Egpaar, seun vas oor wapens en polisie-toerusting

Foto: @SAPoliceService/Twitter

Foto: @SAPoliceService/Twitter

‘n Egpaar van KwaZulu-Natal en hul seun is in hegtenis geneem nadat vuurwapens, ammunisie en verskeie polisie-toerusting in hul besit gevind is.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê die 37-jarige vrou en haar 20-jarige seun is Maandagmiddag op ‘n plaas naby Umzinto aan die suidkus in hegtenis geneem. Die vrou se man, in sy 40’s, het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee.

Naicker sê die polisie het onder meer op ‘n R5-aanvalsgeweer, ‘n 9mm Norinco-pistool, twee koeëlvaste baadjies, twee polisie-weerkaatsingsbaadjies, ‘n baadjie wat op misdaadtonele gebruik word, traangas, handboeie en talle rondtes ammunisie beslag gelê.

Naicker sê inligting oor ‘n vuurwapen wat glo in ‘n saak van poging tot moord gebruik is, het tot die klopjag gelei. Hy sê van die ammunisie en die polisie-toerusting is in die seun se rondawel op die plaas gevind.

“Die polisie het hierna die huis, waar die ouers woon, deursoek en ‘n gat in die vloer ontdek onder ‘n bed in een van die slaapkamers.” Naicker sê talle rondtes ammunisie is hier gevind terwyl die R5-aanvalsgeweer en pistool in ‘n vrieskas in die huis gevind is.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die polisie-toerusting moontlik in 2012 gesteel is toe daar by ‘n polisievoertuig in Durban ingebreek is,” sê Naicker. Die egpaar en hul seun sal binnekort in die Umzinto-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.