Eiertekort staar Wes-Kaap in die gesig

Eiers (Foto: Pixabay)

Die Wes-Kaapse regering het Vrydag gesê ʼn erge tekort aan eiers staar inwoners van dié provinsie in die gesig weens voortgesette voëlgriep onder hoenders.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, sê dié tekort geld vir die hele Wes-Kaap weens die provinsie se gesondheidspanne wat voëlgriep die stryd aansê.

“Die tekort was onvermydelik gegewe die omvang van die voëlgriep-uitbreking. Ons doen wat ons kan om die bedryf so gou moontlik te herstel,” het Bredell gesê.

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, het in ʼn verklaring gesê die getal voëlgrieplyers staan in dié stadium op 56.

Volgens Winde is 2,7 miljoen hoenders weens die virus van kant gemaak, waarvan sowat 2,6 miljoen lêhoenders was.

“Daar is net meer as 4,2 miljoen lêhoenders in die Wes-Kaap, wat beteken dat ons 63% van ons hoenders verloor het wat veronderstel was om eiers te lê,” het hy in die verklaring gesê.

Talle Gauteng-boere het weer hul boerderye begin voortsit nadat die virus nie meer in dié provinsie opgemerk is nie. Wes-Kaapse boere word egter steeds ten sterkste afgeraai om nuwe hoenders in te neem omdat dié virus nog nie uitgewis is nie.

Winde het gesê nagenoeg 144 volstruisplase is tans onder kwarantyn, maar geen volstruise is in dié stadium weens voëlgriep van kant gemaak nie.

Die Wes-Kaapse provinsie ly na raming ʼn verlies van R900 miljoen weens die virus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wonder maar net ·

Iewers is daar groot fout in die wes Kaap. As dit nie water tekort is nie, dan is dit eiers. Ons is amper te bang of te vra wat is volgende.

CHRISTA ·

Ek wil weet waar kom hierdie voëlgriep skielik vandaan? Wilde voëls was al vir duisende jare meet ons. Ek dink die departement van landbou moet ‘n bietjie die mense wat so oor en weer oor ons grense kom dophou – veral van Zimbabwe. Meeste van hulle is van die landelike gebiede en bring soveel moontlik van hulle eie vleis ons land in na hulle vakansies of naweekbesoeke. Daarmee bring hulle ook die virusse oor!!

snoefie ·

of amerika sit weer met n surplus wat niemand wil hê nie.

Leahim ·

Die weskaap is die beste provinsie in Suid Afrika maar die ongeluk tref hulle aanhoudend.

Eier ·

Net die Wes-Kaap, ek dink dis alreeds die hele anc-gebied. Moet net nie jou eie hoendertjie se eier eet want jy sal moet registreer soos eishkom nou wil maak met sy ‘elektricity’.

Gideon ·

Mmmm….verwoestende brande…..watertekort…..siektes…..en nou aanvalle op plase in Weskaap….verwoesting van infrastruktuur soos treine…..wonder maar net….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.