Egpaar ure lank tydens aanval in kluis toegesluit

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval vroeër die maand in die Himeville-omgewing in KwaZulu-Natal.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die inhegtenisnemings volg op ʼn intelligensiegedrewe ondersoek ná die voorval op 10 Februarie.

“’n Egpaar is omstreeks 21:30 deur vyf verdagtes op hul plaas oorval. Die verdagtes het vuurwapens op hulle gerig en aangedring op waardevolle besittings. Die egpaar is vasgebind en in ʼn instapkluis ingedwing en daarin toegesluit,” het Gwala gesê.

Die egpaar het die hele nag in die kluis deurgebring en kon eers die volgende dag hulp ontbied nadat hulle daarin kon slaag om los te kom. Die verdagtes het onder meer met klere en juweliersware in die egpaar se voertuig van die toneel gevlug.

Die Himeville-polisiestasie het ʼn saak van huisroof en motordiefstal aanhangig gemaak. Die voertuig is later verlate in die omgewing gevind.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 30 jaar oud, is Donderdag in hegtenis geneem. Van die ware wat tydens die huisroof gesteel is, is in hul besit gevind. Hulle moet binnekort in die Himeville-landdroshof verskyn. Die soektog na hul medepligtiges duur voort.

Gwala het gesê verdere ondersoek word ingestel om te bepaal of die verdagtes met twee onlangse plaasaanvalle in die omgewing verbind kan word.

Maroela Media het vroeër berig Trevor Rees (79) van die Underberg-omgewing in KwaZulu-Natal, is op 11 Februarie in die hospitaal dood nadat hy ʼn week tevore aangeval en onder meer met Jik en ʼn tang gemartel is.

Reeds se aanval was skaars ʼn week nadat nóg ʼn boer van die omgewing, Gavin Carter (47), deur drie mans tydens ʼn aanval op sy plaas doodgeskiet is.

Drie verdagtes is op 10 Februarie in hegtenis geneem in verband met dié twee moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

popeye ·

Wat my bekommer en dankie tog die mense is OK, is dat hierdie tipe aanvalle nou daagliks gebeur! Ek is net bang die boewe kry ‘n boodskap…maak dood ten alle koste want dan kan hulle moeiliker uitgewys word. Vir R1 of ‘n voertuig is ons nie meer ons lewens seker vandag nie! Anargie heers!

AL ·

Waarom nie poging tot moord as die egpaar toegesluit was in die kluis nie? Se nou hul kon nie ontsnap uit kluis nie?!

Theresa ·

Wat se naam het hierdie oorlog wat gevoer word? Want dis presies wat dit geword het.

AL ·

Ek sien met die vrou van KZN wie dood gevind is by die rivier het News 24 n berig geplaas, met nogal gedokumenteerde plaasaanvalle blokkie na artikel! Hoekom sien mens dit dan nooi as Top Story nie!!!

Pop ·

Theresa mens noem dit huurmoordenaars. Dis wat dit is. Ons kan net raai wir betaal hulle

sue ·

Sal graag wil weet hoe ontbied mens hulp as jy in ń kluis toegemaak is? wil net weet vir in geval…..

Mauzi ·

Ja mens lees gereeld daarvan,wat vir my n riem onder die hart is,is die feit dat daar n dag of 2 later weer n berig is daaroor en die skelms is dan aangekeer. So bly dat hulle gevang word,wys net polisie is besig om beheer te vat. Of die gereg nou sy gang sal gaan is n ander storie. Nietemin well done SAP!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.