Eiendomverkopers kan dalk só deposito’s vinniger terugkry

(Foto: Schluesseldienst/Pixabay)

ʼn Voorstel van die VF Plus aan die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit se finansiële komitee vir die skep van ʼn aparte bankrekening waarin eienaars wat hul eiendomme verkoop se verpligte dienstegeld-deposito inbetaal word, kan help dat eiendomtransaksies vinniger afgehandel word.

Eienaars wat eiendomme verkoop, word deur wetgewing verplig om ʼn sekere bedrag geld in die munisipaliteit se rekening in te betaal om so voorsorg te tref vir die verhaling van alle agterstallige dienstegeld.

“Terugbetalings deur die munisipaliteit kan meer as ʼn jaar sloer omdat elke keer wanneer die munisipaliteit se bankrekening deur ʼn hofbevel gevries word, al die geld deur die aansoeker uit die rekening onttrek word,” sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit. “Wanneer die rekening weer aktief is, neem dit maande voordat daar genoeg geld is om betalings te maak.”

Die VF Plus se voorstel is vir die skep van ʼn aparte rekening waar slegs deposito-inbetalings gemaak word om te verseker dat terugbetalings vinniger geskied.

Die VF Plus is aktief besig om alles in sy vermoë te doen om die Emfuleni-munisipaliteit onder die ANC-regering te help om alternatiewe planne te beraam om die munisipaliteit uit sy rommelstatus te lig.

“Dit is veral belangrik om seker te maak dat belastingbetalers se belange eerste gestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Wat n skande, enorme buitensporige salarisse word eerste betaal, Hou erf belasting terug sodat daar nie geld beskikbaar is nie?

Estelle ·

Soms kry mens glad nie jou deposito terug nie. Ek wag al 10 jaar vir myne van Witbank munisipaliteit. Iemand het seker daarmee n bonus gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.