
Argieffoto
ʼn Egpaar van Mpumalanga moes die afgelope naweek ure lank spook om hulself te bevry nadat aanvallers hulle op ʼn plaas oorval, vasgebind en aangerand het.
Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Saterdag omstreeks 11:00 in die Kaapmuiden-omgewing plaasgevind toe David (86) en Colleen (84) Elphick by die huis aangekom en die hek oopgemaak het.
“Drie mans in klapmusse, gewapen met pangas en vuurwapens, het hulle genader en hulle in die huis in gedwing,” het Sedibe gesê.
Die egpaar is gedwing om die kluis oop te maak. “Hulle is in die proses vasgebind met kabelbinders. Die vrou is met vuiste aangerand en die man is met die panga geslaan,” het Sedibe gesê.
Die verdagtes het van die plaas gevlug met drie vuurwapens en ʼn onbevestigde bedrag kontant. Dit is in dié stadium onbekend of hulle te voet of met ʼn motor van die plaas gevlug het.
Die egpaar kon omstreeks 14:00 daarin slaag om hulself los te wikkel en het hulp ontbied. Volgens Sedibe het hulle ook beserings opgedoen waar die kabelbinders hulle geskaaf het.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan ao. Lucky Shabanghu by 082 448 1688 kontak.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
Kom Julius sê iets oor die aanrandings van mense
Ai tog die arme ou mense. Sterkte vir hulle en hul kinders.
net baie bly hulle lewe nog.
Wees maar net paraat asseblief jong die lewe is siek.
Dink nie Julius weet hoe om te reageer as mense aangeval word nie
Net huisroof???? Poging tot moord is mos nou die in ding….wat as hulle nie los gekom het nie sou hulle dood gaan van honger of dors…. Dit is mos wat poging tot moord is…