Eienaar soek ná vyf maande steeds na hond

Soné Louw en haar beagle, Luke. Sy soek onverpoosd na hom nadat hy amper ses maande gelede weggeraak het. (Foto: Verskaf)

Al is dit amper ses maande later, is die emosie in Soné Louw van Pretoria-Noord se stem steeds rou wanneer sy oor Luke, haar geliefde beagle, praat.

Die vierjarige Luke het op 16 Desember verlede jaar uit haar erf in die noorde van Pretoria verdwyn toe die tuindienste per ongeluk die tuinhekkie oopgelaat het. Albei haar honde het uitgekom, maar die bure kon net daarin slaag om Bear, die dobermann, te vang en tot bedaring te bring.

Luke is egter nog steeds skoonveld. Louw (27), sy mens-ma wat hom drie jaar gelede by die Onderstepoort se Veterinêre Akademiese Hospitaal aangeneem het, soek sedertdien onverpoosd na dié geliefde beagle.

Louw, ʼn veearts-verpleegkundige, vertel sy soek sedert sy op 17 Desember noodgedwonge van die Krugerwildtuin af huis toe gekeer het, onophoudelik na haar hond. Sy het haar soektog al so ver as Brits, Hartbeesboortdam, Johannesburg, Soshanguve, Ga-Rankuwa en Hammanskraal uitgebrei.

“Ek is selfs in kontak met die mense wat dooie lyfies van diere optel wat byvoorbeeld langs die pad raakgery word. Ek weet ons gaan hom kry. Ek weet regtig net nie meer waar om nog te soek nie,” sê Louw. Sy volg steeds elke wenk self op wat sy kry oor ʼn hond wat soos haar Luke lyk of net klink.

“Iemand het vir my gesê hy is al so lank op straat dat hy nou in die nag sal begin rondhardloop. Elke aand, sodra die son sak, klim ek in my motor en ek soek na Luke. Ek sal hierdie hulpelose gevoel – die gevoel van wonder of hy in die aande met ʼn honger magie gaan slaap – nie vir my grootste vyand toewens nie.”

Sedert Luke se verdwyning pryk sy gesig op duisende pamflette en plakkate wat regoor Pretoria en omgewing uitgedeel en opgeplak is, maar nou wend Louw haar tot die breër publiek om haar te help om na haar beagle te soek.

Luke die beagle hou daarvan om geliefkoos te word deur sy Ounooi, Soné. (Foto: Verskaf)

“Luke is baie fiks en sou met gemak vier kilometer in die berge kaf draf. As hy eers begin hardloop, kan hy maklik tien kilometer per dag hardloop en as hy in die verkeerde rigting draf, kan hy al baie ver wees.”

Sy glo dat sy hom so ver as die Kaap kan opspoor aangesien hy vroeër saam met haar daar gewoon het en saam met haar per motor die hele ent van die Kaap af na Pretoria gereis het.

“Enigiemand, maak nie saak hoe ver van Pretoria af nie, wat ʼn verlore beagle-hond gewaar, moet my asseblief kontak. Ek weet mense dink ek is ʼn bietjie laf, maar ek glo ek gaan hom kry.”

Louw vertel sy sukkel om te slaap in die aande met die wete dat haar geliefde “cuddle buddy” dalk beseer is, honger ly of koud kry.

“Hy is so lief daarvoor om te cuddle. In die aande sou hy snoesig teen my lê en slaap en in die oggende al hoe nader kruip totdat hy later, baie tevrede, so te sê op my kop gaan lê. Ek sal enigiets doen om my seuntjie weer terug te hê.”

Louw pleit by die publiek om bewus te wees van alle straathonde. “Meeste straathonde is iemand se verlore troeteldier. Neem ʼn foto, as jy kan, en plaas dit op sosiale media.”

Soné en Luke. (Foto: Verskaf)

Indien ʼn lid van die publiek die regte gebied kan aandui waarin Luke homself bevind, sal sy ʼn beloning van R10 000 aan daardie persoon uitloof.

“Toe ek Luke aangeneem het, het ek hom belowe dat ek vir hom die beste lewe sal gee wat ek moontlik kan. Hy het die eerste jaar van sy lewe as navorsingshondjie in ʼn hok deurgebring, maar toe hy saam met my huis toe is, het ons elke naweek iets lekker gedoen. As ons nie na vriende se plaas toe is nie, het ons in die Magaliesberge gaan stap.

“Ek is baie positief dat ek hom gaan kry. Ek weet net nie meer waar om nog te soek nie.”

Lesers wat enige inligting oor Luke het, kan Louw by 067 409 2315  bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Magda G ·

Die pragtigste gesiggie. Bied n beloning aan. Miskien kry jyy hom dan. Ek huil saam net jou????????

Meisie ·

Sy bied ‘n beloning aan, net die berig klaar lees dan sou jy sien..

Misky ·

Dis so bitter hartseer. Hoop en bid saam dat jy hom spoedig sal vind en MM het ‘n wye platform en word wyd versprei en gelees

LANA is ELANè ·

Dit is behoorlik om van slapelose nagte te hê.
Ek is so versot op my dierekinders en net die gedagte dat een van hulle wegraak sal my verwoes.
Ek glo die tuindienste is beslis nie meer welkom op die erf nie.

Inge ·

Ek glo die tuindiesnte mense voel baie sleg oor wat gebeur het. Hulle sou dit nie met opset gedoen het nie. Ek hoop hulle kry die woef binnekort.

Kathleen ·

Ek sit en tjank hier waar ek die berig lees , sjoe ken ek nie die gevoel nie , dit is verskriklik om te dink hy mag dalk iewers wees en jy kan hom nie kry nie . ek wens jou alle sterkte toe , ek hoop en bid dat iemand wat hom dalk mag hê , wat hom dalk geneem het die hart sal hê en hom vir jou terugbesorg . Luke verdien om net die beste lewe saam met jou te kan geniet .

VannieBaai ·

Hoop van harte jou wens om jou 4poot vriend terug te kry word bewaarheid ♥

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.