Egpaar verkool ná hy vrou glo aanval

Foto verskaf deur SAPD Limpopo

Die polisie in Limpopo stel ondersoek in ná die verkoolde oorskot van ʼn 62-jarige man en sy 57-jarige vrou Woensdagoggend in Driekop buite Burgersfort gevind is.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is omstreeks 05:30 deur lede van die gemeenskap ontbied toe hulle die gille van kinders by ʼn huis gehoor het. Die huis was in vlamme gehul.

“Die brandweer en nooddienste het ook op die oproep reageer. Met hul aankoms by die toneel was die egpaar se motor, ʼn Nissan-bakkie, reeds uitgebrand. Tydens die aanvanklike ondersoek het beamptes op die egpaar se liggame afgekom,” het Mojapelo gesê.

Die polisie het ʼn bloedbevlekte wapen langs die vrou se liggaam gevind en ʼn bottel met vlambare vloeistof is ook in die omgewing gevind.

Foto verskaf deur SAPD Limpopo

“Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die 62-jarige man sy vrou vermoor het. Hy het vermoedelik daarna die motor aan die brand gesteek, vlambare vloeistof oor homself uitgekeer en ook homself aan die brand gesteek.”

Die oorledenes is uitgeken as Phillip Mafalo en Magdeline Mpana Mahlokwane.

“Dit is nog nie duidelik wat tot dié grusame voorval gelei het nie, maar huishoudelike geweld kan nie uitgesluit word nie,” het Mojapelo bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

@James, ek dink dit is ‘n kwessie dat mense nie meer die stress in hulle lewens kan hanteer nie, en dan is dit wat nou hier gebeur het, die eindresultaat. Baie hartseer eintlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.