Egpaar sterk aan ná Marquard-aanval

Celia en Lourie van der Merwe Dinsdag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Celia en Lourie van der Merwe Dinsdag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Hoewel ʼn geliefde egpaar van die plattelandse dorpie Marquard in die Vrystaat steeds die skok verwerk nadat hulle Saterdagaand in hul huis oorval en verskeie keer met die dood gedreig is, word hulle deur hul geliefdes ondersteun en sterk hulle goed aan in ʼn Bloemfonteinse hospitaal.

Maroela Media het Maandag berig ʼn onbekende man het Lourie van der Merwe (60), ʼn landbou-adviseur en voormalige pastoor, en sy vrou, Celia (60), om 23:00 in hul huis oorval toe die egpaar geslaap het. Hulle is vir langer as ʼn uur aangehou en aangerand. Die aanvaller het in ʼn stadium brandstof en chemikalieë oor Lourie gegooi en wou hom aan die brand steek. Die vuurhoutjies wat hy by hom gehad het wou egter nie vlamvat nie aangesien dit natgereën het.

Die aanvaller het uiteindelik met R250 en ʼn selfoon gevlug toe Celia in ʼn stadium uit sy kloue kon wegkom om hulp te ontbied. (Lees die volledige berig hier.)

Ilse Botha (35), die egpaar se oudste dogter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Celia moes Maandagaand ʼn operasie ondergaan aangesien sy tydens die aanval onder meer met ʼn mes in haar gesig gesteek is.

Die mes het haar langs haar neus getref en sy het ʼn fraktuur in haar wangbeen en bokaak opgedoen.

“Haar onderste kakebeen het geen breuke nie. Die neus se breuk is ook nie so erg soos wat die skandering gewys het nie. Sy was vir sowat ʼn uur en half lank in die teater waartydens haar dokter alles mooi kon regmaak. Sy het baie swelling en is maar blou. Sy is nog op sagte vloeistof en kan nog nie eet nie,” het Botha gesê.

Botha het gesê haar pa het Dinsdagoggend toetse ondergaan nadat die aanvaller chemikalieë in sy oë gegooi het.

“Daar is 50% verbetering in sy sig sedert Sondag se ondersoek. Daar is gelukkig geen permanente skade nie. Dit gaan net tyd vat om te herstel. Maar verder gaan dit goed. Hul emosies was baie op en af gister maar ons kyk weer vorentoe vandag en hulle is rustig.”

Botha en haar suster, Amanda Hedges (31), het almal bedank wat hulle die afgelope tyd bygestaan en vir hul ouers gebid het. “Hou hulle steeds in jul gebede, asseblief. Alles wat ons sien is net wonderwerke.”

Botha het gesê die gesin het nog nie terugvoer van die polisie gekry oor enige vordering in die saak nie.

Lourie en Celia van der Merwe voor die aanval. Foto: Verskaf

Lourie en Celia van der Merwe voor die aanval. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Waar is die sg hoofstroom media berigte hieroor? As dit wel berig word is dit op bladsy 8 of verder. ‘Hoe profiel sake’ volgens Rapport is almal wit mense betrokke. Waar is die opjektiwiteit? Is hierdie aangeleentheid waarna verwys dan ‘lae profiel’? Hoe sinies kan mens raak? Of word die ‘hoofstroom media’ tans beheer deur elemente wat ons as sg wit mense as onbelangrik beskou? As so iets in enige westerse land gebeur het, sou die hele wereld daarvan geweet het. Wat doen ons aan onsself?

Sterkte ·

So bly julle is aan die aansterk. Baie sterkte vorentoe, en ek hoop julle herstel volkome, julle fisiese en emosionele wonde. Die Here het julle van die dood bewaar, want hierdie mense was beslis daar om julle te vermoor. Mag die son weer oor julle skyn en hierdie wreedaards vasgetrek word.

lettie ·

Dankie vd Here se genade dat daar geen permanente skade is aan sy oe nie en dat hul aansterk. Het hierdie uiters wrede en barbaarse aanval ooit genoeg mediadekking gekry?

Engela de Klerk (van der Merwe) ·

Ek bid vir hierdie egpaar vir volle herstel. Ek is só geraak oor die misdaad en wreedheid op mense-lewens in SA.

Sylvia ·

Dit is so hartseer, hoekom hulle so erg aanrand! Dit is net wreed… vat die geld en gaan. Almal wat aangeval word, word erg gemartel, hoekom is dit nodig om ou mense so seer te maak?

Drikus ·

Waarom so wreedaardig? Waarom enigsins? Mag die pragtige onskuldige egpaar spoedig herstel. Ons is lief vir julle.

Mossie ·

Bid vir julle volkome genesing na liggaam en gees toe, Laurie en Celia. Ons is dankbaar dat julle lewendig hieruit gekom het. Julle is gelukkig dat julle kinders het om julle by te staan; moet net nie toelaat dat hierdie skurke wat dit aan julle gedoen het, julle in vrees laat lewe nie. God sal genesing bring en ons bid vir julle.

Johannes Meintjes ·

Betreurenswaardig! Empatie met die trauma. Wil ons nie maar tog ons Plaaswagte, Buurtwagte, GPF deelname, Belastingbetaalersvereenigings en veral persoonlike en woonhuis of plaas paraathied opskerp nie? Wil families nie in groter getalle op familieplase inwoon nie? Wil groepies plotte en plase nie buurskap, beheerde ingangsroetes, opsporingsstelsels en strategiese kameras met SIM kaart beheer implimenteer nie? Verkoop miskien daardie ou trekker, ploeg of “antique”, en verbeter sekerheid ter wille van burgerlike beskerming in die vervallende en brutale Nuwe SA.

SARIE VAN HEERDEN ·

Johannes, jy maak planne wat aanbeveelbaar is maar ons sal nog steeds vermeng lewe met goed wat ‘n kriminele geen het waarteen jy magteloos staan. Het jy daarvoor raad?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.