Einde dalk gou in sig vir stadige internet

Die Leon Thevenin. Foto verskaf deur Openserve.

Herstelwerk kan moontlik teen die einde van die week begin aan die twee ondersese kommunikasiekabels wat internetverbinding na Suid-Afrika bring.

Die SAT3/WASC- en Wacs-kabels het Donderdag amper gelyktydig gebreek en sedertdien is daar ʼn ernstige vermindering in internetspoed in Suid-Afrika. Dit het ook ʼn impak op internasionale stemoproepe en roaming.

Volgens Openserve, Telkom se afdeling vir infrastruktuurvoorsiening, is die span wat die kabels moet gaan herstel aan boord die Leon Thevenin. Dié skip is ’n geskikte onderwaterkabelontplooiing- en onderhoudsvaartuig wat deur hoogs bekwame tegniese personeel beman word.

Die stormsterk suidooster het einde verlede week en oor die naweek verhoed dat die skip gereed kon maak om die Kaapse hawe te verlaat. Daar is intussen begin om al die nodige toerusting op die skip te laai en dit word verwag dat die proses teen vanaand voltooi sal wees waarna die skip kan vertrek na die gebied waar die kabels gebreek het.

Daar sal egter meer duidelikheid wees oor die skip se roete en vertrek- en aankomstye sodra die laaiproses afgehandel is. Wanneer die skip sy bestemming bereik, sal die bemanning eers die skade aan die kabels bepaal waarna die skedule vir die herstelwerk bekend gemaak sal word.

Die kabels wat geraak word, lê in die Atlantiese Oseaan en verbind Suid-Afrika en talle ander Afrika-lande met Europa. Die Wacs-kabel kom Suid-Afrika by Yzerfontein binne, terwyl die SAT3/WASC-kabel die land by Melkbosstrand binnekom.

Telkom, deur middel van Openserve, en baie ander Suid-Afrikaanse en internasionaal-gelisensieerde operateurs besit aandele in hierdie kabels. Die kapasiteit wat groothandeloperateurs besit, word verkoop aan internetdiensverskaffers en ander rolspelers in die bedryf wat internasionale internetverbinding nodig het.

Die ondersese kabelstelsels word deur ʼn konsortium bedryf en die subkomitees vir onderhoud en bedrywighede van hierdie konsortiums is verantwoordelik vir die herstelwerk.

Talle internetdiensverskaffers het intussen bykomende kapasiteit van ander partye af aangeskaf om die uitwerking op diensverskaffing te probeer verminder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marie ·

Telkom is treurig, Sondag het weerlig die Telkom kabel wat in my huis se dak ingaan middeldeur geslaan en vir my groot skade veroorsaak, Maandag by hul kantoor gaan rapporteer, maar hul kan nie uitkom nie, want hul soek die stukkende ‘”lyn”, hul gese die stukkende lyn is in my erf, maar hul kan dit tot vandag toe nie “kop” nie – en dit is Telkom, g’n wonder die diens is so vrot nie!

Henk ·

Internet stadig? Nie eers agter gekom nie, by MTN is ons seker al gewoond daaraan

bekommerde stem ·

hoe kan die kabels stukkend raak, is daar onderwater skelms daarvoor

Nel ·

Jaws het seker aan die kabels geknibbel – verstaan haaie is soms verantwoordelik vir skade aan onderseese kabels. Die elektromagnetiese seine wat die kabels vrystel trek hulle glo aan om te proe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.