Egpaar op wildsplaas aangeval

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Egpaar is Donderdagaand op ʼn wildsplaas in die Kinkelbos-omgewing in die Oos-Kaap deur vyf rowers aangeval.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, het gesê die vyf aanvallers, waarvan drie gewapen was, het omstreeks 18:30 toegeslaan. Een van die aanvallers het ʼn jaggeweer by hom gehad.

“Die 45-jarige bestuurder van die wildsplaas is buite sy huis oorval. Hy is daarna in die huis in gedwing en aangerand terwyl die verdagtes aangedring het op geld en die kluis se sleutels,” het Beetge gesê.

“Die kluis is oopgemaak en ʼn bedrag geld is gesteel. Die verdagtes het ook persoonlike besittings van die egpaar en hul selfone gesteel. Die man en sy 35-jarige vrou is daarna aan stoele vasgebind voor die aanvallers op die vlug geslaan het.”

Die egpaar kon daarin slaag om hulself te bevry en het hulp ontbied. Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Brig. Lungisile Manyana, waarnemende bevelvoerder van die Motherwell-polisiegroepering, het gesê die polisie sal geen steen onaangeroer laat in hul poging om die verdagtes aan te keer nie.

“Dié tipe aanvalle op mense in plaasgemeenskappe kan nie geduld word nie,” het Manyana gesê.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om kapt. Jerome Mackay by 076 018 0713 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Susanna ·

Nee maar ons lieg mos en oordryf alles! En wat gaan Trump en America doen? Die EFF skrik mos nie vir hulle nie…….

Charmaine ·

Dan lewer die hoog-ge-plaas-des in die regering negatiewe kommentaar oor Trump se tweet (dis dan onwaar, so wat is hierdie dan?). Die ding gaan net einde kry wanneer die plaaseienaars begin om ‘n einde daaraan te maak. Jy mag as plaaseienaar jouself nie verdedig nie dan word jy aangekla deur die gereg, hoe anders dan gemaak as om hulp te gaan soek op ande plekke

Haan ·

Julle maak n fout ass julle dink Donnie gaan tot ons redding kom. Die VSA en CIA was sentrale rolspelers in die totstandkoming van die mandela reënboog-nasie hel waarin ons nou leef. Hy twiet hierdie dinge omdat dit deur sy konserwatiewe kieserskorps van hom verwag word.
Kissinger het gesê :”America doesn’t have allies, America only has interests”

Rediculous ·

SAKEROOF?? Kom ons vergeet van die AANRANDING (POGING TOT MOORD)??? Wat gaan aan met die polisie en die regstelsel? ‘n OU word in ‘n kis ingedwing en dit is poging tot moord, mense word vasgebind en verwoed geslaan met bakstene en dit is SAKEROOF??? Unbelievable.

George ·

Mense gaan sit die dinge op twitter op fox news dan sien die buite wereld wat gaan aan .

zoom zoom ·

Die voorval sondag by hartebeespoortdam is gesê dit was rassisties. Dan kan die voorval ook beskryf word as rassisties. “tit for tat”

Tertia Human ·

klaar na my e-pos toe gestuur copy paste dit nou op facebook en forward to all my vriende oorsee!!!!!!!!!!!!!!!!!!

m.d.r. ·

Die “tipe” aanvalle…? Word plaasaanvalle nou in verskillende tipes gedefinieer…?
As niemand sterf nie is dit een soort, en as iemand sterf is dit ‘n ander soort…
Plaasaanvalle behoort as terrorisme verklaar te word…..Punt.

Charles Skeen ·

Is dit onvolledige beriggewing of is daar ook ‘n saak van aanranding aangemeld bd Plaas aanval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.