Egpaar verongeluk ure voor kleinseun se matriekafskeid

Marinda en Bertus Visser (Foto: Verskaf)

Bertus en Marinda Visser van Klerksdorp in Noordwes se blou Toyota Camry was volgepak toe hulle Saterdag op pad na hul dogter se huis in Germiston in ’n trompop botsing op die N12 naby Fochville betrokke was.

Hulle sou by hul dogter en haar gesin gaan kuier het vir hul kleinseun se matriekafskeid wat Saterdagaand plaasgevind het.

“Die ouens van die insleepdiens het gesê ’n mens kon sien dis ’n ouma en oupa wat op pad was na hulle kinders en kleinkinders,” vertel hul dogter, Sire Hattingh.

Haar ma, Marinda (71), is op slag dood terwyl haar pa, Bertus, wat volgende week 70 jaar oud sou word, in ’n ambulans na ’n hospitaal gehaas is waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Die egpaar was 49 jaar getroud.

Hattingh vertel aan Maroela Media dat sy ná die oproep oor haar ouers se ongeluk haar jongste in haar oudste seun se sorg voor die matriekafskeid gelaat het en haar na die hospitaal gehaas het. Sy kon nog van haar pa afskeid neem voor sy dood.

Marinda en Bertus Visser (Foto: Verskaf)

Sy sê haar ouers was baie betrokke by hul kerk en die gemeenskap van Klerksdorp en het oor die jare talle lewens aangeraak.

“My pa was nog by sy bewussyn op die toneel en hy het tot op die ongelukstoneel nog ’n impak gemaak. Die nooddienste het hom almal op sy naam genoem.

“Ek weet my ouers is hemel toe.

“Hulle het die saadjie geplant. Hulle het werk verrig en hulle is op beter plek. Hulle was ware koningskinders van God. Ek kon nie vir ’n beter ma en pa vra nie. Hulle was altyd daar en het uit hul pad gegaan om mense te help.

“Sáám was hulle die bediening. Hulle was mekaar se regterhande.”

Maroela Media het vroeër berig nooddienste het Saterdag omstreeks 13:45 by hul aankoms op die toneel twee motorwrakke in die middel van die pad aangetref. Vier ander mense, asook ’n baba, is in die ongeluk beseer waarvan twee met helikopters na ’n hospitaal gevlieg is.

Hattingh het lof vir die nooddienste sowel as die insleepdiens asook die polisie en die forensiese patologie- dienste wat op die toneel teenwoordig was.

“Ek het al my ouers se persoonlike besittings teruggekry. Hulle was regtig wonderlik.”

Bertus en Marinda Visser word oorleef deur drie kinders en ses kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Skappie ·

Dit was nou nie ‘n lekker berig om te lees nie. So jammer vir hierdie gesin. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou deur hierdie moeilike tyd wat vir julle wag.

Toy ·

Dit is bitter hartseer, my hart gaan uit vir julle, mag die Here julle troos in hierdie baie hartseer tyd.

Genis ·

Mens kry sommer trane in die oe… Mag die Here julle troos in die moeilikke/hartseer tyd…

Andries ·

Die noodlottige ongeluks syfer op daardie stukkie pad is seker die hoogste in die land. Die betrokke owerhede is bewus daarvan maar EISH EE JOJO kan nie aan oplossings dink nie.

Meerkat7 ·

Bertus en Marinda was meer as wat die berig weergee, uitverkoop vir Jesus en getrou tot die dood toe. Hulle sal hul ewige loon ontvang wat hul toekom. Hierdie kant van die dood is daar baie vrae, maar ons hemelse Vader weet waarom hy soms hartseer insidente toelaat. Sterkte aan die kinders, kleinkinders en groter familie. Liefde groete, Deon

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel. Dit is so ‘n pragtige berig , en die liefde kan gevoel en gelees word in die berig.

Marcello ·

Sterkte aan die familie en vriende van die egpaar, mag die Liewe Vader julle krag en berusting gee.

Wow!!! aan hulle dogter, vir so mooi getuiigskrif van haar ouers, Sterkte dit is nie maklik om ‘n ouer te verloor nie.

Di ·

Sterkte aan die familie en vriende. Glo dis ‘n groot skok om beide jou ouers terselfdetyd aan die dood te moet afstaan. Hulle is nou veilig by die Hemelse Vader en gaan voort met hulle take daar in die hemel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.