Eienaar van veiligheids­maatskappy voor seun doodgeskiet

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Die 46-jarige eienaar van ʼn veiligheidsmaatskappy is Dinsdagoggend ten aanskoue van sy seun in Polokwane (Pietersburg) in Limpopo koelbloedig doodgeskiet.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het teen 07:10 in Florapark plaasgevind.

“Volgens inligting tot die polisie se beskikking was die oorledene se seun by die hek en op pad skool toe, toe drie onbekende mans hom gekonfronteer en terug in die huis ingedwing het,” het Mojapelo gesê.

“Hulle het die seun en ook die huiswerker in die oorledene se slaapkamer ingedwing, waarna hulle die man verskeie kere geskiet het sonder om ʼn woord te sê.”

Die polisie het die oorledene as Ngwako William Mathebula geïdentifiseer. Hy was die eienaar van Thaba Security Services.

“Die motief vir die skynbare sluipmoord is nog nie bekend nie, maar word deur die polisie ondersoek.”

Die polisie het ʼn volskaalse ondersoek van stapel gestuur en het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan ao. Kotze by 082 744 8205 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Simpatie ·

My innige simpatie aan die familie. Wat gaan nog word van ons mooi land? Of jy nou swart
, wit of pienk is almal se lewens beteken niks. Mag hulle spoedig gevang word.

Theresa B ·

Dis darem vreeslik. Om iemand net eenvoudig te skiet vir een of ander eenvoudige dingetjie of enige rede is die in-ding deesdae??!!

Maro ·

Dis baie hartseer. Sterkte vir sy seun en naasbestaandes. Mag reg en regverdigheid geskied. Suid Afrika is ongelukkig wetteloos.

Laetitia ·

Absoluut tragies. Hoe traumaties moes dit nie vir die arme kind gewees het nie.
My hart gaan uit na hom, en andere in die land van ons wie se lewens deur geweld aangeraak is.

Cherokee ·

Is daar ander lande, behalwe waarvolskaalse oorlog gaande is, waar moorde teen dieselfde tempo gepleeg word? Is Suid Afrika vergelykend met ‘n Mesiko, Midde-Afrika of miskien erger?

Albaster ·

In lande waar oorlog amptelik verklaar is mag jy ten minste jouself verdedig, hier moet ons net sit en kyk hoe ons aangeval word. Dit maak ons NOG gevaarliker as oorlogzones.

Denise ·

Tragies hy het iets vir homself gedoen en nog vir ander werk verskaf dieselfde met die vrou wat vermoor is deur die tuinier !!!!!

wraggies ·

Ek neem aan hy’t van hulle boos plannetjies oopgevlek.

lizl ·

Weet julle, ons afrikaners is van die mense met die mooiste harte. Hier betoon almal simpatie aan `n swart man se gesin. Terwyl daar `n boer in sy bloed lè, en nie `n swart wenkbrou word gelig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.