Eiendomsmagnaat sterk aan na aanval by Pta-winkelsentrum

Cosmas Cavaleros. Foto: Flickr/Mary Ann Hutchison.

Cosmas Cavaleros. Foto: Flickr/Mary Ann Hutchison.

Cosmas Cavaleros, eiendomsmagnaat en hoof van The Calaveros Group, sterk aan in die hospitaal ná hy Sondag by ʼn winkelsentrum, in die ooste van Pretoria, se parkeerterrein aangeval is.

Leila Daya, woordvoerder vir die familie, het aan Maroela Media gesê dit gaan beter met Cavaleros. “Hy toon tekens van beterskap, hy is steeds in ʼn kritieke toestand, maar baie meer stabiel as Sondag ná die voorval.

Hy en ʼn passasier het Sondagmiddag in die parkeerterrein van Menlyn Maine in sy Bentley gewag vir ʼn parkeerkaartjie, toe drie mans hulle na bewering genader en vuurwapens op hulle gerig het.

In ʼn poging om te probeer vlug het Cavaleros vinnig weggery en in ʼn valhek vasgejaag. “Terwyl die rowers die vuurwapens op hulle gerig het, het Cavaleros deur die valhek gejaag in ʼn muur vas. Die lugsakke het toe geaktiveer. Die rowers het probeer om juwele van die ander insittende te verwyder, maar is gesteur en het gevlug”.

Volgens Daya het ʼn omstander noodbehandeling toegepas terwyl hulle op die ambulans gewag het. Veiligheidspersoneel en familielede is na die toneel ontbied. Cavaleros is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal in Pretoria gehaas.

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media, gesê die voorval het Sondagmiddag tussen 12:00-13:00 gebeur. “Ons is self nie doodseker wat gebeur het nie en ons doen ʼn beroep op die gemeenskap of enigiemand met meer inligting om dit asseblief by die Brooklyn-polisiestasie aan te meld.”

Daya het gesê die Cavaleros-groep waardeer die boodskappe en oproepe vir beterskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Vraag is: Het hulle geweet wie hy is of was dit net toevallig hy?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.