Eiendomme brand toe gemeenskap reg in eie hande neem

(Argieffoto: pixabay)

Eiendomme wat aan ʼn sakeman en sy twee werknemers behoort, is Sondag deur ontstoke lede van die Gandlanani-gemeenskap in Limpopo aan die brand gesteek. Dié sakeman en sy twee werknemers word deur gemeenskapslede daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by die verdwyning van ʼn 25-jarige vrou.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die gemeenskapslede het vroeër een van die sakeman se werknemers oorval en het daarna op een van die plaaslike sokkervelde byeengekom.

“Na wat verneem word, het hulle ʼn sangoma geraadpleeg wat beweer het dat die sakeman en sy twee werknemers verantwoordelik was vir die verdwyning van Mahlori Maluleka wat op 8 Augustus vanjaar as vermis aangemeld is,” vertel Mojapelo.

“Die werknemer is aangerand, gebrand en na die sakeman se ma se huis gesleep, waar hulle die huis en drie voertuie wat in die motorhuis geparkeer was, aan die brand gesteek het. Niemand is in die brand beseer nie.”

Die gemeenskap het daarna na die sakeman se huis gegaan en dit met klippe bestook. Hulle het onder meer die elektriese heining beskadig.

“Die woedende lede het toe ook die huis van die ander werknemer aan die brand gaan steek.”

Op pad na die baksteen-onderneming wat aan die sakeman behoort, het hulle op een van sy voertuie afgekom en dit ook aan die brand gesteek. Die bestuurder het daarin geslaag om ongedeerd te ontsnap.

Mojapelo sê met die polisie se aankoms by die sakeman se onderneming was dit reeds in vlamme gehul.

Die sakeman, wat ernstig beseer is, is net betyds gered en na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Die polisie het reeds 23 verdagtes in hegtenis geneem in verband met die voorval. Die verdagtes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging. Die soektog na die oorblywende verdagtes duur voort.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel.

“Ons raai gemeenskappe aan om nie eiemagtig op te tree uit wraak nie, maar eerder met die polisie in verbinding te tree,” sê Ledwaba. “Ons sal seker maak die oorblywende verdagtes word vasgetrek en dat hulle aan die pen ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theo

Terrorisme…???

Marius

Ek neem aan hulle is nog steeds in die tronk sonder borg? Wat van terrorisme of tel dit nie vir hulle nie ?

Persheks Adri

Hierdie klink meer soos terrorisme sou ek sê! Gaan hulle ook borg geweier word en moet wag vir papier werk vir terrorisme huh?

Tino

Alles op hoorse van ‘n sangoma…?

JohanF

Ja, Suid Afrika…… Mbeki Cele, gaan jy ń draai daar maak….????