ʼn Egpaar van Zimbabwe is by die Beitbrug-grenspos aangekeer toe hulle glo goudstawe ter waarde van R6 miljoen na Suid-Afrika wou smokkel.
“ʼn Hondehanteerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens was besig met ʼn roetine-inspeksie toe hy ʼn verdagte swart Audi met ʼn Zimbabwiese nommerplaat opgemerk het,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, Sondag gesê.
Ses goudstawe is in die armleuning van die passasiersitplek opgespoor.
“Die 39-jarige man en sy 37-jarige vrou is Vrydagmiddag by die grenspos naby Musina in Limpopo in hegtenis geneem,” het Mulaudzi gesê. “Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Musina verskyn op aanklag van die onwettige besit van edelmetale.”
Die polisie ondersoek of die egpaar aan soortgelyke sake verbind kan word. -SAPA