Einde aan Pikitup-staking dalk in sig

Pikitup-werkers het tydens hul staking in Maart 2016 vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Pikitup-werkers het tydens hul staking in Maart 2016 vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Die Stad Johannesburg het Woensdag gesê hy hoop om teen die einde van die week ʼn ooreenkoms met die stakende werkers van Pikitup, die stad se vullisverwyderingsmaatskappy, te bereik.

Die stadsraad het Woensdag vergader op ʼn dringende versoek van die DA se koukusleier in Johannesburg, Vasco da Gama, om ʼn oplossing vir die staking, wat al meer as vier weke lank voortsleep, te bespreek.

Ongeveer 4 000 Pikitup-werkers verbonde aan die munisipalewerkersvakbond, Samwu, staak al sedert 9 Maart. Hulle eis dat hul lone van R6 000 na R10 000 per maand verhoog word en dat Pikitup se besturende direkteur, Amanda Nair, afgedank word.

Matshidi Mfikoe, ʼn burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en infrastruktuur, het Woensdag gesê gesprekke tussen die Stad, Pikitup en Samwu is steeds aan die gang na aanleiding van ʼn proses wat deur die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) begin is om die saak te bemiddel.

“Ons hoop, as alles goed gaan, dat die staking teen Vrydag tot ʼn einde sal kom. Ons hoop dat die bemiddelingspan daarin sal slaag om ʼn oplossing te vind, maar ons kan nie bekendmaak hoeveel ons sal bewillig voordat dit aan al die partye voorgelê en aanvaar is nie,” het Mfikoe gesê.

Mfikoe het by ʼn mediakonferensie in Braamfontein, Johannesburg, gepraat. Parks Tau, die burgemeester, het ook die media toegespreek en gesê die Stad kan nie verhogings van R10 000 per maand bekostig soos wat Samwu eis nie. Samwu eis dat hierdie verhoging vir alle entiteite van die Stad moet geld.

“Ons berekeninge is dat dit R1 miljard per jaar sal kos aan Pikitup-salarisse en R3,4 miljard per jaar vir verhogings oor al die stad se entiteite, het Tau gesê. Hy het bygevoeg dat die probleem reeds in 2011 begin het toe die Stad 1 500 werkers moes inneem wat voorheen in die diens van kontrakteurs was.

Op ʼn vraag hoeveel Pikitup tot op hede aan privaat kontrakteurs moes bestee sedert die staking begin het, het Tau gesê hulle wag vir die kosteberekening, maar is beslis bekommerd oor die gevolge van die staking. “Onthou dat die R1 miljoen wat daagliks bestee word [aan privaat kontrakteurs] gebalanseer word met die ‘geen werk geen betaling’-beleid wat van toepassing is op stakende werkers. Die Stad en Pikitup is steeds finansieel stabiel,” het hy gesê.

Dit is die vierde staking deur Pikitup-werkers sedert November 2015 oor dieselfde redes.

Die Stad Johannesburg het Vrydag gesê hy is bekommerd oor die gesondheid- en omgewingsimpak van die staking nadat ʼn dooie rot positief getoets is vir latente pessiekte. Pikitup het intussen ʼn beroep op Johannesburg-inwoners, besighede, skole en motoriste gedoen om hul vullis in sakke toe te bind om gesondheidsrisiko’s te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

Na die staking – gaan hulle vir lank “pick-it-up”. Eintlik vir hulself baie werk gemaak.

Marous ·

Steeds die raad se verantwoordelikheid. Gooi die gemors voor hul deure..

Francie ·

Dit staan sekerlik enigeen vry om self die verantwoordelikheid te aanvaar en sy eie vullis te verwyder. Ek dink dis dom om jou eie vullis voor jou deur te sit en maar te hoop dit verdwyn; die probleem word net groter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.