Egpaar op kleinhoewe aangeval ná honde vergiftig is

Wessel Kriek. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: ’n Foto in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Twee bejaardes van Daniëlskuil in die Nood-Kaap verkeer nog in skok nadat vyf jong mans hulle Saterdagaand op hul kleinhoewe buite die dorp aangeval het.

Wessel (73) en Valerie (72) Kriek se oudste dogter, Mariaan van Zyl, sê die vyf mans in hul 20’s het haar pa omstreeks 18:00 in die snoepwinkel op die kleinhoewe oorval.

“My pa het uitgegaan om mense in die snoepie te bedien nadat die vrou wat die plot langsaan huur, gebel het om te vra hy moet vir hulle oopsluit,” vertel Van Zyl.

Sy sê hulle het hom rondgepluk en toe gesleep na die kombuis in haar ouerhuis, waar haar ma besig was om kos te maak. “Hulle het my ma gegryp en op die grond neergegooi, terwyl die ander aanvallers ʼn mes teen my pa se keel gehou het, nog ʼn mes teen sy kop asook ʼn rewolwer teen sy rug.

Kriek het onder meer beserings aan sy hande opgedoen. Foto: Verskaf

“My ma het gesmeek dat hulle versigtig moet wees omdat sy rugprobleme het. Hulle het haar toe aan haar arms kamer toe gesleep, waar hulle haar en my pa op die bed met kabels vasgebind het.”

Van Zyl sê die vyf mans het daarna haar ouers se huis gestroop. Hulle het onder meer selfone, haar ma se diamantringe en haar skootrekenaar gevat terwyl haar ouers vreesbevange in hul slaapkamer vasgebind was.

Haar ma het in ʼn stadium vir water gevra omdat sy baie dors was. Een van die aanvallers het toe vir haar ʼn glas water gebring.

Die vyf mans, wat Van Zyl sê aan haar ouers bekend is omdat hulle gereeld by die snoepie gekom het, het omstreeks 19:00 in haar ouers se motor op die vlug geslaan. Dit is later gekry op Kuruman, sowat 85 km noord van Daniëlskuil.

Van Zyl sê haar ouers het sowat ʼn uur lank doodstil in die kamer gesit omdat hulle bang was om te beweeg in geval die aanvallers nog in die huis is. Haar ma het later dit reggekry om haar los te wikkel en kon haar man ná ʼn gesukkel ook bevry. Sy het toe hulp ontbied.

Een van die aanvallers het Kriek se tong met sy vingernael gesny. Foto: Verskaf

Die bejaardes het die nag by hul dogter Yvette Kriek op Lime Acres deurgebring. Sy het hulle die volgende oggend na ʼn plaaslike dokter geneem. Hy het hulle vir skok behandel en haar pa antibiotika gegee om ontsteking te voorkom nadat een van die aanvallers sy tong met sy nael oopgesny het.

Van Zyl sê dit is nie die eerste voorval op haar ouers se kleinhoewe nie. Hul honde is sowat ʼn maand gelede vergiftig. “My ouers is nog te getraumatiseer om te besluit of hulle daar gaan aanbly,” vertel sy.

Kapt. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar leidrade word opgevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Forie ·

Dis verskriklik wanneer gaan die aanvalle gestop word. Hulle kon mos net gevat het wat hulle wou. Hoe kan n man van daai ouderdom homself verdedig teen 5 20 jariges. Dis skrikwekkend.

Lop ·

Tyd dat ons boere die snoep winkels ook stop sit, dis n maklike teiken.

JJ ·

Baie sterkte aan hierdie twee ou mense. Dis beter vir julle dat julle (as julle kan) daar weggaan. Mag die Here by julle wees en hierdeur dra.

Hansie Slim ·

Kyk nou hoe word weerlose mense hanteer, maar as sekuriteitsbeamptes hulle werk doen, is hulle rassiste. Sien ander berig. Dan brand hulle af om wraak te neem. Die dubbele standaarde gaan seker nooit stop nie. ????

Hannetjie Harvie ·

Nee, asseblief bly op julle plase, want dit is wat hulle wil he, hulle wil het die plaashuise moet leegstaan, dan trek hulle sommer in, want hulle mag mos. Beveilig julle self, laat jou honde in die huis slaap, hou n wapen by jou, en die ouer mense moet iemand kry om by hulle te kom bly

Susan de Klerk ·

Ek het soveel begrip vir ouer persone wat nog werk vir ‘n inkomste. Waar moet hulle heengaan? Kyk byvoorbeeld net na die berigte selfs in Maroela van Negester, Klein-Kariba & Onrusrivier. Dit is ongelooflik duur en word as die norm adverteer. Wie dink julle kan dit bekostig?

Mariaan van Zyl ·

Presies soos jy se, hoekom moet ons vlug, my pa het vir jare begeer om sy eie stukkie grond te he en nou moet hy dit opgee vir banheid oor kriminele.

marous ·

Weereens , wys asseblief die statistiek van wit mans wat ou swart mense so aanval !

GP ·

Marous ek dink daar sal baie min sulke gevalle wees. Ek kan nie dink hoe enige wese ‘n ou mens so kan hanteer nie.

Vir statistieke lees gerus Ernst Roets se boek “Kill the Boer”.

Rambo ·

Ag Hansie Slim wat het hierdie geval met die een van die sekuriteits beamptes te doen as iets verkeerd is is dit verkeerd. Daar is groot probleem in die land met rasse wat mekaar haat . Ons moet leer om mekaar as mens te respekteer ongeag ras. As almal loop en haat aanblaas waar gaan ons oor n jaar van nou wees? Jammer vir die oumense en hoop hulle herstel spoedig. Sterkte.

Klaar ·

Hulle mag doen wat hille wil maar as wit sekuriteits beampte moet jy net waag om n krimineel rond te sleep.

Marie ·

Ek boer in die NW provinsie.My hele besigheid het verander,ek verkoop niks meer vanaf die plaas nie,my hekke is ten alle tye gesluit en ek het kwaai honde waarvan een altyd in die huis slaap. Vergeet daarvan om n paar rand hier en daar privaat te verdien,verkoop jou produk aan n handelaar of op n vendusie.Dis jou lewe werd.Enige iemand wat my wil kom sien het my selnommer,ek sal miskien vir jou oopsluit.Wees wakker boere.

GP ·

Dankie Marie, dis bemoedigend om te hoor van boere wat drastiese stappe neem vir beveiliging.

francois green ·

Ek hoop iemand het daaraan gedink om vingerafdrukke te neem van die glas water wat aangedra was? tensy daar handskoene gebruik is. ek stem saam met Hannetjie.

Anoniem ·

Snoepwinkel was waarskynlik om hul inkomstetjie aan te vul. Maar ja, ek stem saam: dis ‘n gevaarlike bedryf.

Ek is bitter jammer oor die trauma wat die 2 bejaardes moes deurmaak. Dit skeur mens se hart om te dink hoe hulle verniel is. Simpatie aan hulle en hul naasbestaandes. Dit is maar nie lekker om deur te maak nie.

Werner ·

Rambo skrik wakker die sekuriteids beamptes het net hul werk gedoen niks met rasisme te doen nie

sherise ·

Hoe wreed kan hulle raak, hoe dood moet jou eie siel wees om so te kan optree..
Die Here sal dit nie ongesiens laat verby gaan…
So jammer vir die egpaar en hulle mense..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.