Einde in sig vir e-tol?

e-toll

(Argieffoto)

Gauteng se e-tol-stelsel strompel voort en die algehele ineenstorting daarvan blyk in hierdie stadium bykans onvermydelik te wees.

Wayne Duvenage, verbonde aan die drukgroep Outa, sê tans betaal net 18% van e-tol-gebruikers hul rekeninge; ʼn beduidende daling van die 23% van gebruikers wat dieselfde tyd verlede jaar nog hul rekeninge vereffen het.

“Die koste van insameling word kwalik gedek en vir skemas soos dié om te slaag, moet voldoening meer as 90% wees,” sê hy.

Duvenage sê oor hoekom die stelsel nog nie geskrap is nie – daar was uit die staanspoor enorme teenkanting daarteen – kan net bespiegel word. “Ek neem aan daar is mense wat nog voordeel trek uit die opbrengs, dit kan dalk een van die redes wees, maar die stelsel self maak nie vir die regering een sent nie.”

Die e-tol-kontrak met Electronic Toll Collection (ETC) is pas weer met ʼn jaar verleng nadat dit op 2 Desember verstryk het.

Outa het die wettigheid van e-tolinsameling van 3 Desember bevraagteken omdat ETC se kontrak, selfs met ʼn twee jaar verlenging daarvan, steeds op 2 Desember verval het. Sanral het egter gesê hy het die kontrak reeds tot 2 Desember volgende jaar verleng en dat dié besluit wettig is.

Argieffoto van protesgangers op ‘n brug oor die N1 in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Outa verduidelik daar is drie hoofkontrakte vir die bedryf van die e-tol-stelsel: Open Road Tolling (OTC), Transaction Clearing House (TCH) en die Violation Processing Centre (VPC). Volgens Outa is die oorspronklike kontrakte in 2009 onderteken, maar werk is eers op 3 Desember 2013 begin, toe die stelsel die eerste keer aangeskakel is.

Die ORT-kontrak was vir agt jaar en die TCH- en VPC-kontrak vir vyf jaar elk. Laasgenoemde twee kontrakte kon glo vir nog twee jaar hernieu word, maar selfs dan het die kontrakte vroeër vandeesmaand verval.

Outa sê Sanral het egter die kontrakte in 2017 gewysig en na ses jaar lange ooreenkomste verander. Daar was ook die opsie om vir nog een of twee jaar te verleng. Volgens die organisasie beteken dit die maksimum lengte vir al drie kontrakte duur tot 2 Desember volgende jaar.

Maar nie eens Desember volgende jaar is noodwendig die einde van die pad vir ETC nie. Sanral se tenderdokumente vir ʼn nuwe kontrak bevat verwysings na ʼn sogenaamde oorgang-subkontrakteur, wat ook die aangewese kontrakteur is, wat weer vir nog 21 maande of langer aangestel kan word om met die oorgangsproses te help.

Die DA sê vir dié party is die hernuwing van die kontrak ʼn aanduiding dat die ANC-regering geen voorneme het om die stelsel enigsins binnekort te skrap nie en dat die regerende party leë beloftes maak wanneer hy sê daar word na die saak gekyk.

“Dit is nou meer as ʼn jaar sedert pres. Cyril Ramaphosa aangedui dat die kabinet ʼn besluit oor die toekoms van e-tol gaan neem – maar ons wag steeds op ʼn besluit,” het Fred Nel, die DA se woordvoerder oor paaie en vervoer, die afgelope week gesê.

(Foto: ANA)

Nel meen dit is onaanvaarbaar vir die regering om mense oor die saak te mislei, terwyl hy goed weet daar is geen bedoeling om ʼn alternatief vir die gewraakte stelsel te vind nie.

“Die inwoners van Gauteng het dit duidelik gemaak dat hulle nie bereid is om vir e-tol te betaal nie, omdat dit nie iets is waaroor met hulle beraadslaag is voor dit in werking gestel is nie. Gegewe die huidige ekonomiese klimaat, is tol ook nie iets wat inwoners in Gauteng kán betaal nie.”

