Eienaar se appèl van hand gewys ná honde man gryp

(Argieffoto: Unsplash)

Die appèlhof het ʼn honde-eienaar wie se drie honde ʼn verbyganger gegryp het se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn hooggeregshofbevinding dat hy verantwoordelik vir die slagoffer se skadevergoeding is, van die hand gewys.

Die saak spruit uit ʼn voorval in Februarie 2017 toe Gerald Cloete, ʼn swerwende tuinier en vullisversamelaar in Port Elizabeth, op dié Saterdagmiddag met sy trollie op pad na ʼn winkel was. Hy het kort tevore ʼn takie afgehandel.

Christiaan Jacobus van Meyeren, die aansoeker, se drie basterhonde – Mischka, Zeus en Coco – het Cloete sonder rede of waarskuwing gegryp en tot so ʼn mate verskeur dat bure wat hom te hulp gesnel het, aanvanklik gedink het hy is dood.

Cloete het die aanval oorleef, maar sy linkerarm is weens sy beserings afgesit. Hy het daarna skadevergoeding van meer as R2 miljoen Van Meyeren geëis.

Van Meyeren en sy gesin was nie tydens die aanval tuis nie. Die grondslag vir sy verweer was dat die honde in die erf toegesluit was, maar dat ʼn inbreker toegang deur ʼn gebreekte hek moes probeer kry het. Albei slotte aan die hek was gebreek en volgens Van Meyeren het iemand óf die hek oopgelaat, óf dit in so ʼn toestand gelaat dat die honde dit kon open.

Cloete se eis het berus op die regsbeginsel wat uit die Romeinse reg spruit dat die eienaar van ʼn mak dier gewoonlik aanspreeklik gehou moet word vir die skade wat die dier aanrig.

Die beseerde party hoef nie nalatigheid aan sy kant te bewys nie. Volgens die hof is daar drie erkende verwere teen só ʼn eis: Die beseerde party was op ʼn plek waar hy geen reg gehad het om te wees nie, die dier is deur die beseerde party of ʼn derde party uitgelok, of die besit en beheer van die dier is na ʼn derde party oorgedra wat versuim het om te keer dat die diere enige skade aanrig.

Die hof het Van Meyeren se argument, dat die verweer uitgebrei moet word om ʼn situasie in te sluit waar die skade deur die nalatigheid van ʼn derde party veroorsaak is, moet insluit, van die hand gewys.

Die hof het bevind talle mense in Suid-Afrika kies om diere as metgeselle of vir beskerming aan te hou. “Dit is hulle keuse, maar dit gaan ook met verantwoordelikhede gepaard,” het die hof bevind.

Die hof het bevind die werklikheid is dat diere op verskillende maniere skade aan mense of eiendom kan aanrig en indien iemand deur geen van sy eie toedoen beseer word nie, is dit die eienaar wat vir die skade aanspreeklikheid gehou moet word.

“Mense is geregtig daarop om in ons state te stap sonder vrees dat hulle deur honde aangeval gaan word en waar sulke aanvalle gebeur, moet hulle in die meeste gevalle na die hond se eienaar kyk vir vergoeding.”

Die aansoek is met koste van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Ek dink die ou Romeinse wette in hierdie opset moet hersien word, ek dink skadevergoeding moet glad nie ‘n appel regverdig in sulke sake nie.

Pieter ·

Nogal ‘n gemors indien jy skade ly nadat by jou ingebreek is of jou drade/heining/hek geknip is. Duidelik neem die Romeins-Hollandse Reg nie die huidige Suid Afrikaanse situasie in ag nie, hierdie situasie is nie eie aan Rome en Holland nie.

Anel ·

Ek glo die man het probeer inbreek en die honde het hul eiendom beskerm. Hoe het die slotte dan gebreek? Hy moet by ons probeer in kom! Daar gaan niks van hom oorbly nie. Dis hoekom mens honde het. Om jou en jou besittings te beskerm. As hulle soos jou kinders behandel word, beskerm hulle jou met hul lewe.

Meisie ·

Elke Dinsdag voor ek werk toe ry sit ek ons vullisdromme buite vir vullisverwydering, klim dadelik in my kar om te ry maar party oggende kan ek nie ry nie omdat hulle eers in die asblikke wil staan en grou en glo my hulle kan hul tyd vat. So hoe gemaak as ek halfpad uit is en hulle kom daar aan en my woefe hardloop uit? Ek voel party van die mense hoop dalk hulle word gebyt want dan word ons hondekinders uitgesit en hulle kry ‘n pophuis vol geld.. Ek weet nie maar as ek vra dat hulle loop dat ek net uit die erf kan kom word ek na gestaar asof ek naak is..

capie ·

Hoeveel keer het die einste man al die honde getart. Dit sal ons nie weet nie, maar ‘n hond het ‘n geheue. My motorhek was ook al oopgebreek sodat my twee boerboele kon uitkom en die brekers kan inkom. Hoe die brekers weggekom het voor die boerboele uitgekom het weet ek nie.

Leon ·

Maar is ook’n kans dat dit waar is. Hoevéél brakke hardloop die strate vol hier in ons dorp en val mense lastig. Probeer net om te gaan draf…
..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.