Egpaar se hel oor kinderontvoeringsgerugte op sosiale media

Marius en Mari van der merwe saam met hul dogter, Rolane. Foto: Verskaf

Marius en Mari van der merwe saam met hul dogter, Rolané. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van Pretoria word uit verskeie oorde gedreig nadat valse inligting op sosiale media gedeel is dat hulle kinders by verskeie skole en kleuterskole afneem.

“Hierdie voertuig is vanoggend afgeneem waar ʼn man en vrou video’s maak van kinders wat skooltoe gaan. As julle hom by die skool gewaar of sien dat hulle kinders afneem, kontak asb die polisie. Also been at Garsies, Glenstantia Primary, maar dieselfde voertuig is al by ons skool ook gesien. Registrasie nommer ook gecheck en dis vervals” [sic], lui ʼn “waarskuwing” wat wyd op sosiale media en WhatsApp-groepe die ronde doen. Die boodskap gaan gepaard met foto’s van ʼn blou Hyundai Getz, die motor se nommerplaatinligting, en foto’s van ʼn man en vrou wat in die voertuig was.

Die man in die foto, Marius van der Merwe (50), spook nou om sy naam in ere te herstel. Van der Merwe, ʼn voormalige polisiebeampte, het vandeesweek aan Maroela Media verduidelik wat tot dié sosialemedia-herrie gelei het.

“Ek was Dinsdag by ʼn kleuterskool in Constantia Park in die ooste van Pretoria om in opdrag van ʼn prokureur verkeer by die kleuterskool af te neem nadat verskeie inwoners in die omgewing oor die verkeer daar gekla het,” het Van der Merwe gesê. Hy verduidelik dat hy en sy vrou, Mari, soms kontrakwerk doen vir die maatskappy MR Sekerheid & Innovations, wat onder meer data-invordering en speurwerk doen.

Rolané Steyn. Foto: Verskaf.

Rolané Steyn. Foto: Verskaf.

Van der Merwe se skoonma, Rolané Steyn, het hom Dinsdag vergesel. Hulle het in Mari se motor, die blou Hyundai, gery en omstreeks 07:00 by die kleuterskool opgedaag.

“Ek het vir sowat ʼn halfuur lank vanuit die motor die verkeer by die skool op my selfoon afgeneem en is kort daarna deur die kleuterskool se hoof, haar dogter, wat ʼn prokureur is, en ander ouers gekonfronteer. Hulle het aantygings gemaak dat ek die kinders en hul ouers afneem en dat ons kinderontvoerders is.”

'n Skermskoot van een van die boodskappe wat versprei word.

‘n Skermskoot van een van die boodskappe wat versprei word.

ʼn Veiligheidsbeampte van ADT is ontbied en Van der Merwe het, met die hulp van die eienaar van MR Sekerheid, Dawid Roux, die situasie verduidelik en dit met hom uitgeklaar. ʼn Lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het intussen die Garsfontein-polisie ontbied en die polisie het versoek dat Van der Merwe en die skoolhoof die saak by die polisiestasie gaan bespreek.

“Ons was nog by die polisiestasie om die saak op te klaar toe versprei die boodskappe al op Facebook, waarna dit ook op WhatsApp-groepe gedeel is.”

Van der Merwe het gesê die situasie is binne 15 minute by die polisiestasie opgeklaar en daar is geen amptelike klag teen hom of sy skoonma aanhangig gemaak nie. Hy het ook op aandrang van die skoolhoof se dogter die beeldmateriaal wat hy op sy selfoon geneem het, uitgevee.

Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat geen aanklag teen Van der Merwe aanhangig gemaak is nie.

Van der Merwe het intussen gesê hy en sy gesin vrees vir hul veiligheid. “Ons sukkel nou om ons naam skoon te kry deur nonsens wat op Facebook versprei word en stories wat opgemaak is en wil hê die waarheid moet uitkom. Die probleem is, ons word gedreig en my vrou se motor se inligting word gedeel as ʼn verdagte motor wat kinders ontvoer. Dis dieselfde motor waarin ons ons dogter elke dag skool toe neem en ons vrees vir haar veiligheid.”

Die egpaar is besig om vas te stel wie die oorspronklike boodskap op Facebook gedeel het en gaan siviele stappe teen die persoon of persone doen vir onder meer naamskending. Een van die “waarskuwings” is teen Vrydag al meer as 820 keer gedeel.

