Egpaar se moordenaar gevonnis

Stephen Lekoro

Die moordenaar van die Human-egpaar van Groot-Brakrivier is vanoggend in die rondgaande hof in Mosselbaai 86 jaar tronkstraf opgelê.

Regter Mark Sher het Stephen Lekoro op elk van die twee moordklagte lewenslank tronk toe gestuur en die voorgestelde vonnis van 15 jaar vir die twee klagte van roof met verswarende omstandighede tot 18 jaar elk verhoog.

“Ek moet dit verhoog omdat jy dit genadeloos uitgevoer het. Ek hoop ook dit sal dalk ʼn boodskap stuur aan dié wat daar buite wag om toe te slaan,” het regter Sher aan die 29-jarige Lekoro gesê. Hy sal minstens 25 jaar agter tralies deurbring voordat hy vir parool in aanmerking mag kom.

Sher het gesê die aanvalle op bejaardes op plase en kleinhoewes het ʼn algemene ding geword en die howe raak nou moeg vir die sinnelose moorde van weerlose mense. “Dis die hof se plig om ʼn duidelike boodskap uit te stuur dat swaar strawwe opgelê word, selfs al vermoor jy nie dié wat jy beroof nie.”

Tewie en Eurika Human.

Wyle Tewie (72) en Eurika (62) Human is in 2016 in hulle huis deur Lekoro en sy vriend, Thamsanqa Sishuba, met ʼn panga en handgemaakte mes vermoor. Lekoro, wat vir die Humans gewerk het, het daarna na Lesotho gevlug en is verlede jaar in Bloemfontein gevang. Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse uit.

Die Humans se twee dogters, Amor Pietersen en Tineka Vos, en hulle gesinne was nie vandag in die hof nie, maar het beëdigde verklarings voorgelê wat as strafverswaring gedien het. Daarin vertel albei van die verwoestende uitwerking wat die moorde op hulle gesinne gehad het. Depressie en angs is by albei dogters gediagnoseer en selfs die Humans se kleinkinders sukkel om te fokus en is bang vir vreemdelinge.

Die Humans se skoonseun, ds. Gerhard Pietersen, sukkel ook om die gebeure te verwerk. “Hy het die grafiese detail aanskou van wat jy gedoen het, want hy moes die moordtoneel opruim en skoonmaak,” het regter Sher aan Lekoro gesê.

Hy het Lekoro se verskoning aan die naasbestaandes, wat deur sy regsverteenwoordiger adv. Dawie Scholtz aan die hof oorgedra is, verwerp en dit as waardeloos beskryf. “Jy het voor hierdie hof gestaan sonder om hoegenaamd berou te toon en dít terwyl jy steeds ʼn web van leuens gespin het.”

Regter Sher het die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, geprys vir die werk wat hy gedoen het, veral met betrekking tot die verkryging van inligting wat op die Humans se gesteelde skootrekenaars en selfone gestoor was. “Dit het deurslaggewende getuienis aan die hof voorgelê,” het Sher gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Deloris ·

Mooi so… Om na 25 jaar oorweeg te word moet uotgevee word in die stelsel

Cherokee ·

86 Jaar tronkstraf opgelê! Selfs twee vonnisse van 15 jaar verhoog na 18 jaar elk. Die berig begin met sulke goeie nuus.. en sê dan saggies agterna “pssstt.. eintlik beteken dit ten minste 25 jaar”.

Muffin ·

Die beste oplossing is bring die doodstraf terug. Nou moet ons belastingbetalers vir hulle sorg. Gratis verblyf, kos en klere.

Anet ·

Ek sal nie sê dat die kleinkinders bang is vir vreemdelinge nie. Dit was tog nie ‘n vreemdeling wat die moord gepleeg het nie.

Cherokee ·

Bepleiters van die doodstraf, miskien is julle nie bewus daarvan nie maar hierdie is nie die aangewese forum daarvoor nie. Dit sal nader aan die kabinet bespreek moet word indien julle gehoor wil word.

Ben ·

Ek raak ook al moeg van die alewig geseur van die doodstraf en toesluit en weggooi van die sleutel. Hulle sal nou net moet besef dat die doodstraf nooit meer sal ingevoer word nie en leweslank is nie meer leweslank nie.

KaterinaKat ·

Die doodstraf sou in elk geval net vir blankes gewees het, as dit ooit weer ingestel sou word.

Essie ·

Op die belastingbetaler se onkoste net 1 straf die doodstraf is nog te lig

PJ ·

Ek kyk Forensic files op Netflix.. En in Amerika kry hulle ” life without parole.” .. Hoekom nie hier nie??

Michelle ·

Dankie aan ons hemelse Vader vir gebede verhoor dankie aan die hooggeregshof en almal betrokke wat toegesien het dat ‘n geweldadige moordenaar kry wat hom toekom. Dit kan die twee geliefde mense nie terug bring nie . Maar hy sal vir ‘n lang tyd nie weer moor nie.

Kobus ·

” Life without Parole?” Skending van sy SA menseregte waarop net misdadigers geregtig is nie slagoffers nie

Magda ·

Dis hoekom ek VRA dat die WET op LEWENSLANK moet verander na LEWENSLANK in die tronk – tot jy daar dood gaan bly jy in die tronk. LEWENSLANK MOET LEWENSLANK BEDOEL NIE 25 JAAR AGTER TRALIES NIE.

Lou ·

Dankie MM dat julle die foto van die moordenaar plaas. Nou kan ons sien hoe lyk ‘n mens wat so harteloos en wreed kan wees om weerlose ou mense te vermoor vir selfone en rekenaars.

Jeremia ·

Patetiese vonnisse vir die koelbloedige moorde van twee mense.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.