Egpaar van SA sterf tydens eilandvakansie

Fatima Turner en Victor Allers tydens hul eilandvakansie. (Foto: Facebook)

ʼn Suid-Afrikaanse man en sy vrou is Maandag tydens hul vakansie op die Indonesiese eiland Bali dood.

Die boot waarop die egpaar was, het omgeslaan en hulle het vermoedelik verdrink.

Victor Allers (43) van Despatch in die Oos-Kaap was die afgelope ses jaar met die Brasiliaan Fatima Turner (48) getroud. Fatima het die afgelope tien jaar in Suid-Afrika gewoon en die egpaar het sowat twee weke gelede met vakansie vertrek.

Die plan was om tussen verskillende eilande te reis, vertel Brenda Viljoen, Victor se ma, Woensdag aan Maroela Media.

“Hulle het ʼn wonderlike tyd gehad. Dit was net fantasties. Victor het elke dag vir my die mooiste foto’s van hul vakansie aangestuur. Dit voel onwerklik. Toe ek vanoggend op my foon kyk en daar is nie ʼn boodskap nie, het ek gecrack.”

Brenda vertel dat die egpaar veronderstel was om op 23 September van hul vakansie terug te keer. Nooit sou sy dink dat haar kind nie lewend van dié idilliese vakansie sou terugkeer nie.

Hoewel die besonderhede rakende Victor en Fatima se dood in dié stadium onduidelik is, word daar vermoed dat hulle Maandag omstreeks 14:00 Suid-Afrikaanse tyd op die water uitgegaan het.

“Niemand is eintlik seker wat gebeur het nie, maar Fatima was ʼn baie verantwoordelike vrou en sy sou nie op ʼn boot geklim het as die water onstuimig was nie. Ons vermoed dat ʼn fratsgolf die boot omgeslaan het,” vertel Brenda.

Brenda Viljoen by haar seun Victor Allers. (Foto: Facebook)

Die kaptein het ʼn reddingsbaadjie aangehad en het die voorval oorleef. Victor en Fatima het egter nie reddingsbaadjies aangehad nie en waarskynlik probeer swem nadat die boot omgeslaan het, maar moeg geword en uiteindelik verdrink.

Luidens berigte het die boot in die water naby Devil’s Tear Cove by die Nusa Lembongan-eiland omgeslaan.

“Hul liggame is na ʼn hospitaal geneem en hulle is daar dood verklaar.”

Brenda vertel dat sy omstreeks 18:00 die oproep ontvang het om haar in kennis te stel van haar seun se dood. “Ek was histeries, maar is nou kalm. Ek weet dit gaan hom nie terugbring nie. Hulle was ontsettend lief vir mekaar. Dit was die Here se bestiering dat hulle saam oorlede is. Die een sou nie sonder die ander een klaarkom nie,” sê sy.

Victor en Fatima laat elkeen ʼn seun uit vorige huwelike na.

Volgens Brenda kon daar nog geen begrafnisreëlings bevestig word nie aangesien die oorskot nog na Suid-Afrika gebring moet word.

Maroela Media het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) vir kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Spogsog ·

Baie jammer tannie, sterkte ek bid dat die Here jou sal toe vou met sy liefde

Rob ·

Die kaptein het n reddings baatjie aan gehad en nie hulle nie!!!!!!

Zelly ·

Mag Liewe Jesus jou troos tannie. 2 Mooi mense! Baie sad..maar beter altwee saam weg…

humor ·

Rob ja, en nou???????? Die kaptein moes met die vertrek gesorg het dat alle persone reddingsbaadjies aangehad het, en dat alle veiligheidsmaatreels in plek is.

EO ·

Ek stem!! Dis die kaptein se verantwoordelikheid om toe te sien dat almal reddingsgordels aan het. Ek sou vir een gevra het as die kaptein niks gesê het om een aan te trek nie.

Hannelie ·

Hoekom word daar gepraat van “oorskot” en nie liggame nie?

Joke! ·

Ag genade…n mens kan nie eens meer gaan vakansie hou en veilig wees nie…My meegevoel aan vriende en familie…

Ina ·

Mens sou dink dat reddingsbaadjies wetlik verpligtend moét wees vir élkeen wat op ‘n boot klim! Hoéveel bote slaan om!? Jy weet nóóit wanneer en/of waar dit gaan gebeur nie! En tog dink mense hulle is 100% veilig daarop. Tsk! As ‘n motor op die pad omslaan het jy ‘n redelike kans tot oorlewing. Wanneer ‘n boot omslaan, wat is jou kans….?

ES ·

Toe ek en my vrou twee jaar terug op ons wittebrood na Phuket was, het ons ook nie reddingbaadjies aangehad op ‘n eilandtrip nie, hoewel daar genoeg op die boot was vir almal (ons was omtrent 30 mense).

Eers toe ons gaan snorkel het, het hul vir die mense wat nie kon swem nie reddingsbaadjies gegee. Van die 30 mense, was ons net 7 wat kon swem… ongelukkig op hierdie tipe eiland vakansies word basiese maritime reels nie altyd gevolg nie.

Vreeslik tragies en baie sterkte aan hul families.

Koos ·

RIV my vriend – jy gaan n groot leemte los. Gaan jou mis ou maat… tot ons mekaar weer sien

Redding ·

Dis so jammer. Maar mens is ook nie altyd lus om ‘n baadjie aan te trek wat jy weet nie wie voor jou gedra het nie. Moet dalk jou eie saamneem.

Yvette ·

My innige meegevoel vir tannie en mag die Here tannie vertroos in die moeilike tyd. Nou my vraag is, gaan die kaptein van die boot verantwoordelik gehou word vir hul dood omdat hy nie gesorg het dat hulle life jackets aan het nie of gaan dit gesien word as n frats ongeluk??? Hy het geweet dat hul daai baadjies moet dra. As ek dit nie mis het nie, is dit n vereiste. Niemand dink aan daai arme kinders wat nou sonder n mamma en pappa is nie. My hart breek vir hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.