Egpaar ongedeerd ná plaasroof

Argieffoto: Kent Williamson

Vier gewapende mans het ʼn egpaar Donderdagaand op ʼn plaas naby Port Elizabeth van elektroniese toerusting en ʼn onbekende bedrag kontant beroof.

Kapt. Gerda Swart, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die onbekende mans, wat met balaklawas vermom was en met vuurwapens en messe gewapen was, het die opstal op die plaas Devonia in die Thornhill-omgewing na bewering omstreeks 22:00 deur ʼn venster binnegekom.

“Hulle het die egpaar aangehou terwyl hulle die huis deursoek het,” sê Swart. “Nadat die vier mans op die vlug geslaan het, kon die egpaar dit regkry om hulself los te wikkel. Hulle het die voorval by die polisiekantoor kom aanmeld.”

Sy sê die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak. “Die twee het geen beserings tydens die voorval opgedoen nie.”

Die polisie in die Oos-Kaap sê misdaadbestryding is “ʼn gedeelde verantwoordelikheid; daarom maan ons huiseienaars om paraat en bewus te wees van hul omgewing en nooit enige deur of venster oop of ongesluit te laat nie”.

Swart vra enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help moet Thornhill se polisiekantoor by 042 286 6200 of Stop Misdaad by 0860 10111 bel.

Thornhill is ʼn nedersetting in die Kouga-munisipaliteit, sowat 45 km wes van Port Elizabeth en 30 km oos van Jeffreysbaai aan die N2- nasionale pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zack ·

Maroela julle spel verkeerd.
Plaasroof spel jy “gewapende plaas aanval”

MS ·

Geen twyfel dat God se hand van beskerming oor julle was nie! God is groot. So bly julle is ongedeerd.

Onbekende ·

Onbekende bedrag julle stel julle bure bloot aan gevaar om BAIE geld in julle huise te hê. Asb hou op daarmee.

Domvraag ·

Is daar diefwering? Is daar n alarmstelsel? Is daar n veiligheidshek by die kamer of in die gang? Is daar n klein brakkie in die huis wat alarm kan maak?
Ek verstaan daar is nog baie van ons boere wat glad nie veiligheidsbewus of paraat is nie? Wil obs dan nie leer nie?

Elsa ·

Dankie Vader dat een gesin hierdie keer gelukkig was en nie ook vermoor is soos baie ander nie. Al was hierdie rowers gewapen, lyk dit darem asof hulle nie so wreedaardig en hatig was om hul slagoffers te martel of dood te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.