Die voorval kom te midde van ʼn vlaag gerugte wat die ronde doen dat daar onlangs, veral in Pretoria, verskeie pogings by winkelsentrums was om kinders te ontvoer.

Die amptelike verklaring van Mr. Sekerheid.

Die amptelike verklaring van Mr. Sekerheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Johan ·

En dit is hoekom ek niks met mense te doen wil het nie en ook onder geen omstandigehede iemand sal probeer help nie. Kanse is hulle verdien dit nie. Mense is van nature gemeen en sal dit altyd onder een of ander, ja maar… probeer wegsteek…

Sumari ·

Wonderlik. Tipies van die mense om sulke onnodige moeilikheid te maak. Hardloop altyd ‘n ding vooruit nog voor julle iets weet. Erger as 7 de Laan.

Zena ·

Ja, ne..en dan word die verkeer situasie vir hulle by die skool gedoen,nadat hulle natuurlik gekla het oor die opeenhoping van verkeer. Gou om sosiale media te gebruik vir die verkeerde goed. en nogals die nommerplaat en kleur en maak van motor te deel. Mense, word wakker,hou op om onskuldige mense op sosiale media te smeer. Gebruik dit vir die regte dinge.
Hoop hy vind die persoon wat dit in die eerste plek versprei het. sterkte daar aan hom en sy gesin met die hele situasie..

Berhalet Beukes ·

Ek het al self deurgeloop onder onnadenkende gerugte toe ek jonger was… Mense is besef nie hoe dit ander affekteer nie! Skinder is ‘n vieslike ding veral as dit gebaseer is op blatante leuens!

ek ·

Hoekom het die persoon wat die “waarskuwing” uit gestuur het nie die man en sy skoonma direk gaan vra hoekom hul sit en die skool afneem nie?? Nou is die mense se name beswadder en vir wat? Vir iemand wat net aandag soek en verveeld is. Vat hul hof toe!

Piet Crowe ·

Sleep hom hof toe en trek hom kaal uit. Ek is seker daar is tot nou geen apologie aan geteken deur die persoon van oorsprong nie en het alreeds begin om sy “post’s ” uit te vee, maak altyd seker van jou feite.

Angelique ·

Ek moet se, in vandag se tyd hardloop die mense net te vinnig Facebook en Whatsapp toe hoor. Plaas doen hulle eers navraag en bevestig wat aangaan voordat hulle op hol gaan. Mens kan glo dat dit suspesieus lyk maar dan doen mens eers navraag. Gaan die pesone op Facebook verskoning maak en die mense se naam in ere herstel, Ek dink nie so nie. Ek hoop dat die skuldiges wat die onwaarhede versprei het in die bek geruk sal word en ook daarvoor boet. Hoop ons word op hoogte gehou.

Liza ·

Die regte manier is om die skole en ouers in kennis te stel van die opname wat gedoen word, dan was daar nou geen probleme nie. Jy kan nie net by ‘n skool gaan sit en kinders afneem nie. Ek is jammer oor die stertjies was aangelas is…… Sterkte!

Tdw ·

Ek stem saam. Die gemeenskap loop elke dag op eiers, bang vir die misdaad wat elke dag gebeur . Die persoon wat die gerugte aangestuur het het ‘n fout gemaak, hy moes eers by ADT en die polisie uitvind wat aangaan alvorens hy dadelik vir ander vertel het. Maar daar is die kwessie van iemand wat verdag lyk wat “kinders” afneem. Ek sou ook die buurtwagpolisie laat weet het, maar eers by hulle uitgevind het wat die feite is voor ek die persoon se fotos rond stuur.
Laat dit ‘n les wees vir ander, jy kan nie net fotos van ‘n kleuterskool neem sonder om hulle eers in kennis te stel van jou intensies nie. Die ouers het die reg om te weet.

Eben ·

Ja nee ek stem saam – almal is ernstig op hol gejaag oor die ontvoerings en NOU sit iemand in sy kar en neem fotos van mense/kinders buite ‘n skool?

