Egpaar, nog twee vas vir korrupsie van R57 miljoen

Foto ter illustrasie

Vier mense van KwaZulu-Natal, onder wie ʼn middeljarige egpaar, het Donderdag vlugtig in Durban se handelshof verskyn op aanklagte van korrupsie en geldwassery.

Die egpaar, David (55) en Beverly Brandsma (52), asook Frederick Hume (45) en Jeffery Knight (54) is dieselfde oggend deur die Valke in hegtenis geneem ná ʼn twee jaar lange ondersoek, sê kapt. Lloyd Ramovha, Valke-woordvoerder.

Na bewering het die Brandsmas met Hume en Knight saamgewerk in drie entiteite – To Be Sales 5 BK, Hume Meats (Edms.) Bpk. en Transtrade (Edms.) Bpk. – wat gekontrakteer is om bevrore goedere aan Boxer Superstores te lewer. In die ses jaar van 2011 tot 2017 het die vier na bewering amper R57 miljoen verduister.

David Brandsma was in dié tyd ʼn werknemer van Boxer Superstores en het glo sy vrou, ʼn direkteur van To Be Sales 5 BK, gehelp om die produkte teen oordrewe pryse by die ander twee firmas te bekom en toe gereël dat “kommissie” in sy bankrekening betaal word.

Dié reëling om smeergeld te kry het aangehou tot die maatskappy se eie ouditeurs ongerymdhede in een van die transaksies raakgesien het, sê Ramovha.

In Augustus 2017 is ʼn klagte van bedrog by die Westville-polisiestasie ingedien. Terwyl die ondersoek aan die gang was, het die ondersoekspan ʼn tussentydse bewaringsbevel van R20 miljoen bekom.

Al vier die verdagtes is borgtog toegestaan tydens hul vlugtige hofverskyning. Die Brandmas het borgtog van R50 000 elk gekry, terwyl Hume en Knight sʼn op R75 000 elk vasgestel is.

Die saak is tot 26 Augustus vir ʼn voorverhoor uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

Sowaar sonder n kommissie van ondersoek. Hulle is seker nie ANC hooggeplaasdes nie.

Gert van Wierdapark ·

Die borgtog geld is seker uit hul kleinsakkie betaal! Kom 26 Augustus dan daag hul bloot net nie op nie – skuus edelagbare, maar die beskuldigdes is nie hier nie?!

An ·

Seker nie so belangrik maar ter inligting: ‘n beslote korporasie (BK)k het nie direkteure nie dit het lede. Sy vrou was dus ‘n lid van die BK. ‘n Maatskappy ((Edms) Bpk) het direkteure.

Nettie ·

Ai, dís nou ‘n mooi (nuwe) naam vir verduisterde geld: SMEERGELD. Hoe leer ek dan nou nie hier op byna 50 ook ‘n nuwe woord aan nie! Pragtig, Maroela – ek weet nie of dit julle skepping is nie, maar dit is SO raak en beskrywend!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.