieselfde klagte van ander mense.

Francie ·

Hoe is dit dan dat die honde julle nie beter beskerm het nie? Ek is baie jammer dat julle sulke trauma moes beleef, dit kan met enige een van ons gebeur. Ek hoop julle herstel na liggaam en gees, en kom sterker anderkant uit. Het julle Dawie Roodt se reaksie op hulle aanval onlangs gelees? Dis die gesindheid wat inspirer en wat ons ons eie kan maak.

Peet J ·

Maroela om welke rede het julle my kommentaar verwyder verwag julle ‘n mens moet sulke kriminele dade onder die mat in vee?

Peet J ·

Maroela om welke rede het julle my kommentaar verwyder verwag julle ‘n mens moet sulke kriminele dade onder die mat in vee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.