Maar mense moet ook seker maak dat as jy daai waarskuwingsboodskap aangestuur het, dan beter jy ‘n link na hierdié artikel stuur sodat hierdie ding uitgerooi word. Mense stuur heeltemal te vinnig ‘n boodskap aan op WhatsApp / Facebook…

Johan ·

Ek stem saam. Die Facebook hype is te veel maar om met ‘n kamera by ‘n skool te sit en dinge af te neem sonder om enigeen in te lig is soos om jou hand in ‘n byenes in te druk en dan verontwaardig te wees as die bye begin steek.

Onbekend ·

Hulle het nie die kinders afgeneem nie, maar wel die verkeer, maar ek hoop hulle kry die person en dagvaar hom/haar hel toe en terug.

Dee ·

Begin maar onder hierdie groep soek na wie die stories verprei – oorweeg dit om te begin by Liza en werk daarvandaan. Dit neig om te klink asof hulle miskien hier opgespoor kan word.

Pau ·

Regtig?’n Voormalige polisiebampte wat nie daaraan gedink het dat die hoof ten minste in kennis gestel moet word voor ñ opname gemaak word nie.In vandag se tye kan mens geen kanse vat nie, ek sou beslis ook die inligting aan CPF deurgegee het, dit is beslis verdagte optrede.Wat as die omgekeerde waar was en die persone betrokke nie onskuldig was nie?

Jaco ·

Ek is seker hulle het ‘n goeie rede en dit maak nie regtig saak of jy dink dit is ‘n goeie rede of nie, lees weer die bepaling en voorwaardes. Of dalk het jy vergeet om die “stuur kommentaar” knoppie te druk…

Blommetjie ·

Die in ou lewe waarin ons vandag lewe weet mens nie meer wat om te verwag nie. Die man het net sy werk gedoen en besorgde ouers het nie geweet hy is besig om te werk nie. Eintlik is die regte prosedure maar net om met die kleuterskool hoof vooraf te reel sodat sy die ouers kan inlig daar gaan ‘n video geneem word oor die klagte wat hulle het oor die opgehoopte verkeer elke dag. Dan weet ouers vooraf en kan geen aaklige stories versprei word nie. Kinders word elke dag ontvoer orals. Ek is ook ‘n mamma, sou ook seker maar begin paniekerig begin raak het as ‘n vreemde man my kids afneem en ek nie ingelig is nie. ‘n Saak het mos twee kante.

Genis ·

Vir wat sit hulle in die eerste plek die verkeer by ‘n skool en afneem sonder om die nodige reelings te tref en sonder toestemming van die skoolhoof? Klink vir my of hulle moeilikheid gesoek het en nou wil huil omdat hulle dit gekry het. Sterkte in elk geval. Ek sou nie my geld en tyd op ‘n siviele saak mors as ek hulle was nie. Wees dankbaar vir die regstelling in hierdie berig en beweeg aan.

Johan Visser ·

Met sy voorige ervaring as polisiebeampte (en deeltydse speurwerk) bevraagteken ek dus die feit dat hy vir meer as ‘n half uur lank videos/foto’s neem en nooit vooraf besef het dat hy hom in ouerwoede gaan vasloop nie. Ek stem saam met Liza… vooraf kennis aan die skool sou waarskynlik gelei het tot omsendbriewe aan ouers en die verkeersopname sou dan vlot verloop het. Indien my kind daar skoolgegaan het en ek het hom gesien video-opnames maak sou ek hom persoonlik gaan konfronteer het. Tog jammer van sosiale media wat hand-uit ruk sonder dat hulle feite gehad het. Hoekom het hulle nie bloot na die motor gestap en vrae gevra nie?

Johanna ·

Ek sê nog altyd die sosiale media, veral FaceBook, is soos ‘n toilet met ‘n oop deur. Ek is altyd verstom oor mense wat letterlik verslaaf is aan die sosiale media. Wat die foto’s voor die skool betref, dis openbare terrein. Daar is geen wet in hierdie land wat jou verbied om foto’s in die straat buite ‘n skool te neem nie. Mense kan so op hol raak oor niks. Dit sou egter seker net goeie maniere gewees het om die skool vooraf in te lig wat hulle gaan doen sodat die ouers ook ingelig was.

Dee ·

Een van die min realistiese kommentare, Johanna. Maak hulle oge oop – hulle is verveeld.

Berhalet Beukes ·

Jy is doodreg, en baie mense is niks anders as cyber bullies wat nie dink voordat hulle ongegronde beskuldigings rondgooi nie! Mense wat paranoïes en ruggraatloos is en eerder ‘n ander persoon se reputasie sal vernietig as om moeite te doen om hom reguit te vra wat hy daar doen. Anname is ‘n vieslike ding!

