Eiendomsagent in hof oor bedrog

Annica van Staden (Foto verskaf)

Annica van Staden (46), wat daarvan beskuldig word dat sy laekoste huise sonder die medewete van die eienaars verkoop het, het in die Lydenburg-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.

Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, sê Van Staden het Woensdag in die hof verskyn. Sy bly in aanhouding tot 19 Mei vir haar aansoek om borgtog.

“Sy het Dinsdag ook in die Middelburg-landdroshof verskyn saam met haar medebeskuldigde, Fotoboy Makua. Makua is vrygelaat op borgtog van R7 000. Die saak teen die twee is tot 1 Junie 2021 uitgestel vir verdere ondersoek,” het Sekgotodi gesê.

Dié huisagent is aanvanklik in Augustus 2019 in Protea Glen in Soweto in verband met ʼn bedrogklag aangekeer. Sy is op borgtog vrygelaat en die saak is tot November verlede jaar uitgestel. Sy het egter daarna spoorloos verdwyn en ʼn lasbrief vir haar inhegtenisneming is uitgereik.

Toe die Valke in April vanjaar ʼn versoek gerig het vir enige inligting oor waar Van Staden haar moontlik bevind, het hulle ʼn wenk van die publiek ontvang en sy is kort daarna in Boksburg in Gauteng aangekeer waar sy oënskynlik geskuil het. “Sy is gevind met haar tasse gepak en reg om te vlug,” het Sekgotodi vroeër gesê.

Volgens die polisie het Van Staden tussen Oktober 2014 en Julie 2015 ʼn geregistreerde onderneming met die naam Housing First Property in Mpumalanga gehad. Haar modus operandi was om teruggenome huise, private eiendomme asook Herbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP)-huise in Middelburg, Witbank, Secunda en Kriel te verkoop. Dié eiendomme was glo nie te koop toe sy dit aan kliënte verkoop het nie.

Om die transaksie te finaliseer moes kopers ʼn deposito vir die eiendomme in Van Staden se onderneming se trustrekening betaal. Sy het nooit die eiendomme op die kopers se name oorgeplaas nie. Die kopers is met huislenings gelaat, maar geen eiendom om daarvoor te wys nie.

Die verdagte het na bewering geld aan ander eiendomsagente wat sy in diens geneem het, oorbetaal, hoewel nie een van hulle, ook die verdagte, by die Raad vir Eiendomsagentskappe geregistreer was nie.

Verdere ondersoek het haar ook met ander sake van bedrog ten bedrae van sowat R184 000 verbind. Die sake – altesame 36 – is aanhangig gemaak in die omgewing van Orange Farm, Mbombela (Nelspruit), Mashishing (Lydenburg) en eMkhondo (Piet Retief).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Die swartman kry borg maar die wit vrou bly agter tralies… Hoe dan anders?

Blikkies ·

Hennie, sy het dan haar vorige borg voorwaardes oorskry en weggehardloop?

Rian ·

As die staat maar net alle oortreders met dieselfde ywer as blankes wil vervolg ,sal hulle baie nuwe tronke moet bou.

ES ·

Sjoe as jy skelm is, is jy skelm, die vrou het net gelieg en bedrieg sover as wat sy gaan.

Ek wonder hoe dink sulke mense hulle kan daarmee wegkom?
Sy moes mos geweet het iemand gaan haar aangee vir bedrog? Wat het sy gedink?

Genis ·

Is dit n Oros mannetjie wat voor loop of n fikse polisieman? Sy moet boet vir haar dade…

Grassie ·

Ek het min simpatie. Ek was nog net twee keer in my lewe skandelik verneuk en in albei gevalle deur eiendomsagente.

E ·

My ondervinding met hulle was ook suur. ek hoop sy kry sommer 25 jaar. haar sort moet weggehou word van hardwerkende, eerlike en desperate mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.