Egpaar vas wat met vuurwapen op bus wou reis

Argieffoto van ‘n Intercape-bus (Foto: Intercape, Facebook)

Polisiebeamptes van die Johannesburg Sentraal-misdaadeenheid het ʼn man en ʼn vrou in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie by Railwaypark-stasie.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het Saterdag gesê beamptes was besig met ʼn roetine stop-en-deursoek-misdaadvoorkomingsoperasie toe hulle die egpaar voorgekeer het wat met ʼn Intercape-bus na Kaapstad wou reis.

“Hulle het die egpaar deursoek en ʼn vuurwapen en ammunisie in die vrou se handsak gevind. Die vuurwapen het nie ʼn reeksnommer gehad nie,” het Mbele verduidelik. “Toe beamptes haar oor die vuurwapen wou ondervra, het sy na haar man gewys, vermoedelik om aan te dui dat dit hy was wat dit in haar handsak geplaas het. Albei is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Die polisie se ondersoek duur voort. Die twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 39 jaar oud, sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.