Tdw ·

Ek sal graag by Maroela meer inligting wou hê van hoekom ‘n prokureur sowel as ‘n speurder maatskappy betrokke was met die klagtes van verkeer.

Amanda ·

Dit was my eerste vrae ook. Beslis nie verkeersopname nie. Hulle lieg. Ek vermoed dis n geveg oor toesig oor n kind. Niks met verkeer te doen nie. As ek n ouer was by daai skool, sou ek hom afgeneem het met my “duur” selfoon en hulp ontbied het op Zello.

broos ·

Duidelik was hulle nie bewus van die PPI act nie?
Dis groot moeilikheid soek om inligting vrylik te deel sonder toestemming.

Dis hoe dit is ·

In Prediker staan: ‘n Skinderstorie is soos lekker kos – mense sluk dit so maklik. Hierdie is ‘n voorbeeld daarvan. Plaas die mense NA die man gegaan en hom konfronteer het as hul iets ongeruimds vermoed, nee nou beswadder hul hom sommer op openbare media. Maklik om nou kammig te sê ja maar… blablabla, gaan NA die man, maak seker van jou feite voor jy sommer die vinnertjies gebruik! SIES man!

SUZIE ·

Ek dink die mense moes mos maar eers in die skool ingegaan het en die hoof laat weet het hulle gaan buite die skool wees om foto’s te neem. Dan was hulle bewus van wat aangaan, tog voel mens half dat die hoof en personeel verantwoordelik is vir jou kind se veiligheid.
In vandag se lewe moet mens liewer te versigtig wees, soveel kinders word ontvoer en vermoor en verkrag.
Jy moes in die skool gegaan het, jouself voorgestel het, ( al is dit net die hoof en al is dit privaat ) dat hy weet wat aangaan.

Rosie ·

Hy samel dan data-inligting in en doen speurwerk vir ‘n prokureur wat waarskynlik besig is met ‘n saak teen iemand. Hy het dus skelms / klandestien sy spioeneerwerk gedoen en moes tog die risikos oorweeg het as iemand hom sou uitvang, wat toe gebeur het??

Jan Rademan ·

Ons kan seker bly wees daar het nie ‘n kat oor die pad geloop nie, dink net hoe sou die facebook skinderklub gegons het oor die leeu wat losloop in Pretoria. Vandat elke Jan Rap en sy maat toegang het tot die internet met hulle goedkoop selfoontjies, het die internet in ‘n riooldam verander. Dis ‘n vieslike, lae-klas gemorsspul met intelligensie wat aan vertraagheid grens. Hoop maar die ding word nou opgelos, sterkte aan almal behalwe die trolle wat sulke vals gerugte versprei om mense op hol te jaag sodat hulle op ander se vrees kan teer.

Kobus Horn ·

Mense julle moed tot die besef kom dat valse inligting eintlik neerkom dat julle ander mense se lewens verwoes. Die persone wat die lasterlike DREK BEGIN VERSPREI HET MOET OP HULLE PLEK GESIT WORD. NAME EN SHAME IN DIE OPENBAAR. Daar is te veel mense wat regtig wlaglik is, en dan ander mense en die mense se kinders se lewens verwoes. Kan eintlik nie glo dat die lasterlike mense heel moontlik ouers is, en dat hulle kinders grootmaak. Marius ek het net die regte prokureur vir jou wat jou saak sal aanneem. Eintlik kan jy in die nou omgewing begin en vastel wie die mense by die eerste ontmoeting was, name en cellfone laar na gaan. Sterkte Marius.

Gerhardt ·

Simptome van ‘n gebroke land en talle minder slim mense.

Mari Steyn van der merwe ·

Naand Karin van watter gedeelte van die families is jy want ek ken nie n Karin in die familie nie. En ja Marius is dalk haar stief pa maar hy maak haar groot soos sy eie kind. En ons is wettig getroud jy is welkom om binnelandse sake te kontak. En nee ons soek nie sensasie nie ons wil net he die dreigemente moet stop dis hoekm ons die fotos en die waarheid gegee het. Ek sal like net om te weet van wie se familie jy is want ons ken nie n karin in ons familie nie. Baie dankie Mari steyn van der Merwe

Stuart ·

Mari -vat sommer hierdie Karin ook hof toe, lyk my sy het baie met die naamskending te doen!! Jy skuld haar tipe geen verduideliking en al is jy nie getroud het dit niks met niemand te doene nie. NIKS

Mari ·

Naand wil net reg help ons is wettiglik getroud en ja dit is dalk sy stiefkind maar sy se vir hom daddy en hy sien ha nie as n stiefkind nie. En mense wat deel is van ons lewe sal weet dat ons getroud is.

