EgyptAir-kaping ‘nie terrorisme’

Die vliegtuig van EgyptAir op die lughawe. Foto: AP Photo/Petros Karadjias

Die vliegtuig van EgyptAir op die lughawe. Foto: AP Photo/Petros Karadjias

Nicos Anastasiades, Ciprus se president, het Dinsdag aangekondig dat die kaping van ʼn EgyptAir-vliegtuig, met twee Suid-Afrikaanse priesters aan boord, nie verband hou met terrorisme nie.

EgyptAir het in ʼn verklaring bevestig die vliegtuig, ʼn Airbus A320, met 56 passasiers, sewe bemanningslede en ʼn veiligheidswag aan boord, is tydens ʼn binnelandse vlug gekaap. Die MS181-vlug was van Alexandria na Kaïro onderweg toe die vliegtuig gekaap is.

Die kaper het glo die vlieënier gedreig dat hy ʼn selfmoordbom aan hom dra. Hy het opdrag gegee dat die vliegtuig by die Larcana-lughawe in Ciprus land. Die vliegtuig het omstreeks 09:00 by dié lughawe geland.

Daar word berig dat die kaping glo verband hou met ʼn huishoudelike geskil en dat die man opdrag gegee het om met sy vervreemde vrou te praat. Dit kon egter nog nie amptelik bevestig word nie. Nog mediahuise berig die kaper eis glo dat sommige gevangenes vrygelaat word.

Die man het toegelaat dat die meeste mense aan boord die vliegtuig verlaat, terwyl hy met owerhede onderhandel.

Hossam Kamal, Egipte se minister van burgerlike lugvaart, het tydens ʼn perskonferensie bevestig dat daar tans vier bemanningslede en drie passasiers saam met hom op die vliegtuig is. Kamal het geweier om die nasionaliteite van die passasiers bekend te maak.

ʼn 27-jarige man se naam is kort ná die voorval deur Egipte se staatsuitsaaier bekend gemaak, maar moes dit terugtrek nadat dit aan die lig gekom het dat dié man net ʼn passasier was.

Die ministerie van binnelandse sake het later die kaper geïdentifiseer as Seif Eldin Mustafa.

Kamal het gesê dit is in die stadium nog nie duidelik of die man wel ʼn bom by hom het nie.

“Ons kan nie kanse waag nie en hanteer die situasie asof hy wel ʼn bom by hom het. As dit wel ʼn bom is, sal behoorlike ondersoek gedoen word om vas te stel hoe dit aan boord gekom het,” het Kamal aan die media gesê. Volgens Kamal het die man nog geen konkrete eise gemaak nie.

Intussen berig EWN dat twee Grieks-Ortodokse priesters van Suid-Afrika aan boord die vlug was. Aartsbiskop Damaskinos van Johannesburg en Pretoria en biskop Nicodimus Boulaksis was onder die passasiers wat vrygelaat is. Hulle was in Egipte waar Boulaksis Sondag as biskop georden is.

Kamal het gesê ʼn vliegtuig is na die lughawe gestuur om die gestrande passasiers te vervoer.

Lees ook: EgyptAir-kapingsdrama verby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.