Egpaar op Vrystaatse plaas aangeval

Jasco en Maria Dinkelman het tydens die aanval ernstige meswonde opgedoen [Foto: Facebook]

ʼn Egpaar is Sondagaand op hul plaas digby Ficksburg in die Vrystaat deur drie mans aangeval en beroof. Jasco en Maria Cecilia Dinkelman het tydens die aanval ernstige meswonde opgedoen.

Dit is die tweede plaasaanval in ʼn bietjie meer as ʼn week wat in die Ficksburg-omgewing plaasgevind het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê Maria het teen 19:25 glo uit gewoonte gaan seker maak dat die huis se skuifdeur en veiligheidsdeur gesluit is. Hierdie deure was egter tot haar verbasing oop.

“Die volgende oomblik het drie mans op haar afgestorm. Een van die mans het ʼn vuurwapen op haar gerig. Die ander twee was met ʼn mes en byl gewapen,” sê Makhele.

Volgens Makhele het die mans Maria na die hoofslaapkamer gedwing. Jasco wou ingryp en help en is in die proses met die mes in sy linkerhand en in die nek gesteek. Maria is ook in die linkerkant van haar nek gesteek.

Makhele sê die mans het geld en vuurwapens geëis. Die egpaar het egter vir hulle gesê dat hulle nie vuurwapens besit nie. Hulle het wel R26 000 se kontant, wat in die kluis was, aan die mans oorhandig. Hulle het ook ʼn Samsung-tabletrekenaar en selfoon gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.

“Lede van die plaaslike landelike boerevereniging het kort daarna by die huis opgedaag om die egpaar te help. Nooddienste en die polisie is na die toneel ontbied.”

Makhele sê die egpaar het weens die meswonde baie bloed verloor.

“Nog niemand is in verband met die aanval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek klagte van huisroof en poging tot moord.”

Maroela Media het vroeër berig Catherine Cairns (61) is op 6 Julie net voor 19:00 op ʼn plaas in die Ficksburg-omgewing deur vier gewapende mans oorval en heelnag aangehou. Die mans het glo R4 miljoen in kontant van haar geëis.

Volgens kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Boere sal baie meer sekuriteit in plek moet stel op plase – hierdie plaas aanvalle gaan nie stop nie.
Mens dink dat so iets nooit met jou gaan gebeur nie. Sterkte aan hierdie boer en sy vrou – hoop julle sterk vinning aan.

ES ·

Mens kan nooit paraat genoeg wees nie. Ek kan nie glo daar is nog mense wat op plase woon en nie gewapen is nie.

Sterkte en beterskap aan julle en kry vir julle vuurwapens – en raak gemaklik met hulle!

JohanR ·

Die dae van sorgvry boer is verby. Jy met nou boer met twee oe in die agterkant van jou kop?

Tokkel ·

Wens die regering wil nou vir ‘n slag ook aandag gee aan die boere se aanvalle.
Mnr die President, dit is hulle wat die kos voorsien, julle moet kyk na hulle ook…

Mieke ·

Tokkel… jammer maar ons wéét hoe die regering oor ons boere voel. Hulle gee net mooi niks om nie!!

Anel ·

Nogal snaaks hoe hulle nooit gevang word nie. Hulle het nou baie geld en gaan dit gebruik. Hoe maak dit niemand agterdogtig nie. En huisroof! Werklik! Ek sou sê gewapend roof en huisbraak en poging tot moord! Sterkte aan hierdie boere!

Marshall ·

One cannot win a defensive war, one cannot defend an infinite border. Secession is the only workable solution. Surely there cannot be any Caucasian South Africans who still believes that this unitary state can be made to work.

Fluisterwind ·

“KAAPSTAD – Die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA), ’n alliansie vir minderheidsgroepe, sê hulle kort 1.83 miljoen stemme om per referendum die Noord-Kaap, Wes-Kaap en gedeeltes van die Noord-Wes en Gauteng onafhanklik vanaf Suid-Afrika te verklaar.”

Nico ·

Verdagtes kry gratis mediese hulp maar die man en sy vrou moet self betaal vir hul eie mediese kostes.

Toy ·

Misdadigers beteken niks positief of produktief vir die land nie, hulle is net ‘n las en dan kom hulle weg met moord ook.

Anoniem ·

Niemand in hegtenis geneem nie want hul was te besig om die gaos wat hul in ons land saai te probeer stilmaak. So ly onskuldige Boere. Dan praat hul van ‘n Kommissie om Rassehaat te ondersoek. Die Regering moet wakker skrik en sien dit is hul lmense wat die Rassehaat aanvuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.