Egpaar swaar gestraf vir bedrog van R23 m

Argieffoto

Die Bellville gespesialiseerde kommersiële misdaadhof het Dinsdag ʼn egpaar aan die pen laat ry vir altesaam 188 aanklagte van bedrog.

Volgens kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, is Wessel (55) en Mariaan Germishuys (52) skuldig bevind aan dié aanklagte van bedrog wat sowat R23 miljoen beloop.

Die egpaar, wat onder meer vir Zanco Engineering Services BK en Towers for Africa gewerk het, het glo tussen Januarie 2009 en Augustus 2013 verskeie fiktiewe fakture opgestel waarna betalings aan hulle gemaak is. Hulle is ook daarvan beskuldig dat hulle ʼn bestaande faktuurkortingsfasiliteit, wat die egpaar by Nedbank gehad het, deur middel van verskeie bedrieglike transaksies misbruik het.

Die egpaar is in middel 2015 in hegtenis geneem ná ʼn ondersoek deur die Valke en Nedbank se interne forensiese ondersoekspan.

Wessel is gevonnis tot 14 jaar gevangenisstraf waarvan ses jaar opgeskort is. Hy moet minstens agt jaar uitdien. Mariaan is gevonnis tot agt jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar. Sy moet drie jaar onder korrektiewe toesig aflê.

Genl.maj. Nombuso Khoza, die Wes-Kaapse provinsiale Valke-hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, het dié vonnisoplegging verwelkom.

“Misdaad kom voor in alle bedrywe, en deur middel van ons onbeperkte ondersoeke sal ons seker maak dat almal wat hulle aan die misdade skuldig maak, aan die pen gaan ry,” het sy gesê.