Egpaar vas oor vrou se ontbinde liggaam in Bloem-gastehuis

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Polisiebeampte se vinnige optrede het daartoe gelei dat ʼn egpaar in hegtenis geneem is in verband met die moord op Elmarie van Zyl (40) wie se ontbinde liggaam onlangs in ʼn gastehuis in Bloemfontein gevind is.

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisiebeampte het in die strate van Harrismith rondgery toe hy ʼn verdagte egpaar met ʼn baba in McKechniestraat opgemerk het. Volgens Mophiring het die man vir die polisiebeampte bekend gelyk maar was hy nie seker hoekom nie.

Die polisiebeampte, ao. JH Beyers, het vinnig ʼn internetsoektog op sy foon gedoen. “Ek het die man van êrens af herken en kon onthou dat ek sy foto in die koerant gesien het. Ek het die man genader en myself aan hom voorgestel. Hy het sy identiteitsdokument aan my gegee en ek het besef dit is dieselfde man wie se foto in die koerant verskyn het.” Beyers het sy kollegas ontbied en die egpaar is in hegtenis geneem.

Van Zyl se erg ontbinde liggaam is omstreeks 18:00 op 11 Maart in ʼn gastehuis in McHardystraat in die woonbuurt Brandwag deur ʼn skoonmaker aangetref nadat sy ʼn onaangename reuk in die kamer geruik het.

Haar naakte liggaam is tussen die basis van die bed en die matras versteek. Sy is glo verwurg en die vermoede bestaan dat sy ook verkrag is. Daar is vasgestel dat sy Saterdag 7 Maart omstreeks 20:00 saam met ʼn onbekende man en vrou by die gastehuis ingeboek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

CHRISTA ·

Gee Beyers ‘n Bells!! Dankie tog, van ons polisiemanne is nog wakker en op hulle pos! Dit bewys weer eens as daar spoedig opgetree word, kan meer misdadigers agter tralies land.

scalla ·

Puik werk ao Beyers, jy loop daai ekstra myl, hoop hul sien dit raak

Babs ·

Baie geluk ao Beyers, So het ons mos die polisiediens geken. Manne wat wakker is.

Tammy ·

AO Beyers moet erkenning kry! Dit was besonder goeie werk. Wat van n finasiele toegewing vir hom? Dis tog die beste motivering wat ook mense aanmoedig om nog goeie werk te doen. Daar word tog baie geldelike belonings aangebied.
Baie dankie, uitstekende werk!

Elfie ·

Goeie werk! Die berig is egter mys insiens nie heeltemal volledig nie – wat nou van die baba by die egpaar en wat het van hom/haar geword ens ens… Sou graag meer inligting wou lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.