Eienaar van George-rampgebou glo skoonveld

(Foto: George-munisipaliteit)

Die departement van arbeid en indiensneming kon nog nie die eienaar van die gebou wat in George ineengestort het, opspoor nie en ʼn dagvaarding is nou uitgereik.

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, en ander hooggeplaastes in sy departement het Donderdag die ramptoneel besoek. “Ons weet nie waar hulle is nie,” het Nxesi gesê in antwoord op ʼn vraag oor of daar al met die eienaar van die woonstelgebou kontak gemaak is.

David Esau, hoofinspekteur van die departement van arbeid in die Wes-Kaap, het gesê ʼn afvaardiging van die departement is na die adres wat op hul stelsels verskyn, maar daar was niemand daar nie. “Ons het toe voortgegaan om ʼn dagvaarding te laat uitreik en ons het nog geen terugvoer gekry nie. So ons sal voortgaan met ons regsprosesse. Hy is volgens wet verplig om met die departement van arbeid kontak te maak.”

Teen gisteraand was daar steeds net 37 mense uit die puin gehaal. Hiervan is 15 in ʼn kritieke toestand, ses het lewensbedreigende beserings opgedoen en sewe is minder ernstig beseer. Die dodetal het intussen tot nege gestyg.

Daar is vroeër bevestig daar was 81 mense (en nie 75 soos voorheen aangedui is nie) op die perseel toe die ramp plaasgevind het. Daar word dus nog na altesaam 44 van die werkers op die perseel gesoek.

(Foto: George-munisipaliteit)

Groot grondverskuiwingsmasjinerie sou na verwagting gisteraand op die toneel aangekom het om te help met die redding- en skoonmaakpogings. Ten spyte van die gebruik van groot masjinerie, sal reddingstegnieke steeds noukeurig en sensitief deur die hoogs bekwame en ervare rampbestuurspan toegepas word, het die munisipaliteit gesê.

Leon van Wyk, burgemeester van George, het sy waardering uitgespreek vir die werk wat tot dusver deur die multidissiplinêre noodspanne gedoen is. Hy het reddingswerkers en alle betrokke belanghebbendes, organisasies, die media en die publiek geloof en verklaar dat hul pogings, tesame met die jongste toerusting wat ingebring is, ’n wêreldklas-reddingspoging tot gevolg gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jedi Knight ·

Hazel, die eienaar is n ou wat nou bankkrot is. Diegene wat alreeds n woonstel gekoop het, gaan ook maar sukkel om hul geld terug te kry.

Hendrik ·

Dink hulle regtig hulle gaan die eienaar opspoor? Hy sit al lankal anderkant die waters!!!

Danie ·

Dis die jackpot vraag het n vermoede ons weet wie altyd weghardloop.

melaney ·

Ek sou ook die hasepad gekies het. Hierdie man weet wat vir hom wag.

domheks ·

Hoe kan ‘n woonstel met 2 verdiepings se planne sommer verander na meer? Is die fondasie sterk genoeg as daar oorspronklik vir 2 verdiepings beplan was?

Madelein ·

Eienaar van die gebou? Ontwikkelaar? Konstruksiemaatskappy?? – Is dit een en dieselfde persoon / persone?

Frank ·

Domheks, jy beskik oor inligting wat ons nie het nie? Brei uit?

Lettie ·

Madelein ja, wonder ek ook. En ja ook vir 2 verdieping wat 5 verdieping word. Iet nie pluis nie.

George ·

Snaaks dat almal wie BEE blameer het nie kan jammer se nie.

S ·

Die 2 slaapkamer plekkies sou vir R1,7 – R2 miljoen verkoop het (14 eenhede).
Die gebied het baie reën gekry ‘n maand gelede wat ‘n faktor kan wees maar tog moet die nodige inspeksies uitgevoer word om te bevestig of dit veilig is/was om voort te gaan met konstruksie.

Bolandse Nooi ·

Ja, hy is skoonveld ………….. terug oor die grens na sy land van herkoms!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.