Egpaar ure lank op plaas vasgebind

plaas-polisie-veld

Argieffoto

ʼn Egpaar van Mpumalanga moes die afgelope naweek ure lank spook om hulself te bevry nadat aanvallers hulle op ʼn plaas oorval, vasgebind en aangerand het.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Saterdag omstreeks 11:00 in die Kaapmuiden-omgewing plaasgevind toe David (86) en Colleen (84) Elphick by die huis aangekom en die hek oopgemaak het.

“Drie mans in klapmusse, gewapen met pangas en vuurwapens, het hulle genader en hulle in die huis in gedwing,” het Sedibe gesê.

Die egpaar is gedwing om die kluis oop te maak. “Hulle is in die proses vasgebind met kabelbinders. Die vrou is met vuiste aangerand en die man is met die panga geslaan,” het Sedibe gesê.

Die verdagtes het van die plaas gevlug met drie vuurwapens en ʼn onbevestigde bedrag kontant. Dit is in dié stadium onbekend of hulle te voet of met ʼn motor van die plaas gevlug het.

Die egpaar kon omstreeks 14:00 daarin slaag om hulself los te wikkel en het hulp ontbied. Volgens Sedibe het hulle ook beserings opgedoen waar die kabelbinders hulle geskaaf het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan ao. Lucky Shabanghu by 082 448 1688 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Lolla ·

Julius werk nou harder as Cyril lyk dit my…. Baie hartseer.

Alida ·

Ai tog die arme ou mense. Sterkte vir hulle en hul kinders.

naam loos ·

net baie bly hulle lewe nog.
Wees maar net paraat asseblief jong die lewe is siek.

Callie ·

Dink nie Julius weet hoe om te reageer as mense aangeval word nie

Lana ·

Net huisroof???? Poging tot moord is mos nou die in ding….wat as hulle nie los gekom het nie sou hulle dood gaan van honger of dors…. Dit is mos wat poging tot moord is…

Pop ·

Lana ek sou dink as jy iemand met n panga slaan is dit poging tot moord. En raai wat. Die mense in ander lande dink ons photo shop die fotos van wrede aanrandings op mense.

Pieter ·

Van die polisie tot die howe is daar dubbele standaarde. Weereens ‘n voorbeeld. Die kwaad wat die twee slagoffers aangedoen is, regverdig minstens aanranding met die oog om ernstig te beseer.

Gifappeltjie ·

Eerstens, dankbaar die mense leef!!
Maar, julle is 86 en 84? Julle moet UITKLIM om hekke oop te maak?

jennefer ·

Ek weet van bejaardes wat op plase en kleinhoewes woon net omdat dit goedkoper is. Die mense het nie geld vir sekuriteit nie.

Cherokee ·

Ramaphosa en Malema word nie meer as sulks bespreek nie. Hulle het heel vriendelik Cyril en Julius geword. Julle kan maar probeer maar samewerking sal daar nie wees nie.

PJC ·

Ek hoop hierdie twee herstel volkome. Ongelukkig is mense nog nie vodoende veiligheidsbewus nie. Dit is ontstellend om te sien hoe min veiligheidsbewus sommige mense op plase en kleinhoewes nog is.

jennefer ·

Ek weet van bejaardes wat op plase en kleinhoewes woon net omdat dit goedkoper is. Die mense het nie geld vir sekuriteit nie.

SjN ·

Wat soek die lafaards in elk geval op die plaas, hul het mos niks daar verlore, target sagte teikens, te bang om hul size te probeer, hoop die bejaardes herstel volkome.

Tracy-Mia Lötter ·

Skokkend. Dis onmenslik en die kwaaddoeners is nog op vrye voet, sekerlik besig om planne te beraam vir nog ‘n “kontantonttrekking”. Die feit dat hulle ‘n paar hulpelose ou mense kan verneder en verinneweer is ‘n bonus. Sielkundige handboeke noem die verskynsel psigopatie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.