Egpaar se moordenaars sit lank

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Drie mans wat Chris Jooste (62) en sy vrou Katrien (61) drie jaar gelede in ʼn besige straat in Soshanguve doodgeskiet het, is in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis.

Regter Lettie Malopa-Sethosa het Victor Mbuyiseni Simango tot twee keer lewenslank en 38 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Solomon Selekane en Collen Peter Malopo is elk tot twee keer lewenslank en 23 jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die drie mans van Winterveld is in Desember 2014 skuldig bevind op die moorde en dat hulle die egpaar van R3.50 kontant beroof het. Hulle is doodgeskiet toe hulle voorraad by ʼn spazawinkel in Soshanguve afgelaai het.

Chris is op pad terug na sy bakkie in die maag geskiet en Katrien is in die bors geskiet toe sy haarself met pepersproei wou verdedig. Sy kon haar dogter Belinda skakel. Hulle het op pad na die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Simango is ook skuldig bevind dat hy die egpaar 16 dae vantevore van R500 beroof het toe hulle ook voorraad afgelaai het.

ʼn Vierde beskuldigde, Nkomo Romeo Mathebula, is nog nie weer aangekeer nadat hy verlede jaar uit die polisie se aanhouding by die Ga-Rankuwa-landdroshof ontsnap het nie.

Malopa-Sethosa het die moorde as ʼn afgryslike daad beskryf. “Moord en roof vind daagliks in al die provinsies plaas,” het sy gesê. “Jong mense soos julle word elke dag aangekeer met ongelisensieerde vuurwapens in hul besit. Dit het hulle daaglikse brood geword.”

Die drie mans, wat almal jong kindertjies het, het volgehou hulle is onskuldig, alhoewel Simango erken het dat hy die Joostes paar dae tevore beroof het.

Malopa-Sethosa het gesê die mans toon geen teken van berou nie en weier om aanspreeklikheid te aanvaar. Sy het gesê Selekane se trane in die hof was nie uit berou nie, maar omdat hy tydens kruisondervraging in ʼn hoek vasgekeer was.

Volgens die regter het ʼn brief van Belinda gewys die familie is geruk deur die moorde: “My hele lewe en dié van my familie het in ʼn oogwink verander. Een oomblik het ek ʼn ma en ʼn pa gehad en die volgende was hulle weg. Dood. Geskiet. Ons lewe is op ʼn reusemanier geraak. Ons het ʼn reuseverlies gely. Twee mense wat nog baie lewe gehad het om te leef is wreed uit ons lewe weggevat.”

Volgens Belinda het haar ouers se dood veral ʼn groot invloed op haar seuntjie gehad aangesien hy by hulle gebly het. Sy persoonlikheid het verander en hy ontvang steeds berading. Belinda se werk het vereis dat sy baie moet reis. Sy moes egter trek wat ʼn negatiewe invloed op haar beroep gehad het. Belinda se oupa kon nie die skok hanteer nie. Hy was ʼn besige boer, maar het in ʼn kort tydjie as invalide gesterf.

Lees alle vorige berigte oor Chris Jooste op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ai tog ·

Het ek reg gelees die paartjie was van R3.50 kontant beroof? Hulle het nie die voorraad gevat wat die paartjie afgelaai het by die Spaza winkel nie. Harteloos verby, en mense se lewens beroof en dit vir wat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.