Egpaar se moordenaars in hof

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Drie mans wat skuldig bevind is aan die moord op Chris Jooste en sy vrou, Katrien, het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.

Regter Lettie Malopa-Sehtosa het Woensdag die vonnisverrigtinge tot 11 Maart uitgestel. Victor Mbuyseni Simango, Solomon Solly Selekane en Collen Peter Molapo is in Desember daaraan skuldig bevind dat hulle die egpaar, albei in hul 60’s, in November 2011 doodgeskiet het toe hulle voorraad by ʼn spaza-winkel in Soshanguve, Gauteng, wou aflaai.

Chris is in die maag geskiet terwyl hy op pad terug was na sy bakkie. Katrien is in die bors geskiet toe sy haar aanvallers met pepersproei wou afweer. Sy kon daarin slaag om hul dogter, Belinda, te bel nadat hulle geskiet is. Die egpaar het op pad na die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Simango, Selekane en Molapo is ook skuldig bevind aan die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Simango is verder daaraan skuldig bevind dat hy die Joostes 16 dae voor die moord van R500 beroof het. Nkomo Romeo Mathebula, ʼn vierde beskuldigde, word intussen steeds deur die polisie gesoek nadat hy verlede jaar uit die Ga-Rankuwa-landdroshof ontsnap het.

Staatsaanklaer Mari Marriot het aangevoer die beskuldigdes se optrede het gewys dat lewe geen betekenis vir hulle het nie. ʼn Brief wat deur die egpaar se dogter, Belinda, geskryf is, is in die hof voorgelees.

“My hele lewe en dié van my familie het in ʼn oogwink verander. Een oomblik het ek ʼn ma en ʼn pa gehad en die volgende was hulle weg. Dood. Geskiet. Ons lewe is op ʼn reusemanier geraak. Ons het ʼn reuseverlies gely. Twee mense wat nog baie lewe gehad het om te leef is wreed uit ons lewe weggevat.”

Volgens Belinda het haar ouers se dood veral ʼn groot invloed op haar seuntjie gehad aangesien hy by hulle gebly het. Sy persoonlikheid het verander en hy ontvang steeds berading. Belinda se werk het vereis dat sy baie moet reis. Sy moes egter trek wat ʼn negatiewe invloed op haar beroep gehad het. Belinda se oupa kon nie die skok hanteer nie. Hy was ʼn besige boer, maar het in ʼn kort tydjie as invalide gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swanna ·

Dis tyd dat die galg terug gebring word of die doodstraf soos baie mense dit noem. Dan sal baie van hierdie soort gemors stop gesit word. Maar ons weet die regering van die “dag” het dit verwyder omdat omtrent driekwart van hulle daar ‘n draai sou moes maak.

Gerhard Bezuidenhout ·

Tragies dat so baie mense se lewens ingrypend verander na sulke onsinnige moorde omdat ons in n wettelose land woon waar n lewe nikswerd is nie. Ons polisie en politici ontken steeds dat ons mense op grootskaal vermoor word .

david ras ·

El meen ook dat die doodstraf die enigste wyse is waarop al hierdie moorde gestuit kan word.
Almal weet egter dat dit onder hierdie regime nooit sal gebeur nie.
Daar is ‘n Engelse regsuitdrukking wat lui: The punishment must fit the crime. Dit is waar ons regstelsel ons in die steek laat.
Dit lyk of die strawwe meer aandag gee aan die regte van die boosdoener, as aan die erns van die misdaad self.
Kyk na die gevolge van hierdie saak—die naasbestaandes van die slagoffers sal nooit weer met hulle enige kontak kan he nie. Die dogter sal nooit weer sosiaal met haar ouers kan verkeer nie–raad vra, miskien finansiele hulp, ens.ens. Dieselfde geld vir die kleinseun. Hulle sal vir ewig beroof wees.
In ruil hiervoor, word hierdie kriminele se Vryheid vir’n paar jaar ontneem, en dan kan hulle weer voortgaan met hulle lewens. Hulle het nog steeds kontak met familielede en vriende , selfs binne die tronk ,want daar is immers besoektye.
Die familie van die slagoffers bly egter in ‘n staat van verlies, gevonnis tot ewige afskeid van hulle geliefdes.
My voorstel is data sulke kriminele dieselfd lot moet kry—lewenslange tronkstraf, sonder enige kontak met familie ens nie. Dan kan die staat sy hande in onskuld was oor die doodstraf, maar ten minste pas die straf by die daad, en sal dit moontlik-let wel moontlik–as ‘n afskrikmiddel vir ander moordlustiges dien.

rissiepit ·

David Ras, jy spreek waar woorde. Die probleem is egter dat die algemene publiek moet betaal vir die persoon se bewaking en voedsel ens vir so lank as hy leef. Dus word die algemene publiek saam met die familie van die slagoffers bestraf vir die dade van ´n boosdoener (met baie menseregte).

Delia ·

Hulle moet weer hardepad kry soos in die ou dae…..parke, paaie en sypaadjies sal weer netjies en skoon wees . Al die ‘ekstras’ (TV’s en gims) moet ook ontneem word. DAN sal hulle 2 keer dink voor hulle misdaad pleeg, want dis dan nie meer ‘n vakansie-oord nie!

BullsEye ·

Stem saam dit gaan te lekker in die gevangenis, gratis verblyf en kos ens. en die belastingbetaler moet nog vir sy verdere studies ook betaal! siek !

willem niemandt ·

Ek stem 100%saam met die laaste twee kommentare wat hier verskyn,die gevangenis of lewens tronkstraf is n’koste lose vakansie op die belasting pligtige se kostes.Die ergste is dat die so genamde gevangene na n’paar jaar op parool uitstap en in 80% is hulle weer terug in die vakansie oord binne n’kwessie van n’korttydtjie.Bring terug die doodstaf dis al wat die gepepel tot ander insigte sal dwing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.