Egpaar, oorsese gas in plaashuis oorval

(Argieffoto: Maroela Media)

’n Egpaar van die Oos-Kaap is ongedeerd nadat hulle Woensdagaand in hul huis op ’n plaas tussen Alicedale en Paterson deur vyf gewapende aanvallers oorval en beroof is.

Die egpaar het ten tyde van die aanval ’n Amerikaanse gas, wat op die plaas gejag het, gehuisves en dié het vreesbevange en kaalvoet na ’n nabygeleë natuurreservaat gevlug en daar gaan wegkruip.

Erica Fox, tot onlangs nog ’n polisiebeampte, vertel aan Maroela Media dat sy en haar man, Andri, net ná 19:00 gesit en televisie kyk het toe hul Jack Russell met ’n spoed by die vertrek inhardloop en histeries begin geblaf het.

Die Amerikaanse gas was in dié stadium in ’n ander vertrek besig met ’n oproep.

Die egpaar het omgedraai om te kyk waarom die hond so blaf en vyf gewapende aanvallers in hul huis sien staan. Twee van die aanvallers het vuurwapens by hulle gehad en die ander drie was met messe gewapen. Die verdagtes het gesigsmaskers aangehad.

“My man het dadelik met hulle in Xhosa begin praat. Twee van hulle het bly Engels praat en ek kon aan hulle aksent en gelaatskleur agterkom dat hulle buitelanders is.”

Een van die verdagtes het na Erica (48) gegaan en aangedui dat sy saam met hom moet gaan en haar aan haar bo-arm na die vertrek in die huis waar die kluis gehou word, begelei.

Andri (49) se hande is in dié stadium met een van die honde se leibande voor hom vasgebind en hy is aangesê om op die grond te lê.

Een van die egpaar se ander honde was saam met Erica en het vreeslik te kere gegaan. Dit het gelyk of die verdagte oorweeg om die hond leed aan te doen en Erica het gevra of sy eers die hond in die slaapkamer kan gaan toemaak. Die verdagte het ingestem.

Hulle is vandaar na die slaapkamer en toe na die vertrek met die kluis. Daar gekom het nog twee verdagtes by hulle aangesluit en een het aanhoudend in Engels gevra waar die 9 mm-pistool en kontant is.

“Ek het in die hoek gaan staan en weggekyk sodat hulle weet dat ek rustig is en saamwerk. Ek het gehoor dat hulle doenig is in die kluis. Die een [verdagte] wou weer weet waar die kontant is. Ek het gesê ons hou nie kontant aan nie, maar hulle vertel van ’n boksie in die kluis met ’n paar Amerikaanse dollar.”

Die verdagtes het vier vuurwapens waaronder twee haelgewere en die dollarnote uit die kluis gesteel. Hulle het toe op juweliersware aangedring. Erica het aangedui dat haar juwele in die slaapkamer is waar die hond toegemaak is. Hulle is na die slaapkamer en toe later weer terug na die vertrek met die kluis.

Die verdagtes het later vir Andri ook na die vertrek gebring.

“Hulle het gesê ons moet weg van hulle af kniel. Ons het dit gedoen en ek het hardop begin bid. Ons het gewag om uit te vind of hulle ons gaan skiet.

“Ek het net gesê: Here, asseblief laat dit nie ons laaste dag op aarde wees nie.”

Terwyl hulle weggekyk het, het hulle die deur hoor klap en toe gesluit word.

Die egpaar het dadelik opgespring en besluit om ’n paar oomblikke te wag. Hulle het in dié stadium nie geweet waar hul Amerikaanse gas is nie.

Andri het later die deur afgeskop en die paar het hulp ontbied. Hulle het na die Amerikaner geroep maar hy was skoonveld. “Ons grootste bekommernis was oor waar ons [gas] was.”

Hy is later op die naburige natuurreservaat gevind waar hy weggekruip het.

Erica sê die voorval het maar sowat 15 minute geduur.

Volgens haar was die aanvallers duidelik uitgeslape en baie kalm. “Ons het elektriese omheining en diefwering en vier honde. As hulle wil inkom, kom hulle in.”

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Die polisie het intussen ’n taakspan ontplooi om die verdagtes op te spoor. Niemand is tot dusver al in hegtenis geneem nie.

Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het gesê die vinnige inhegtenisneming van die verdagtes is van die uiterste belang om te verhoed dat hulle ander lede van die gemeenskap “terroriseer”.

Die VF Plus het op sy beurt gesê die ANC-regering moet ophou om hom blind te staar teen misdaad in landelike gemeenskappe en sy grondwetlike plig nakom om al sy inwoners te beskerm en veral meer aandag te skenk aan die beveiliging van landelike gemeenskappe.

“Die stryd wat Suid-Afrika se landbougemeenskap teen natuurlike elemente voer, is reeds ʼn wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om ʼn oorlewingstryd teen misdaad óók te voer nie,” sê Piet Mey, VF Plus-LP en dié party se provinsiale leier in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Genis ·

Hoop die Amerikaner blaker dit uit… Dat die blindes kan sien wat hier aangaan… Liberaliste veral…

Frank ·

Presies Lourens, iemand wat nie WIL sien nie, SAL nie sien nie.

