Egpaar naby Ladybrand op plaas aangeval

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

ʼn Egpaar is Woensdagnag in ʼn ernstige dog stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem nadat hulle op hul plaas in die Ladybrand-omgewing in die Vrystaat aangeval is.

Die egpaar het volgens die polisie albei beserings aan hul kop en arms opgedoen voordat die aanvallers in die egpaar se bakkie en met 11 vuurwapens op die vlug geslaan het.

Die aanvallers was teen Donderdag steeds soek.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die egpaar, onderskeidelik 65 en 66 jaar oud, het omstreeks 23:30 in die sitkamer gesit toe hulle ʼn geluid in die kombuis hoor.

Vier aanvallers het die veiligheidshek oopgedwing en die plaashuis binnegekom. Een van die aanvallers het die man met ʼn voorwerp oor die kop geslaan.

Volgens Kareli was die aanvallers met ʼn koevoet gewapen. Die egpaar is met lakens vasgebind en geblinddoek.

Die aanvallers het in ʼn stadium op die kluis se sleutels aangedring en eindelik 11 vuurwapens, waaronder haelgewere en ʼn rewolwer, uit die kluis gesteel voordat hulle met die vuurwapens en ander huishoudelike items in ’n wit Mahindra-enkelkajuitbakkie gevlug het.

Die bakkie se registrasienommer is HXL158 FS.

Die Vrystaatse polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad soek tans in samewerking met die polisie op Ladybrand na die aanvallers. Enigiemand met inligting omtrent die voorval word versoek om kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

11 Vuurwapens maar nie een van hulle is op die eienaar sodat hy dit kon gebruik om sy lewe te beskerm nie?

Ek is baie bly hulle lewe nog, maar maggies, jou vuurwapen maar aan jou wees!

Philip ·

Wapens wat in ‘n kluis le beteken niks, hoekom dit vir die aanvallers so maklik maak?

LIEZL ·

Wapens moet in ‘n kluis wees, huis moet ‘toegespyker’ wees. Dan kan jy al weet as hulle buite is en kan jy gou gou by die kluis uitkom. Lyk my nie in die geval nie, maar nou ja.

Papsak ·

Ja sterkte hulle lewe maar daai vuurwapens moet ver gebere wees vir sulke voorvalle nou word ander daarmee geskiet sowaar ek skiet maak met my net wat julle wil sal my beskerm hoekom nie ons gaan val hulle nie aan en maak seer en vat hulle goed nie klaar ????????

Michael ·

Elf vuurwapens en jy word oorval en pak slae gegee sonder dat een aanvaller ten minste geword is nie hoe??

Onnie ·

Hoekom is dit so maklik om veiligheidshekke oop te breek? Dan is hierdie hekke mos van geen nut nie? Iemand sal sterker hekke moet maak spesifiek vir SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.