Karen ·

As hy só erg bekommerd is oor haar veiligheid, hoekom haar foto versprei ? Hoekom haar betrek ? Nie baie slim vir ‘n oud polisieman nie. Soek jul dalk net sensasie en ‘n arme kind word gebruik daarvoor ? As ‘n ma, kom my kind se veiligheid en belange altyd eerste. Bo my eie. Kan jy dieselfde sê Mari ?

Ian ·

Karen, jy het duidelik n haat in hierdie familie van jou. Was dit nie dalk jy wat hierdie stoties versprei het nie?

M A ·

Dit lyk asof almal wat betrokke was net vreeslik dom te werk gegaan het. Dis nie sosiale media of mense met hulle “goedkoop selfoontjies” se skuld nie. As iemand in die 70’s kinders by ‘n skool sit en afneem het, sou iemand die Polisie gebel het. Die man sou beslis nie binne 15 minute uit daardie Polisiekantoor uit gewees het nie.

Dee ·

Ek dink nie joune was ‘n baie slim antwoord nie. Mense het buitendien nie in die 70’s met goedkoop kameratjies in hul sakke en handsakke rondgeloop nie. Én, verseker was dit baie maklik om te bewys wat hulle werklik afgeneem het.

Dee ·

MA, laat my ‘n veranderde opinie toe, asseblief. Ek was oorhaastig met wat ek gesê het en ek was verkeerd. Weer gelees en besef dat jy èintlik reg is. Askies.

Ouer ·

As my kind in daai skool was het ek presies dieselfde gedoen, Maak nie saak wie of wat jy is nie. Jy gaan neem nie sommer foto’s van my kind by ‘n skool nie. Volgende week lees ons weer van kinders wat ontvoer is!!! Mense word wakker niemand is veilig in SA nie.

EMK ·

OUER: HULLE HET NIE DIE KINDERS AFGENEEM KOM TOG BY!!! LEES voor jul dom KOMMINtaar lewer

adrian ·

Wat het n prokureur met padverkeer te doen dit is werk wat metropolisie moet doen. Nee wat hier is meer agter die storie daar is ook genoem dat die nommerplaat vals is. Hier is meer vrae as antwoorde

Pau ·

Dit skok my eintlik verder dat van die kommentaar sê ouers moes die mense in die voertuig gaan konfronteer het.Geen regdenkende mens sou dit doen nie want dit plaas jou eie lewe en moontlik die van jou kinders in gevaar…

Stuart ·

Ag Pau, tipies – oorreageer. Natuurlik kon hul op ‘n beskaafde manier gaan vra het wat gaan aan en as hulle sulke papbroeke is vat dan di epolisie saam. Maar nou kies hul die HEEL lafhartigste uitweg naamlik om sommer net mense se name swart te smeer.

Duitswes ·

Dit lyk vir my asof hierdie mense hulle tande slyp vir ‘n lekker vet skadevergoeding-eis. Sleep tot die kind by soos die bedelaars wat bakhand staan en op mens se gevoellens probeer speel. Alles vir geld al was hulle optrede so verdag die sekuriteit en polisie moes ingeroep word. Nee wat, gaan werk maar vir julle geld, julle sal nie so regkom met ‘n meevallertjie nie.

EMK ·

Duitswes pasop wat JY skryf. Jy kan ook hof teo gesleep word oor wat JY hier kwytraak.

Duitswes ·

Ja vat ons almal hof toe wat deur die storie sien en ons opinie lug. Ek wag. Uit my kry julle nie ‘n sent nie. Gaan werk vir julle geld man.

