Eienaar van kuierplek vas weens oortreding van afsonderingregulasies

(Argieffoto: pixabay)

Die polisie het Maandagaand op ʼn gewilde kuierplek in Alexandra in Johannesburg toegeslaan en die eienaar terstond in hegtenis geneem nadat dié plek ná die aanvang van die aandklokreël voortgegaan het  om alkohol te verkoop.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand ʼn nuwe landwye aandklokreël van 21:00 tot 06:00 aangekondig. Hy het ook in sy toespraak gesê dat alle drankverkope onmiddellik opgeskort word.

Volgens brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het beamptes omstreeks 23:00 op die plek toegeslaan.

“Die plek was vol mense met geen inagneming van die Covid-19-gesondheidsprotokolle nie,” sê Peters.

Die polisie het boonop dieselfde dag omstreeks 18:00 ʼn inspeksie by die einste uithangplek gedoen en die bestuurder, ʼn familielid van die eienaar, is in hegtenis geneem omdat hy nie die bepalings van die provinsiale drankwet nagekom het nie. Hy het ʼn skulderkenningsboete betaal.

Intussen het die polisie ook in Mamelodi in die ooste van Pretoria ʼn taverne-eienaar in hegtenis geneem vir die oortreding van die Rampbestuurswet. Hierdie inhegtenisneming volg nadat die provinsiale kommissaris, lt.genl. Elias Mawela, ʼn dringende ondersoek gelas het ná ʼn videogreep wat op sosiale media versprei is. Daarin kan gesien word hoe ʼn groot skare mense drank gebruik en dans sonder om enige van die Covid-19-gesondheidsprotokolle na te kom.

“Ironies genoeg, in dieselfde videogreep, is Ramaphosa in die agtergrond op ʼn groot televisieskerm besig om die skuif van vlak 1 na ʼn aangepaste vlak 3 aan te kondig.”

In Orlando-Oos het die polisie ook omstreeks 23:00 gereageer op ʼn klagte van ʼn inwoner nadat meer as 300 mense op een perseel bymekaargekom het. Die eienaar het ʼn waarskuwing gekry, die plek is gesluit en die skare is aangesê om uitmekaar te gaan.

Mawela het namens die provinsiale gesamentlike operasionele- en intelligensie-struktuur (Provjoints), waarop die Drankraad ook verteenwoordig word, sy waardering uitgespreek teenoor wetsgehoorsame burgers wat vrywillig die ore en oë van die polisie is wat betref oortredings van die Rampbestuurswet.

Hy het mense verseker dat die polisie, saam met ander wetstoepassingsagentskappe in Gauteng, sal optree om die Covid-19-regulasies af te dwing en te verseker dat die nodige gesondheidsprotokolle nagekom word.

“Ons wil ons gemeenskappe herinner aan die waardevolle rol wat hulle kan speel in die bekamping van misdaad en om te help om te keer dat die virus verder versprei. Dit is ter ondersteuning van die regering se reaksie en pogings om die verspreiding van die virus te bekamp,” sê Mawela.

Die provinsiale kommissaris het ook alle lede van die wetstoepassingsagentskappe wat tydens hierdie tydperk van die aangepaste vlak 3-inperking ontplooi gaan word, sterkte toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.