Eiendomswaardeerder vas oor miljoene rande ‘bedrog’

Herman Mashaba. Foto: Reint Dykema

Herman Mashaba. Argieffoto: Reint Dykema

Die Stad Johannesburg het Woensdag gesê dat een van sy voormalige eiendomswaardeerders, Mbali Maclare, in hegtenis geneem is vir beweerde bedrog en korrupsie van byna R500 miljoen.

Dit volg nadat ʼn insetsel op 6 November verlede jaar op Carte Blanche uitgesaai is oor onreëlmatighede in die uitvoer van Johannesburg se eiendomswaardasies. Die onreëlmatighede word glo in ʼn verslag ontmasker wat in 2015, onder die vorige administrasie, gefinaliseer is.

Die Stad Johannesburg het in ʼn verklaring gesê die stadsraad het die bewerings in die Carte Blanche-insetsel opgevolg deur sy interne forensiese ondersoekeenheid, onder leiding van genl. Shadrack Sibiya, ʼn afsonderlike ondersoek te laat doen. Volgens die verklaring is Maclare geïdentifiseer as die persoon wat onreëlmatige en bedrieglike aanpassings en devaluasies van 22 eiendomme in Johannesburg gedoen het ten bedrae van net minder as R500 miljoen.

Die Stad het gesê die bedrieglike aanpassings en verandering van die markwaarde van die eiendomme deur ongeldige uitslagbriewe van munisipale besware het gelei tot die verlies van ʼn geskatte R40 miljoen erfbelasting oor die vyf finansiële jare.

Maclare sal na verwagting Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie en nog inhegtenisnemings sal binnekort volg. ʼn Adjunkdirekteur van die Stad, wat ook in die Carte Blanche-insetsel ontmasker is, is ook geskors hangende ʼn dissiplinêre proses.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het die bedrieglike eiendomswaardasies in die stad veroordeel en gesê sy administrasie is vasbeslote om korrupsie uit te roei. Hy het gesê hierdie geld kon vir broodnodige basiese dienste, soos water, elektrisiteit en vullisverwydering, aangewend word om arm en weerlose inwoners te help.

“Dit is ʼn skande dat hierdie forensiese verslag, soos soveel ander, net verdoesel is deur die vorige administrasie in ʼn poging om dit uit die openbare oog te hou,” het Mashaba gesê. “Die eerste wat ek daarvan te hore gekom het, was toe Carte Blanche dit onder my aandag gebring het. Ten spyte daarvan dat hierdie verslag vir my weggesteek is, is ek bly om te kan sê dat die nuwe administrasie onmiddellik opgetree het.”

Mashaba het Sibiya en sy span gelukgewens, asook die SAPD en die vervolgingsowerheid bedank wat die ondersoek ondersteun het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hennie ·

Wel gedaan Mashaba, jou teenwoordigheid bring lig in ‘n land waar ANC korrupsie algemeen geword het.

Melt Olckers ·

Baie dankie Herman Mashaba en Genl Shadrack Sibiya. Julle is sterre.

Die Afrikaner ·

Welgedaan. Wens ons het nog 1000 Mashaba wat al die korrupte munisipaliteite kan regruk!

wilma ·

Mnr Mashaba jys n ster. Dai skelms hoort ini tjoekie vi life

Wicus Jansen Van Vuuren ·

Net nog ‘n pluimpie vir die ANC se swak leierskap en korrupsie.

Well done ·

Well done Herman Mashaba, jy kon nie in n beter tyd ingekom het nie, vat hulle vas. Well done Generaal aan jou en jou span in n tyd waar die Polisie skerp kritiek kry, bring jy vertroue en verligting. Roei hulle uit, dat gewone arm mense ook basiese dienste kan kry!

Snuffels ·

Well done (Ry jy ‘n Kuga?)

Die generaal is afgedank, en toe deur Herman aangestel by COJ om forensiese ondersoeke te lei….

Maar Well done!

lettie ·

Herman Mashaba ek het die grootste respek vir jou. Baie goeie werk. Mag God jou seen en ek bid gereeld dat God se beskermengele jou beskerm. Dit kos n dapper man soos jy om te doen wat jy doen. Ons kort meer ware manne soos jy in SA!

Scalla ·

Wys die ander hoe word dit gedoen Herman, jy gaan ver kom op n eerlike wyse.

Jean ·

Haai nee hulle kan mos nie skelm wees nie, soos hulle nie rassisties kan wees nie. Die storie moes ook eers by Carte Blanche draai voordat dit aandag gekry het, anders is dit weer onder die mat ingevee. Go Herman Mashaba, ek is net so geskok dat die vorige administrasie dit toegesmeer het.

Rika Smith ·

Kan ons groot ASSEBLIEF Herman Mashaba kry vir president?

Pieter Ellis ·

Dit sal die leiers in Gauteng se metro baie baat om n spesifieke afdeling vir n tydperk te stig, om alle dokumentasie deur te gaan om hierdie tipe korrupsie en bedrog van die ANCircus se tydperk in bewind na te gaan. Ek kan n belangrike deel op die tafel plaas, want ek is seker dat daar baie sulke gevalle oopgevlek sal word.

Cherokee ·

Jislaaik julle kan oordryf met dankbetuigings as iemand bloot doen waarvoor hy betaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.