ONBEKEND ·

HET ALMAL VAN JULLE DIE BERIG GELEES!!!! WANT JULLE HET ALLES UIT VERBAND GERUK NOU. ALMAL VAN JULLE MOS DAAR TOE DIT GEBEUR HET!!!
AS JY NIE WEET WAT G EBEUR HET NIE HOU JOU KOMMENTAAR VIR JOUSELF. PASSOP DAT SO IETS NIE MET JOU GEBEUR EN DAN SO MOET SUKKEL OM HUL NAAM IN ERE TE HERSTEL. O JA EN VOOR DAAR NOG STERTJIES KOM EK IS NIE FAMILIE OM KENISSE VAN DIE MENS NIE.

Mari-Louise ·

As die omgekeerde waar was en die FB update het gemaak dat moontlike kinderhandelaars of pedofiele aangekeer is dan het almal gejuig en sosiale media geprys. Make up your bloomin minds

Johan ·

Wat is navorsing en wat is speurwerk? As jy navorsing doen, doen jy dit deursigtig, as jy speurwerk doen is dit geheimsinnig. Private speurders word internasionaal gereguleer. In Suid Afrika word verwag dat speurder by die “Private Security Industry Regulatory Authority” registreer. (PSIRA)
Die gemeenskap sal dus verwag dat MR Sekuriteit asook Mnr. Van Der Merwe hulle registrasie sertifikate van PSIRA op hierdie blad publiseer. Dan aanvaar almal Mnr Van Der Merwe se werksaamhede as speurder onder die dekmantel.
As voormalige SAPS lid is hy seker bewus van die regte en pligte van ‘n speurder. As hy nie geregistreer is nie, moet hy die slae vat wat na hom toe uitgedeel word en onmiddelik vervolg word. Maar aanval en dreig is die beste verdediging. Nou word die blaam verskuif. Rookskerm strategie. Die bewysstukke (fotos) is ook afgevee. Speurders gebruik nie selfone nie!
As dit navorsing was, hoekom nie die kleuterskool in kennis stel nie, of ‘n gemerkte voertuig gebruik nie. (Het mos niks om weg te steek nie.)
Die regte kanale sou wees, om Tshwane se verkeers ingeneurs te kontak. Hulle sal dan profesionele opgeleide mense aanstel wat langs die pad op kampstoel sit op ‘n deursigtige manier. Hulle sal ook ‘n aanstellings brief en doel van die verkeersimpakstudie byderhand hê. Het Mnr Van Der Merwe die nodige kennis, vaardigheid en ondervinding om ‘n verkeersimpakstudie te doen? Hoekom fotos neem en sy skoonma saamvat?.
Die prokureur wat Mnr Van Der Merwe aangestel het word ook nerens genoem nie. Hoekom sal ‘n prokureur ‘n maatskappy gebruik wat by die “council for debt collectors” geregsitreer is.? Dit maak glad nie sin nie.
Die parliament rapporteur dit – Die howe kry amper niemand skuldig nie, want die polisiediens doen nie behoorlike ondersoekwerk nie. Ek spekuleer nou, maar ‘n voormalige polisielid behoort die kennis en vaardigheid te hê om homself uit ‘n probleem uit te praat. Dalk moet die onafhanklike inspektoraat die saak verder ondersoek. Hier is duidelik meer vrae as antwoorde.
Was daar in die laat tagtigs sosiale media, sou Gert van Rooyen nie met moord weggekom het nie.

Spookie ·

Duiwels advokaat vir ‘n oomblik hier … ‘n groot rede vir iemand om social network toe te hardloop is omdat daar regtig nare mense is wat regtig nare goed down en daarmee weg kom … Hoekom het hy nie eers met die kleuterskool hoof gepraat en diesituasie verduidelik VOOR hy die fotos begin neem het nie… sy sou die ouers kon gerus stell het voor dinge hand it geruk het… Warom het hy ‘n foto van sy eie kind saam met die artikel?

Elsie ·

Dis ons wonderlike regering se skuld dat ons so agterdogtig is en weghardloop met ‘n storie! Sê nou net dit was regtig mense met bymotiewe en niemand het niks gedoen nie …

Mense darem! ·

Om mense se naam onodig deur die modder te sleep is swak smaak. Deur vals info uit te gee soos in die geval gee GPF n slegte naam. Want sover ek weet het die meeste GPF’s netwerke om sulke tipe info vinnig te versprei, maak eers seker van jul feite, n goeie PRO sou seker gemaak het dat die info korrek was voor dit uitgestuur was. Nee sies man ek hoop jul word gedagvaar vir naamskending.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.