Egpaar stry voor vrou, kinders in huis doodbrand

Adv. Gerrie Nel. Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

Bystanders het gehoor hoe Naeem op Suraya Deedat skree, enkele ure voordat Suraya en haar vier kinders in hul huis in Ormonde, Johannesburg, doodgebrand het. Die deur na die deel van die huis wat gebrand het, was boonop van binne gesluit.

Só het getuies Donderdag tydens die geregtelike doodsondersoek (GDO) van Suraya en haar kinders getuig. Die brand het op 12 Julie 2011 plaasgevind. Naeem Deedat was die enigste oorlewende. Hy kon daarin slaag om deur die badkamervenster te ontsnap. Niemand is nog vir hul dood aanspreeklik gehou nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het Suraya se familie op 12 en 13 Februarie verteenwoordig in die GDO ná haar en haar vier kinders se dood.

Vier getuies is in hierdie tyd ondervra en die getuienis wat hulle gelewer het, sal as bewyse dien in ’n moontlike latere strafsaak. Die eerste getuie, Ashley Jones, het ten tyde van die voorval oorkant die Deedats se huis gewoon en Naeem gehelp om deur ’n badkamervenster by die brandende huis uit te kom. Jones het, nadat adv. Nel hom ondervra het, erken dat Naeem tydens die hele reddingspoging in die badkamer buite bereik van die vlamme was.

Staatsaanklaer Gerrie Nel. Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Die tweede getuie, adjudantoffisier Jacobus William Venter, was aan diens in die gebied op die aand van die voorval en op die toneel nadat ADT die brand by hom aangemeld het. Venter het ’n breekyster gebruik om die diefwering van die badkamervenster te verwyder, die badkamer binnegegaan en Naeem gehelp om by die venster uit te klim. Hy het Naeem gevra of daar nog mense in die huis is, waarna Naeem (volgens Venter) ná huiwering aangedui het dat sy vrou en kinders in die huis was. ’n Groot gedeelte van Venter se getuienis het ook gehandel oor die skokkende onthulling dat een van die deure op pad na die gedeelte in die huis waar Suraya en die kinders was, van binne af gesluit was.

Die derde getuie, Jacob Polelo, het op 12 Julie om 17:00 gehoor hoe Naeem op Suraya skree. Polelo het dié aand in die bosse naby die Deedats se huis deurgebring. Hy het op 13 Julie 2011 omstreeks 02:00 rook by die huis sien uitkom. Polelo het ook getuig dat hy op daardie tydstip vir Naeem buite die huis gesien het en dat Naeem besig was om na binne deur die venster te loer terwyl die huis gebrand het. Naeem het Polelo van die huis af weggejaag nadat Polelo sy hulp aangebied het. Polelo het egter nie gesien dat Naeem weer die huis binnegaan nie. Polelo sal op 20 Februarie 2020 deur Naeem se regsverteenwoordiger kruisondervra word.

“Dit is belangrik dat AfriForum by sake soos hierdie betrokke raak, aangesien ons nie kan toelaat dat selektiewe vervolging die norm word in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel nie. Hierdie familie verdien geregtigheid vir wat met Suraya en haar kinders gebeur het. As die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie in hierdie geval in die belang van geregtigheid wil optree nie, is dit in belang van elke liewe mens in die land dat AfriForum dit wel doen,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid.

Die saak sal op 18 Februarie voortgesit word, wanneer ’n deskundige se mening oor die gebeure voorgelê sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

Dankie vir die organisasie wat ons regstelsel wil bewaar.

madels ·

Dis baie verdag dat die pa nie juis hulp wou verleen nie en dat die deur van buite gesluit was, duidelik het hy nie eers probeer om sy vrou en kinders te red nie maar net homself. So duiwels

Foefie ·

As hierdie man darem verantwoordelik was vir die dood van sy vrou en vier kinders… weet ek darem nie. Dan moet hy ‘n onmenslike monster wees. Ek hoop en vertrou reg en geregtigheid geskied.

Belinda ·

Dankbaar vir geregtigheid. Mag sy kierangs braai. Dit is onmenslik om toe te laat dat jou vrou en kinders dood brand.

Jaco ·

dis seker baie edel van gerrie nel om hier te help, maar ek wonder maar net: hoe gaan sy betrokkenheid by hierdie saak ‘n posetiewe verskil maak aan gevalle soos onteiening sonder vergoeding, regstellende aksie, plaasaanvalle en plaasmoorde? Sekerlik kan hierdie geval ook hanteer word deur n organasie soos Lawyers for Human Rights.
Al Afriforum se agteroorbuig met sake wat met afriforum se belange, lede en mense eintlik niks te doen het nie, gaan op die lange duur ook nie afriforum se “beeld” na buite verander nie. die anti-wit owerhede van SA gaan dit maar net beskou as sogenaamde “window dressing”.
bepaal julle liewer by goed wat ons mense regtig raak.

Magda ·

Trotse Lid van Afriforum – Glo en vertrou dat julle die skuldiges sal laat boet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.