Eiendomsagent kom op bejaarde se liggaam af

Foto: Tonja Ellman/Verskaf

Foto: Tonja Ellman/Verskaf

‘n Eiendomsagent het op die liggaam van ‘n bejaarde man afgekom nadat hy moontlik vir langer as twee weke dood in sy huis in Welgelegen in Kaapstad gelê het.

Tonja Ellman, ‘n eiendomsagent in die omgewing, het aan Maroela Media gesê sy het die afgelope paar weke verskeie kere by die huis verbygery aangesien sy ‘n huis daar naby bemark het.

Ellman sê sy het telkens opgemerk dat daar honde in die huis is wat op die vensterbank staan en blaf.

Ellman sê sy het eendag voor die huis stilgehou om ‘n oproep te maak en dat die honde so hard geblaf het dat sy haar motor se venster moes toemaak om die persoon met wie sy op die foon was te kon hoor.

Ellman het Donderdag besluit om by die huis stil te hou en uit te vind hoekom die honde altyd in die huis is.

“Ek het die klokkie gelui en aan die deur geklop maar daar was geen antwoord nie. Ek het deur die vensters geloer aangesien die gordyne oop was. Die honde het geblaf en ek het ‘n mens se been op die grond sien lê. Ek was nie seker of dit ‘n prostese of ‘n regte been was nie.”

Foto: Tonja Ellman/Verskaf

Foto: Tonja Ellman/Verskaf

Ellman is terug kantoor toe en het een van haar kollegas gevra om saam met haar na die huis te gaan. “My kollega het ook deur die venster geloer en gesê dit is ‘n mens se been. Ons het die polisie en die DBV ontbied.”

Ellman sê die polisie en nooddienste op die toneel het aan haar gesê die man se liggaam is in die gang aangetref. Hy het tekkies aangehad maar geen klere nie. Ellman sê die troeteldiere in die huis het aan die man se liggaam begin vreet.

“Ek kan nie help om te wonder hoe lank hy daar in pyn gelê het voor hy dood is nie?”

Lt. Kevin Williams, woordvoerder van die polisie, het intussen aan die TygerBurger gesê dat daar geen geforseerde toegang tot die huis was nie en dat die polisie geen vuilspel vermoed nie. Die oorledene is geïdentifiseer as die 74-jarige Eben Muntingh. Hy het alleen gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anita ·

Dit is tragies, was hy getroud? het hy kinders gehad? of was hy net vergete. Wat was die kontak met die bure?. Dit is ‘n feit dat bure nie meer aandag gee aan mekaar nie veral as dit jonger persone langs ouer mense. Ons Afrikaners staan in isolasie van mekaar. As jy nie diesefde verdienste het as jou bure nie word dit ‘n sosiale skeiding. Wanneer ek hierdie soort berigte lees is my oortuiging dat ons NOOIT ‘n saam staan groep kan word nie en as dit nie was vir Solidariteit se aksies in sommige sake kan ons maar ons kultuur groep afskryf.

Ek voel diep geraak oor die eensame dood.

Sharri ·

Ek is so jammer vir Eben Muntingh. Dit is verskriklik om alleen te bly. Die bure langsaan het gese hy was lief vir sy diere. Ek sal nooit alleen bly nie en sal eerder loseerders invat sodat daar altyd iemand wat by die huis is ingeval so iets gebeur. Dit is hartskeurend om te hoor dat sy geliefde diere aan hom moes eet om aan die lewe te bly. Dit is nie hulle skuld nie. Dit is tragies! Die bure moes geweet het dat hy ‘n bejaarde man is wat op sy eie bly en moes goeie bure gewees het. Kan iemand se wat gaan met sy honde en kat by die SPCA gebeur? Waar is sy familie? Daar was ‘n berug dat hy ‘n ouer broer in Prieska het. Waar is sy vriende, kerk vriende? Was daar regtig niemand wat vir hom omgegee het? Ken niemand vir sy broer nie wat hulle mening wil se nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.