Eiendomsagent vas oor bedrog in Durban

Argieffoto (Foto: Nattanan Kanchanaprat/Pixabay)

ʼn Vrou is in Durban in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met verskeie aanklagte van eiendomsbedrog.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die 39-jarige vrou is in Effingham-omgewing in hegtenis geneem op aanklagte dat sy tussen September 2018 en Oktober 2019 valslik woonstelle te koop aangebied het.

“Sy het onderneem om die hele proses te fasiliteer vir persone wat belang gestel het om ʼn eiendom te koop,” het Gwala verduidelik. “Die vrou het dan na bewering die slagoffers versoek om groot bedrae deposito’s in haar bankrekening in te betaal.”

Die vrou is ʼn voormalige werknemer van ʼn eiendomsagentskap waar sy verantwoordelik was vir die bestuur van huurwoonstelle. Sy het glo ook vervalste kontrakte opgestel wat slagoffers onderteken het.

“Die vrou was hoofsaaklik aktief in Lamontville, Berea, Umbilo, KwaMakhutha en Isipingo. Sy het na bewering sowat R1,2 miljoen verduister. Sy sal na verwagting Woensdag in die Durban-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte van bedrog.”

ʼn Onlangse verslag deur PwC het gewys dat Suid-Afrika ʼn afname beleef het in witboordjiemisdaad, alhoewel die monetêre waarde daarvan toegeneem het. Volgens die 2020 Wêreldwye Ekonomiese Verslag het die land sowat $1,7 miljard (R29,3 miljard) verloor weens bedrog. “Alhoewel meeste gevalle van bedrog in Suid-Afrika afgeneem het, het gevalle van die topdrie tipes bedrog toegeneem, tesame met kubermisdaad,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Lyk my sy gaan nou ‘n 4 x 4 gevangenis sel eienDOM kry saam met 20 maats!

Jakes ·

Die vrou het maar net die kultuur van korrupsie en bedrog uitgeleef want dit is die norm wat al vir dekades in SA gestel word en niemand gaan tronk toe daarvoor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.