Werner ·

Amerikaner moet net na ou Cyril toe gaan.Dat die vir hom kan vertel daar bestaan nie aanvalle in SA nie dan voel hy sommer baie beter

Stephen ·

Hou maar jou twee beste vriende te alle tye aan jou sy. Smith & Wesson.

Lourens CFG ·

Klink asof hulle volle intel. gekry het.
Vind uit by huiswerker wie hom/haar “gepols” het vir informasie.

Deon ·

As honde en n elektriese heining nie help nie gaan enige toe deur ook nie help nie… Dit is tyd dat ons begin besef ons het n grondwetlike reg om in n veilige land te bly.. Dit is nie die slagoffer se skuld nie… Ons is nie veronderstel om onsself soos kriminele toe te sluit nie

Cherokee ·

re:
Amerikaanse gas, wat op die plaas gejag het, gehuisves en dié het vreesbevange en kaalvoet na ’n nabygeleë natuurreservaat gevlug en daar gaan wegkruip.

Askies, maar instinktief gedink aan die diere wat vreesbevange en kaalvoet in die reservaat vlug wanneer gejag word, en dan gaan wegkruip.

Die rowers het seker gehoop op internasionale media dekking.

Oujongvrou ·

Kry n alarm stelsel.wat nie die diere optel nie. Sit nog n paar alarm by die stelsel. 2 keer hier by ons probeer om die werf te betree, die helse lawaai was genoeg om die dode te wek en die boosheid het gevlug. Een het aan die penne bo op die hek vasgesit en het soos n geslagte skaap gebloei. Ons sal skiet as hulle naby die huis kom. Ou mense kan hulself nie beskerm teen 5 en meer nie.

Hilda ·

Reg, laat ek nou mooi verstaan na ek die berig gelees het.. hulle gesigte was bedek, en het die dame direk na vertrek geneem waar kluis is, en gevra vir spesifieke vuurwapen❓Hel, selfs ek wat onnooslik is kan mos rot ruik hier❗ Ondervra die huiswerker❗

Kokerboom ·

Dankie aan die veragtelike ANC regime bestuur en hul oopgrensbeleid

Mariana ·

Die aanvallers het besonder baie inlgting gehad oor als in die kluis, soos die pistool en geld. En klein boksie met dollars. Hoe het hulle geweet? Klink of hulle inligting gekry het. Maklik oorval en geroof. Dankie tog dat hulle oorleef het. Jip inside job

Buks ·

Hulle kan begin soek by die verdagte wat elke dag hulle skottelgoed en wasgoed was wat vir hulle gesê het waar is die kluis ook wat is in die kluis en van die juwele en die boksie met dollar note in.

Anel ·

Nou hiekom is die 72 uur plan nie hier ook in werking gestel nie? Wonder maar net.

Foefie ·

Arme Amerikaner. Hulle KYK net movies van die Wilde Weste…. en toe kom beleef hy dit hier eerstehands.

Baie dankbaar almal is uitgespaar. Dankie Here.

david ·

Vir diegene wat dink die AMERIKANER gaan enigsins aandag kry by die siek Amerikaanse media….vergeet daarvan.
Kan ek net iets vertel van Amerikaanse regerings moraliteit .? Diegene wat nog onthou van die 2 Viscount pasassiers vliegtuie van Rhodesie wat deur Nkomeo se se terroriste afgeskiet is—die eerste een wat afgeskiet was, het darem ‘n paar oorlewendes gehad. Sommiges het die bosse in gevlug, Die ander is by die vliegtuig koelbloedig vermoor.
Onder die oorlewendes was ‘n mnr en mev Hansen. Toe die twee na die VSA wou gaan om hierdie growwe oorlogsmisdaad aan die Yanks te gaan vertel. is hulle toegang in die VSA geweier–omdat een van die twee, nie ‘n Amerikaanse visa gehad het nie, .!
Dus kon die buitewereld nie ingelig word oor die misdadige terroriste van Nkomo , Mugabe en ander nie.
Soveel vir Amerikaanse moraliteit…

LIEZL ·

Lyk my die skurke het meer geweet wat in die kluis aangaan as enigiemand anders. En wat kan hul in elk geval met die dolkars maak? Baie vreemd

Johan ·

My praktiese raad aan toeriste is om nie retoer kaartjies te koop nie,,,

Anton ·

As hulle nie maskers gedra het nie was die polisie binne minute daar

Amanda ·

Hoe het die rowers geweet wat alles in die kluis was? Inside information? Hulle MOES daardie kluis oop gemaak het terwyl iemand saam in die kamer was. Die oorsee Amerikaanse gas? Dollars?Ek ruik n rot. Dog net ek sê.

Regverdigheid ·

Bly julle lewe nog ….. wens regtig hul wil iets doen arme boere word vermoor en geroof sosos verkeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.