Egpaar vlug met net pajamas uit brandende huis

Francois en Franuschka Stewart en hul kinders Haylie (7), Charlené (6) en Francois (5).

ʼn Gesin van Rustenburg probeer nog tot verhaal kom nadat hulle huis Maandag bykans heeltemal in ʼn brand verwoes is.

Francois (25) en Franuschka Stewart (25) het Sondagaand in ʼn vertrek van die huis aan die slaap geraak wat pas in ʼn rolprent-vertrek omskep is. Francois het wakker geword omdat hy gesukkel het om asem te kry. Teen dié tyd was die vertrek reeds wit van die rook, het sy suster, Marelize Lloyd, Dinsdag vertel.

Die grootste gedeelte van die huis is heeltemal verwoes in die brand.

Francois het sy vrou Maandag omstreeks 01:00 wakker gemaak en hulle het deur die brandende huis na buite probeer vlug. In hul haas deur die brandende gang het hulle besef die huissleutels het in die vertrek waar hulle was, agtergebly en Francois het noodgedwonge ʼn ruit gebreek en die huiswerker wat op die perseel bly, wakker gemaak om ʼn deur vir hulle oop te sluit. Hy het later agtergekom hy het sy hand gebreek in ʼn poging om die venster oop te kry.

Die egpaar se kinders, Haylie (7), Charlené (6) en Francois (5), het toevallig by ʼn ouma, wat binnekort met vakansie sou gaan en tyd met die kleinkinders wou deurbring, oorgeslaap. Hulle is leerders aan Laerskool Proteapark.

Lloyd sê hoewel die gesin se honde vroeër die aand vreeslik tekere gegaan het, het hulle geen onraad vermoed nie.

“Toe ek daai tyd van die oggend my pa se naam op my foon sien … ek het gewonder wie het iets oorgekom, maar dit was my broer wat sê ‘Sussa, my huis brand af’,” het Lloyd vertel.

Familielede is inderhaas na die perseel om te probeer red wat hulle kan, maar eindelik kon net die vertrek waarin Francois en Franuschka geslaap het, asook die kombuis, gered word. Francois het ten minste ʼn teddiebeer van elk van die dogtertjies uit die huis gegryp.

Lloyd het gesê die gesin is platgeslaan. Hulle is al ʼn geruime tyd stelselmatig besig om opknappingswerk aan die huis te doen. Die struktuur is verseker, maar die egpaar het geen inhoudsversekering nie.

Die egpaar kon slegs enkele items red.

ʼn Weldoener het R3 000 geskenk om die egpaar, wat met net hul pajamas aan uit die huis gevlug het, ten minste met basiese benodigdhede te help. “[Franuschka] het vir my gevra: Waar begin ʼn mens koop as jy skielik niks het nie?”

Volgens Lloyd het ʼn forensiese ondersoeker wat die toneel ondersoek het, gesê voorlopige aanduidings is dat die brand in die lapa ontstaan het. Die moontlikheid van brandstigting word nie uitgesluit nie. ʼn Ontevrede buurvrou het vroeër glo tydens ʼn stryery gedreig om die huis af te brand.

“Die forensiese ondersoeker het gesê hulle kan dankbaar wees dat niemand daardie aand in hul eie kamers geslaap het nie, want hulle sou moontlik nie lewend daaruit gekom het nie,” het Lloyd gesê.

“Dit het groot trauma veroorsaak, maar ons is dankbaar almal is gesond. Jy kan besittings vervang, maar niemand se lewe nie.”

Lloyd het gesê een van die gesin se honde het boonop doodgebrand. Die ander ses weke oue hondjie is ure ná die brand onder ʼn houtpalet tussen die puin gevind. Alles om hom het gebrand, maar die hondjie was ongedeerd met ʼn stertjie wat waai, het sy vertel.

Die egpaar bly intussen by ʼn familielid tot ʼn besluit oor die huis geneem kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Christel Cornelissen ·

Dagsê Ella
Dankie vir jou boodskap. Daar het inderdaad ‘n fout ingesluip. Ons vra om verskoning en het die berig gewysig.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

Cherokee ·

As die honde se tekere gaan nie geïgnoreer was nie, kon diè ook gered word.

Hendrik ferreira ·

Dit is vreeslik tragies ,so n jong gesin met klein kinders sterkte Francois jy moet net opstaan en aanbeweeg

Johan Swart ·

Steek die lapa se dak dalk oor die muur in die bure se erf?

…dis gewoonlik waaroor daar meings-verskille kom..

Penelope ·

Cherokee, in vandag se tyd kan jy nie sommer net uitgaan as jou honde blaf nie.
Miskien blaf die hond van nature baie, maar mens is nerens meer veilig nie.
Baie sterkte aan die gesin. Ek hoop die skuldige word vasgetrek….

Jo ·

Indien die gesin na ‘n Helpende Hand winkel gaan, sal hulle gehelp word met klere en ander benodighede wat beskikbaar is.

Josef Slowinski ·

Is daar miskien iewers ‘n hulpfonds waar bydraes gemaak kan word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.