Nel sê die stelsel plaas ʼn onregverdige belastinglas op Gautengers en daar is vantevore reeds voorgestel dat ʼn gedeelte van die belastingheffing gebruik word om die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek te finansier.

Hy sê pleks hiervan word die belastingheffing gebruik om staatsbeheerde ondernemings uit die moeilikheid te help.

Duvenage sê hy meen Sanral het vrede gemaak met die feit dat die stelsel eenvoudig nie gaan slaag nie. “Burgerlike opstand daarteen het die stelsel in duie laat stort. Boonop behels dit wetgewing wat bloot nie afgedwing kan word nie.”

(Argieffoto: SAPA)

Die Vereniging vir Kredietburo’s het verlede jaar gesê verbruikers se kredietrekords sal nie negatief geraak word weens agterstallige e-tol-skuld nie. Dít nadat die e-tol-invorderingsmaatskappy gedreig het dat padgebruikers geswartlys gaan word as hulle nie die skuld begin betaal nie.

Die vereniging het destyds gesê daar is spesifieke wetgewing wat die heffing en insameling van e-tol uit die bepalings van die Kredietwet sluit. Indien e-tol-skuld dus foutief teen ʼn verbruiker gehou word, sal die inskrywing verwyder word.

Sanral het in Maart verlede ook aangekondig dat hy die proses om e-tol-skuld in te vorder, opgeskort het. Dit het ingesluit historiese skuld en dagvaardings wat sedert 2015 aangevra is. Die agentskap het ook aangedui dat nie vir nuwe dagvaardings gaan vra nie.

Die DA het Ramaphosa vroeër reeds gevra om as ʼn saak van dringendheid oor die e-tol-kwessie te besluit, veral vóór die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe-wet (Aarto) in Julie volgende jaar in werking tree.

Duvenage sê die elektroniese invorderingstelsel kan op ander plekke doeltreffend gebruik word as die e-tol-stelsel geskrap word. Dit kan onder meer ingespan word om by ander tolhekke, parkeergarages, of vir busse, taxi’s of die Gautrein te betaal. Hy sê daar is talle geleenthede om dit deel van ʼn geïntegreerde betaalstelsel te maak.

Die departement van vervoer het nog nie op navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Grassie ·

Dit is duidelik dat die E-tol gaan sneuwel maar nou wonder ek wie die reuse lening wat hulle by die Staatsdienspensioenfonds aangegaan het, gaan terugbetaal.

Stof ·

Die etrolle van scamral se dae is getel. As hulle van die begin af ‘n billike konsultasieproses gevolg het, sou hulle dalk wel ondersteuning gekry het. Maar ouboet boelie toe vir kleinboet met (e)trol maak vir baba bang. Hierdie keer, het baba egter nie geskrik nie,

Essie ·

En die mense wat e-tol so getrou betaal het gaan seker nou hulle eie alies skop..

Fritz ·

Party mense is maklik intimideerbaar. Te bang om die regering teen te gaan. Dan is daar ook die “goody two shoes” groep wat tog so graag alle wette gehoorsaam. Beide groepe sal met die volgende scam ook gevang word.

JohanR ·

They call it people power. Nie bereid om vir ietsie te betaal wat taxis’s nie voor betaal nie. Hier in die Kaap het die DA ScumRail hof toe gevat oor die e-tol pad deur die wynlande en die saak gewen.

4ntj13 ·

Dis soos om appels ekstra te belas sodat pere beter verpakking kan kry. Waar is inisiatiewe heen om verkeersdruk daar te verlig? Ek dink daar is bykomende motiewe om mense op snelweë af te neem en te identifiseer. Motiewe wat nie met die publiek bespreek kón word nie. En dit het die effek dat dit lyk of stadsbeplanners en ander regeringsinstansies wil nie die verantwoordelikheid aanvaar om genoeg infrastruktuur te bou of in stand te hou nie. Desentralisasie is deesdae ook maar net ʼn ou vloekwoord.

Sênet ·

Sien is glo. Wat hulle sê en wat hulle doen verskil by myle, so mens kan niks glo wat hulle sê of doen nie.

Phillip ·

Maak dit n spoed kammers kan meer geld in bring vir die staad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.