Eienaar van Skietwinkel in hof

Argieffoto bloot ter illustrasie

Die eienaar van Die Skietwinkel in Bloemfontein in die Vrystaat het vandeesweek in die plaaslike landdroshof verskyn vir die beweerde oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Willem Botha (59) het Woensdag in die hof verskyn nadat hy vroeër die dag deur die Valke in hegtenis geneem is.

Luidens die klagstaat, wat Maroela Media onder oë gehad het, word Botha van die besit van ’n onwettige vuurwapen beskuldig. Hy is intussen op borgtog van R500 vrygelaat.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring Botha se inhegtenisneming volg ná afloop van ’n ondersoek na ’n wapensmid in Bloemfontein, wat glo die Wet op die Beheer van Vuurwapens oortree het.

Volgens Mogale het die owerhede in Oktober verlede jaar op 262 geweerlope by die maatskappy Trueworx in Bloemfontein beslag gelê. Dié geweerlope is verbode of daar is glo met die geweerlope gepeuter.

Izak Hattingh, die eienaar van Trueworx, is die betrokke dag in hegtenis geneem en het later daardie dag in die hof verskyn. Hattingh het Dinsdag weer vlugtig in die hof verskyn voordat die saak teen hom na 24 Junie uitgestel is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, het Vrydagoggend die aanklagte teen Botha bevestig.

Die saak teen Botha is tot 9 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois Le Cochon

Toe my pa in 2004 oorlede is, het my ma (uit onkunde) al sy vuurwapens aan Die Skietwinkel verkoop, sonder enige papierwerk of kwitansies. Toe die polisie en die eksekuteur navraag doen, weet niemand van niks nie. My ma het darem “losgekom” nadat sy ‘n beedigde verklaring afgele het.

Frank

Man, plaas dat die Valke hulle energie op die Vuurwapen Register gaan spandeer en die vrotspul daar regruk (begin heelbo). Normaalweg wetsgehoorsame burgers begin baie gefrustreerd raak met die stelsel.
Ek wag byvoorbeeld al 239 werksdae vir ‘n aansoek (10 Jun 2020).

Alleen Wolf

Maatjies het weer loop stories aandra.