Eilandman dra nou Wayde se Olimpiese kroon

Steven Gardiner op pad na Olimpiese glorie. Foto: Jewel Samad/AFP.

Die Olimpiese 400 m-titel het sy pad van Suid-Afrika na die Bahamas gevind. Steven Gardiner swaai nou die Olimpiese septer in dié item nadat hy pas die eindronde in Tokio met ʼn tyd van 43.85 sekondes gewen het.

Die 25-jarige atleet beleef ’n droomlopie sedert hy by die Wêreldkampioenskap in 2017 teen Wayde van Niekerk vasgeval het. Sedert daardie wedloop was hy in 20 van sy 23 wedlope eerste oor die wenstreep; in die ander drie het beserings hom gekniehalter.

Maar vandag se eindronde was Van Niekerk-loos nadat die wêreldrekordhouer en verdedigende Olimpiese kampioen in die halfeindronde uitgeskakel is.

Gardiner was ook eerste in sy halfeindstryd-lopie. Foto: Jewel Samad/AFP.

Gardiner het daardie einste lopie met sy tyd van 44.14 sekondes gewen; daarteenoor het die Suid-Afrikaner kwaai stoom teen die einde verloor en hy het uiteindelik vyfde oor die wenstreep gehardloop.

Die man van die Bahamas se gouemedaljepoging was sy vinnigste 400 m-lopie van die jaar, terwyl Anthony Jose Zambrano (44.08 sekondes) en Kirani James (44.19) onderskeidelik tweede en derde geëindig het.

James het nou al elke moontlike Olimpiese medalje gewen. Hy was die kampioen in Londen, terwyl hy by die 2016 Spele in Rio de Janeiro die silwer medalje ingeoes het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.