Eienaars wat verhuis, laat hond agter

Smegal is sonder kos of ʼn druppel water agtergelaat (Foto: SPCA Bloemfontein, Facebook)

Waarskuwing: Die inligting in hierdie berig kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het Saterdag ʼn hond ingeneem wat drie weke gelede agtergelaat is nadat haar eienaars verhuis het.

Die hond, wat intussen Smegal gedoop is, was in dié tydperk aan ʼn ketting by die eienaars se huis in die Grasslands-nedersetting digby Bloemfontein vasgemaak. Sy is sonder kos of ʼn druppel water gelaat en was erg uitgeteer toe sy by die DBV aangekom het.

Volgens Duan Matthee, ’n inspekteur by die DBV in Bloemfontein, het die eienaars se bure die DBV gekontak en vertel dat ʼn hond by die bure se huis huil.

Die bure het aan Matthee vertel dat die eienaars van die huis ongeveer drie weke gelede verhuis het. Hulle het glo nie geweet dat daar ʼn hond op die perseel was nie.

“Hulle het Saterdag vir die eerste keer op Smegal afgekom en gesien in watter verwaarloosde toestand sy is. Hulle het vir haar ʼn stukkie pap gegee en ons toe gekontak,” vertel Matthee.

Matthee sê hy was werklik geskok toe hy sien hoe verwaarloos Smegal is. Hy sê ten spyte van die swak toestand waarin sy was, het haar stert steeds gewaai toe sy die inspekteurs sien.

Die inspekteurs het die bure gevra vir enige inligting rakende haar eienaars (Foto: SPCA Bloemfontein, Facebook)

“Sy was aan ʼn ketting vasgemaak wat swaarder as haar eie gewig is. Sy kon dit skaars sleep. Sy was net vel en been. Haar rug en bene het glad nie meer spiere gehad nie. Al was sy baie swak kon ek in haar oë sien dat sy nog veggees oor het en vir haar lewe wou baklei.”

Die inspekteurs het die bure gevra vir enige inligting rakende haar eienaars. Die bure het gesê dat hulle nie die eienaars persoonlik geken het nie.

Die DBV is op soek na die eienaars en kon hulle nog nie opspoor nie. Sodra hulle opgespoor word, sal die DBV ’n klag van dieremishandeling teen hulle by die polisie indien.

Die DBV se veeartse het Smegal dadelik ondersoek en bevind dat sy interne orgaanprobleme en ʼn erge velinfeksie onder lede het. Sy het ook ʼn besmette wond wat deur die harde vloer waarop sy moes slaap, veroorsaak is.

“Smegal benodig dringende mediese sorg en medikasie. Haar behandeling sal ongeveer R5 000 kos.”

Sodra Smegal ʼn bietjie sterker word, sal sy vir aanneming beskikbaar wees.

Die DBV het die publiek vir skenkings gevra om Smegal se mediese behandeling te help betaal. Klik hier vir meer inligting oor hoe om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Kobus ·

Kan iemand die gemors opspoor en hom ook so vasmaak en sonder kos en water los

Elmarie ·

Liewe hemel – al die hoeveelste geval in Bloem. Wat gaan aan daar? Skande ek hoop hul spoor hierdie gewentelose goed op wat dit gedoen het en straf hul goed.

Dirk ·

Maak daai eienaars aan n ketting vas en los hulle vir twee weke.Gemors..

Helene ·

Ek is smoorkwaad. Dankie dat Smegal nou veilig is. Dierewette is elkgeval pateties in hierdie land van ons, so ek hou nie my asem op nie. Al wat ek op hoop is Karma!

Mallie ·

Kan daar regtig sulke gewetenlose mense wees, wat onskuldige diere so behandel. Daar moet weer n wet ingestel word wat vereis dat jy n geregistreerde eienaar van n dier moet wees voor jy een aanskaf. Hulle het nie gevra dat jy hulle moet vat nie jy wou die dier he. So kyk na die dier. Liewe genade.

