Egpaar vas wat hulle as mediese praktisyns voordoen  

Foto: Verskaf

ʼn Vrou wat onwettig as dokter gepraktiseer het, is saam met haar man in Molteno in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê daar is in September inligting ontvang dat die vrou nie by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) van Suid-Afrika geregistreer is nie, maar as ʼn mediese dokter gepraktiseer en medisyne aan pasiënte gee. Die vrou het minstens twee jaar lank gepraktiseer.

Ondersoekers het met die RGB kontak gemaak en die raad het ʼn verklaring uitgereik wat die aantygings gestaaf het. ʼn Klopjag is Donderdag by die praktyk uitgevoer en die vrou en haar man is in hegtenis geneem. Die polisie het op bykans R700 000 se medikasie beslag gelê.

Foto: Verskaf

Die RGB het die egpaar intussen geïdentifiseer as Mandisa Pearl Raxangana en haar man, Andile. Volgens die RGB het die egpaar onwettig as mediese praktisyns gepraktiseer terwyl hulle nie by die raad geregistreer is nie en medisyne verskaf sonder ʼn geldige resepteringslisensie.

Mandisa Raxangana het volgens die RGB ook ʼn vals registrasienommer op haar mediese sertifikate gebruik. Sy het glo in 2003 as mediese student aan die Walter Sisulu Universiteit geregistreer maar al haar modules gedruip en uitgeval. Sy het in Januarie 2019 as mediese praktisyn begin praktiseer met haar man wat ook pasiënte gesien het.

Hulle het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van bedrog en die oortreding van die Wet op Medisyne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Ag net ‘n ou boetetjie dan is hulle more weer op straat om verder te praktiseer. Daar moet ondersoek ingestel word hoeveel pasiente oorleef en hoeveel dood is.

Jaco ·

Ek wonder waar kom al die medisyne vandaan?. Dalk van staats hospitale. Daar moet gekyk word hier is meer mense betrokke.

Jacobus ·

So. ‘n Hele kabinet vol individue wat voorgee hulle weet wat hulle doen. ANC 10 Skud Afrika 0.

jzjz05 ·

Dit sal nogal intersant wees om te weet wie die verskafer is van die medisyne aan n ongestreerde praktiseer.

Renier ·

Dink nie hulle is die enigste “dokters” daar buite nie.. Daar is net so baie
“ongekwalifiseerde” aptekers, ingeneurs, en prokureurs wat die mense bedrieg.

KB ·

Kla hulle aan vir “Misdaad teen die mensdom”.
Hulle is niks anders as wreedaards nie.

Juffrou ·

Stel ondersoek in waar kom dié medikasie vandaan? Van hul trawante in Staatshospitale én staatsapteke?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.