Egpaar op lughawe deur ‘polisie’ beroof

Die Zimbabwiese egpaar by die Rusa hoofkwartier (Foto: Rusa, Facebook)

ʼn Zimbabwiese egpaar is Maandag by die King Shaka- internasionale lughawe in Durban van derduisende rand beroof deur rowers wat hulle glo as polisie voorgedoen het.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), het die sakeman (53) en sy vrou (47) omstreeks 13:00 by die lughawe geland. Hulle het van Harare na Durban gereis om ʼn motorkooptransaksie te doen.

“Die paar is deur ’n tante – wat in Washington DC in Amerika woon – na ʼn motorhandelaar in Durban verwys. Sy het telefonies gereël om ’n oranje Ford Ranger vir $11 600 (R184 315) te koop en dié voertuig op ’n sleepwa terug na Zimbabwe te vervoer. Die egpaar is na Durban om na die bakkie te kyk,” sê Balram.

Volgens Balram is die egpaar met hul aankoms op die lughawe deur die motorhandelaar ingelig dat ’n silwer C200 Mercedes Benz-hulle sal oplaai en na hom toe neem. Op pad na die handelaar het die egpaar opgemerk dat ’n ander silwer C200 Mercedes-Benz hulle agtervolg.

“Die motor wat die egpaar agtervolg het, het ’n paar minute later blouligte aangeskakel en die motor waarin die egpaar gereis het, van die pad laat aftrek. Vyf mans het uit die voertuig geklim en polisie-identifikasie getoon. Hulle het hulself as polisiebeamptes voorgestel.”

Balram sê dié “polisiemanne” het die egpaar ingelig dat hul voertuig oor ’n rooi verkeerslig gery het en dat die egpaar uit die voertuig moet klim.

Een van die “polisiemanne” het toe glo ’n patroon van ʼn 9 mm-vuurwapen in die voertuig laat val en die egpaar meegedeel dat hulle onwettig ammunisie in hul besit het. Hulle het aangedring dat die egpaar deursoek moet word.

“Toe die sogenaamde polisiebeamptes die egpaar deursoek, het hulle Amerikaanse dollars ten bedrae van R127 114 ($8 000) uit hul sakke gehaal. Hulle het die egpaar meegedeel dat hulle die geld sal terugkry wanneer hulle by die polisiestasie kom. Die egpaar is toe gevra om te wag vir vervoer na die plaaslike polisiestasie.”

Terwyl die egpaar langs die pad gewag het, het al twee C-klas Mercedes‑Benz-voertuie van die toneel verdwyn.

“Die egpaar is deur ’n verbygaande motoris bygestaan wat hulle na Rusa se hoofkwartier vergesel het.”

Balram sê die egpaar het ʼn saak van diefstal by die Verulam-polisiestasie aanhangig gemaak.

Maroela Media het ʼn navraag oor die voorval aan die polisie gerig, maar wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Nou het die besoekers ook eerste handse ondervinding van die ANC opgedoen. Pragtige gebaar om oor te dra en ons land verder deur die modder te sleep.

SjN

Inside job, hulle het geweet van die transaksie.

Diline

Iemand in die binnekringe het aandeel hieraan! Hoe het hulle in die 1ste plek geweet van die geld as iemand anders nie betrokke was hierby wat oor die inligting beskik het nie

Harley Davidson

Hoekom rowers wat hulle voorgedoen het as polisie ek sal weer dink dit is polisie wat hulself rowers hou.

richard

Is die grense tussen SA en Zimbabwe oop vir reis