AmY ·

Natuurlik mag die gewese eienaars nie ook aan kettings vasgemaak word nie, want hulle het mos ‘menseregte.’

Belinda ·

Wat n skande van die mensdom. hoe kan mens dit doen? dan nog vasgemaak ook. dit is met opset gedoen. hoop die DBV spoor die eienaars vinnig op en sluit hulle toe vir diere mishandeling. Kan seker nie so moeilik wees om te weet wie daar gebly het nie?

Genis ·

Mens sal goed se wat mens moet nie, en mense toewens wat jy mag nie… Gevoelose gemors, mag julle bitter hard gestraf word! Die lewe loop snaakse draaie met mens onthou dit… Sommer trane in my oe….

Kattebol ·

Hoop die eienaars én die bure betaal deeglik daarvoor. Dis te verskriklik.

Casper ·

Net ‘n dom vraag.Het die DBV nie veeartse nie.Ek is self baie lief vir diere maar hoekom moet die publiek elke keer opdok vir iets wat iemand anders verkeerd doen.Die howe kan gerus vonnisse hersien vir hierdie oortreding.’n Dier is deur God geskape en het ‘n siel en gees en verdien om met waardigheid behandel te word.Ek en my broer praat nie met mekaar nie omdat hy sy diere wat oud of sieklik is summier doodskiet.

Blikkies ·

Jislaaik julle dit is erg en word net erger. Almal wil ‘n hondjie he maar min weet hoe om na diere om te sien. Hoekom het mense dan diere as hulle niks vir hulle omgee nie. Dit gaan my verstand te bowe. Kan die staats veeartse nie ASB die kostes van sterilisasie van diere bekostigbaar maak nie. Daar is heeltemal te veel verwese honde en ander diere in die samelewing en ongelukkig kan ons nie na almal omsien nie, al wil ons hoe graag. Dit sal ongewenste werpsels in afsonderings gebiede ook beperk en ek wil ook se in die groter metropool areas ook ‘n onnodige aanwassing van die arme diere inperk. Mense moet eers gekeur word voordat hulle n hond mag besit.

James ·

My hart het geruk in my borskas toe ek hierdie foto’s sien. Ek het lanklaas so gehuil soos vandag.

Elize ·

Ek haat kettings om diere se nekke. Hy kon dalk al vroeer gehelp gewees het as hy kon loop! Sies ek skaam my vir sulke gedrag.

Johanna ·

Dis net so skokkend soos die Nieu Zeeland tragedie. Watter soort mens doen dit? Nee!!!!!

Miskruier ·

Ons lewe in die era van die honde aanbidders, daar is nie naastenby soveel kommentaar op berigte van kinder moord en mishandeling. Drie kinders is dood van hondsdolheid, die staat versaak sy plig om diere te ent, mense is te lui om hul diere gratis te laat ent, dis nie dat ek diere haat nie maar die mens wat n ongesteriliseerde dier aanhou hoort in daai hok!!

Kiewiet ·

As ‘n mens dit aan ‘n dier kan doen wat kan hulle aan ‘n ander mens doen..dis ‘n skreiende skande.
Hoop hulle word opgespoor en gestraf!

Claudette ·

Dit maak my mal van woede…en dit gebeur daagliks. Mense trek en los hulle diere agter. Name en shame hulle. Elke diereorganisasie en dbv moet hulle name op ‘n register plaas…GEMORS!!!!!!!

Karina ·

In Amerika is daar howe wat slegs diere mishandeling sake hanteer. Daar word ouens swaar beboet, sommer ook verbied om ooit weer ‘n dier van enige soort aan te hou. Hulle weet ten minste wat om met die gespuis te doen wat diere mishandel.

Marcello ·

Ek laat my nie vertel die bure het nie geweet nie, natuurllik kan jy mos agterkom daar is ‘n dier en daar is nie meer inwoners nie, loop hulle dan met oogklappe of het hulle tonnel visie.? Hoop die hond word gou gesond.

Skappie ·

Ai, ons mensdom darem. Hoop hierdie hond kry ‘n goeie eienaar wat mooi na hom sal kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.